Pandemie beïnvloed dalk algehele immuniteit

Daar is sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie ‘n uiters groot bewustheid onder gewone mense oor higiëne. (Foto: pixabay)

Hande was en ontsmetting is niks nuut nie – maar die Covid-19-pandemie het ʼn hiperbewustheid oor maatreëls geskep om die verspreiding van siektes te voorkom.

Of dit op lang termyn ʼn blywende uitwerking op mense se gesondheid gaan hê, is boonop ʼn saak wat kwaai debat veroorsaak.

Dr. Jacques Snyman, ʼn kenner in kliniese risikobestuur en mediese raadgewer vir die Health Squared- mediese fonds, sê daar kan moontlik onbedoelde gevolge vir mense se immuniteit wees wat spruit uit die enorme beweging na ontsmetting, die dra van maskers en ander maatreëls.

“Dit is onteenseglik só dat higiëne noodsaaklik is vir die voorkoming van die verspreiding van talle aansteeklike siektes, ook Covid-19.

“Ons het egter geen manier om met sekerheid te bepaal wat die uitwerking daarvan – hierdie ingrypende skuif na ontsmetting, sanitering en die uitwis van kieme – op die lange duur gaan wees nie,” sê Snyman.

Hy sê selfs voor die uitbreking van die pandemie is vrae gevra oor die toenemende gebruik van tuisontsmettingsmiddels en handsaniteerders. Een van die grootste vrae was of dit beskou kan word as ʼn moontlik ongesonde kiemfobie, of ʼn billike voorsorgmaatreël teen die gevare wat patogene en kieme in die algemeen inhou.

Sommige kenners meen ʼn oorywerige benadering tot higiëne kan moontlik mense se natuurlike weerstand bedreig omdat dit die liggaam se immuunstelsel ontneem van die geleentheid om kieme te herken en weerstand daarteen op te bou.

“Soos met Covid-19 is sommige mense oënskynlik meer kwesbaar vir sekere infeksies en is daar vir hulle ʼn groter gevaar wanneer hulle blootgestel word, terwyl die meeste mense betreklik matig siek word.

“In talle gevalle kan die immuunstelsels van diegene wat die siekte oorleef het, beter toegerus wees om in die toekoms teen dieselfde patogene weerstand te bied.”

Volgens riglyne van onder andere die Verenigde Nasies (VN) moet hande minstens 20 tot 30 sekondes lank gewas word. Of sing die Lekker verjaar-liedjie twee keer deur terwyl jy was. In ʼn Covid-19-konteks is die aanbeveling om jou hande te was elke keer wat jy jou neus geblaas het, gehoes of genies het. Dit moet ook gedoen word na ʼn besoek aan enige openbare ruimte, wanneer jy aan enigiets buite die huis, ook geld, geraak het, voor, tydens en nadat ʼn siek mens versorg is, asook voor en na etes.

In die algemeen moet jy altyd jou hande was nadat jy die toilet gebruik het, voor en na ete, nadat vullis hanteer is, nadat diere of troeteldiere aangeraak is, wanneer ʼn kind se doek geruil is, of wanneer jou hande sigbaar vuil is.

Verhoogde bewustheid

Kenners sê dit is steeds belangrik om ‘n natuurlike immuniteit op te bou. (Foto: pixabay)

Snyman sê daar was die afgelope jaar ʼn verhoogde bewustheid oor maatreëls om infeksies te bekamp – en dit het ʼn duidelike uitwerking oor aansteeklike siektes op die breër publiek gehad.

“Die 2019-griepseisoen was betreklik kwaai, met ʼn beduidende wêreldwye toename in hospitaalopnames en sterftes. Dit lyk egter of daar bewyse is, ook uit lande soos Suid-Afrika, wat daarop dui dat die getal griepgevalle tussen 2019 en verlede jaar beduidend afgeneem het.”

Snyman sê Suid-Afrika het verlede jaar nie sy gewone griepseisoen ondervind nie en veel minder gevalle is aangemeld. “Dit lyk of die verhoogde higiëniese voorsorgmaatreëls wat getref is moontlik griepinfeksies gestuit het.

“Dit kan ook moontlik wees dat pogings om Covid-19 te bekamp – soos die dra van maskers en die benadruk van goeie ventilasie – die verspreiding van ander siektes, waaronder tuberkulose (TB), kan bekamp.”

