‘Panda’ wil nou wêreldwyd teen inperking veg

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Geldinsamelingsveldtog is van stapel gestuur om te help om die Suid-Afrikaanse organisasie Pandemic Data & Analytics, beter bekend as Panda, die “wêreldleidende organisasie teen grendelstate te maak”.

Piet le Roux, koördineerder vir die Business for Ending Lockdown en uitvoerende hoof van die organisasie Sakeliga, sê hulle hoop om R250 000 hiervoor teen 15 November in te samel.

Hy sê die fonds kom op ʼn tydstip wat verskeie Europese lande opnuut grendelstate instel en in dieselfde week wat die Suid-Afrikaanse minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, oor hernude plaaslike beperkings spekuleer.

“Grendelstate blyk aansteeklik te wees. Ondanks die feit dat sterftes as gevolg van Covid-19 ten minste ʼn ordegrootte minder is as die voorspellings waarmee die grendelstaat aanvanklik geregverdig is, bring verskeie regerings inperkings nou terug. Ons het Panda nodig – as ʼn interdissiplinêre voorspraakgroep – om hierdie tweede golf van grendelstate wat nou op baie lande toegepas word en die toenemende praatjies oor ʼn ‘nuwe normaal’ teen te werk. Dit het duidelik geword dat die terugkeer na goeie gesondheidsbestuur en ekonomiese stabiliteit internasionale koördinering vereis en Panda is hiervoor uitstekend geplaas,” sê Le Roux.

“Met sy eie geld en tyd het Panda die grootste voorspraak- en navorsingsorganisasie teen die grendelstaat in Suid-Afrika geword. Hy het die afgelope paar weke nuwe hoogtes bereik toe hy topkenners van Oxford, Harvard, Stanford en van oral oor die wêreld heen gewerf het. Hulle is nou die voorste span, internasionaal.

“Om sy internasionalisering van stapel te stuur, het hy teen 15 November R250 000 nodig. Dit sal nie genoeg wees om alles wat nodig is te doen nie, maar dit sal hom die vastrapplek gee om die gety teen grendelstate internasionaal te laat draai, ook in Suid-Afrika. Die geld sal vir sy aanvanklike bedryf-, navorsing-, logistieke en kommunikasie-uitgawes aangewend word,” sê Le Roux.

Die fondsinsameling word gedryf deur Business for Ending Lockdown, ʼn groep sakeorganisasies in Suid-Afrika. Die staan die beëindiging van die inperkingstyd, die opheffing van die ramptoestand en die omskakeling van alle regulasies na vrywillige aanbevelings voor.

Die organisasie sê hy verteenwoordig meer as 50 000 ondernemings en duisende meer wat individueel hul ondersteuning uitgespreek het.

Panda het intussen die afgelope week gesê oproepe vir die onderdrukking van debat oor internasionale reaksie op die pandemie het nou bykans koorsagtig geword. Dié oproepe is volgens die organisasie veral verskerp ná die Great Barrington Declaration. In dié verklaring spreek talle kundiges hul ernstige kommer uit oor die negatiewe fisieke en sielkundige uitwerking van die voortgesette Covid-19-beleide.

Panda sê ook daar is toenemende druk op mense uit verskillende professies wat hul kommer te kenne gee oor die beweerde oorhaastige inwerkingstelling van planne om die pandemie te stuit.

“Dat sulke stemme stilgemaak word, is ʼn groot tragedie. Wat hulle te sê het, kan talle lewens red,” het Nick Hudson, Panda-koördineerder, vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Riana

Gaan besoek libarty network se webblad. Hasn kyk die hofbevele wat klaar uitgereik is

Jan

it is hoog tyd dat realisme oor hierdie tragiese plandemie inskop.

Nico

Al een wat baat vind hierby is die ANC regering.

Robert

Go PANDA! Hoog tyd dat stemme opgaan teen inperkings.

Oom Hennie Pennie

Julle het my steun