Die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) het in September verlede jaar in ʼn studie bevind positiewe grieptoetse het van 20% na tot minder as 2% afgeneem – en in sommige streke kon dit glad nie eens opgespoor word nie.

Volgens die studie het data uit die Suidelike Halfrond – dus ook lande soos Suid-Afrika – dieselfde lae griepaktiwiteit gewys.

Snyman sê voorstanders van die sogenaamde higiëneteorie oor allergieë kan aanvoer dat mense se immuunstelsels blootstelling aan ʼn wye verskeidenheid kieme benodig om dit sterker en minder vatbaar vir allergiese reaksies op andersins skadelike omgewingsfaktore soos stuifmeel te maak.

‘n Trein word ontsmet. (Argieffoto: Courtney Africa/ANA)

Hy gebruik ʼn voorbeeld in Oos-Europa, waar mense wat in tradisionele houthuise woon – en waar die grondvloer as ʼn stal gebruik word – tussen 20% en 50% minder allergieë as die deursneebevolking het.

Die veronderstelling is dat die kieme vanuit die laer vlak van die huis opbeweeg na waar die mense woon en dat kinders se immuunstelsels vanaf geboorte deurlopend deur die blootstelling gestimuleer word.

“Daar is voorgestel dat dit ʼn beskermende uitwerking kan hê deur die opbou van ʼn natuurlike immuniteit wat nie net daardie mense in hul leeftyd kan help nie, maar moontlik oor deur hul gene na toekomstige geslagte oorgedra kan word,” sê Snyman.

Hy sê Covid-19 was veral verwoestend, gedeeltelik omdat mense nog nie tevore aan die spesifieke virus blootgestel is nie en daar selfs in geneties uiteenlopende bevolkings geen inherente immuniteit is nie.

“Wat ons in die huidige omstandighede waar verhoogde higiëne ʼn vereiste vir Covid-19-voorkoming is, nie weet nie, is hoe dit op die lange duur ons immuunstelsels en dié van ons agter-agter-kleinkinders kan raak.

“Ons gaan ʼn ongekende era binne.”

Snyman sê selfs met vroeë opsporing en elke voorkomingsmaatreël in plek, kan ʼn hoogs aansteeklike virus – soos die koronavirus – waarskynlik steeds versprei waar mense bymekaarkom.

“Eindelik kan dit dalk nodig wees om inentingspogings te versterk om kudde-immuniteit te bereik, omdat RNA-virusse geneig is om makliker te muteer en natuurlik bekomde immuniteit lyk of dit beskerming teen ʼn verskeidenheid variante bied.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Die hele redenasie word afgeskiet deur die laaste paragraaf.

Natasha

Ek sê al van dag 1 dat die oormatige gebruik van ontsmettingsmiddels gesonde en ongesonde kiema afbreek. Ons maak ‘n sieklike generasie groot deur hulle die heeltyd to forseer om te sanitize en weg te hou van kieme af. Ek sê nie raak roekeloos nie, maar mense het kieme nodig om immuunstelsel op te bou en huidiglik breek ons ons immuunstelsel af met al die alkohol. Die nuwe generasie gaan baie vatbaar wees vir voorkombare siektes.

Boksombende

Ek en my vrou het aan die begin van die pandemie gepraat oor of dit gesond kan wees vir ons familie as niemand siek word as gevolg van geen/minimale blootstelling tot kieme nie.

Dis wonderlik as jou kinders nie siek is nie want dit is minder stress of jou as ‘n gesin en jou mediese fonds word nie vinnig opgebruik nie. Ek wonder net wat die nagevolge gaan wees sodra COVID-19 “kudde-immuniteit” bereik is en ons word weer aan al die ander kieme daar buite blootgestel.

OW

Lanklaas ‘n artikel gelees wat die woorde moontlik,waarskynlik,dalk so baie gebruik.Vandat die mens op aarde is,gaan hy ongekende era’s binne,wat niks nuut is nie.

Esme

Dit is kommerwekkend om te sien hoe baie alkohol as sanitasie gebruik word. Ons grootouers het geglo aan ‘gesonde kieme’ – die woord ‘positief’ het plekke geruil met die woord ‘negatief’. Alles wat in die verlede positiewe gevolge kon inhou is nou negatief en selfs depressievlakke is besig om nuwe hoogtes te bereik.