Pandemie, beurtkrag ‘benadeel matrieks’ – departement

skole matrieks matriek matriekeksamen onderwys

(Foto ter illustrasie: Maroela Media)

Dit wil voorkom of die departement van basiese onderwys reeds voorbrand maak vir grootskaalse aanpassings van onverwerkte matriekuitslae wat tydens verlede jaar se eindeksamens behaal is.

Die departement het tydens ʼn standaardiseringsvergadering verlede week sy kommer oor die uitwerking van die Covid-19-pandemie, asook grootskaalse beurtkrag op die matriekklas van 2021 uitgespreek.

Die uitslae van onderskeie vakke word jaarliks opwaarts of afwaarts aangepas in ooreenstemming met die standaard en uitslae van vorige jare.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal (DG) van basiese onderwys, het Donderdag met Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, vergader. Hier het hy die vele uitdagings wat leerders die afgelope twee jaar moes deurmaak, uitgelig.

Mweli het tydens dié vergadering gesê dat die matriekklas van 2021 ongekende omstandighede moes verduur, wat moontlik ʼn invloed op die uitslae van die afgelope matriekeksamen kon hê.

“Ons neem dikwels nie die sielkundige uitwerking van hierdie pandemie op leerders in ag nie.

“Een van die doelwitte van standaardisering is om billikheid van jaar tot jaar te verseker. Die

nadele wat die klas van 2021 gely het, kan egter nie geïgnoreer word nie. Dit is deel van ons verpligtinge ten opsigte van sosiale geregtigheid,” het Mweli gesê.

Mweli sê standaardisering word gebruik om die uitwerking van ander faktore as die leerders se kennis, vermoëns en aanleg op die leerders se prestasie te mitigeer.

Die 2020-matriekklas se uitslae was reeds aansienlik laer as die voorafgaande jaar toe byna ʼn kwartaal van die akademiese jaar weens die pandemie verlore gegaan het. Daar was ook ʼn 5,1%-daling in die slaagsyfers vergeleke 2019.

Volgens Mweli het 2021 se matrieks uiters min onderrigtyd gehad, terwyl die pandemie ook enorme angs en trauma meegebring het. Boonop het die grootskaalse inwerkingstelling van beurtkrag ook volgens Mweli ʼn uitwerking op leerders en hul voorbereiding vir toetse en eksamens gehad.

“Hierdie klasgroep is die afgelope twee jaar in hul skoolopleiding ontwrig en hoewel 2021 ʼn meer stabiele jaar was, hou die uitwerking van die meer as 50%-verlies van hul gr. 11-jaar ernstige gevolge in.”

Mweli sê skoolwerk wat in gr. 11 behandel word, lê ʼn uiters belangrike fondament ter voorbereiding van gr. 12. Dié grondslag is nou weens die talle uitdagings verswak.

Hy meen die negatiewe uitwerking sal veral waargeneem kan word in vakke wat baie tyd in beslag neem, soos taalvakke en wiskundige geletterdheid.

Mweli sê voorts benewens die finansiële trefslag wat die pandemie op gesinne gehad het waar broodwinners hul werk verloor het, het baie gesinne ook geliefdes aan die dood afgestaan.

Die DA sê hoewel daar beslis ʼn daling in vanjaar se matriekuitslae verwag kan word, is die party uiters bekommerd oor die aantal leerders wat uitgesak het voordat hulle hul matriekeksamen in 2021 kon aflê.

Désirée van der Walt, die DA se skaduminister van onderwys, meen leerders het moed verloor. Baie leerders het ook nie tydens die pandemie dieselfde toegang tot tuisonderrig en tegnologie as ander gehad nie.

Volgens Mweli het altesaam 700 604 van die 733 746 matrikulante wat vir hul eindeksamen geregistreer het, vir dié eksamen opgedaag. Hy het wel benadruk dat dié wat nie opgedaag het nie, die laagste syfer in jare is (4,5%).

Baxolile “Bax” Nodada sê voorts dat Covid-19 en die gepaardgaande uitdagings van die pandemie nie die enigste oorsaak van swak uitslae en druipelinge is nie – voortslepende probleme soos ʼn tekort aan infrastruktuur en die swak gehalte van onderrig het ook ʼn aandeel hierin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Ek se maar liewer niks.

Gompie

Verskonings, verskonings, verskonings!

Julius

Dit is kommerwekkend as mens lees van uitslae wat aangepas word vir geregtigheid en wiskunde geleterdheid wat basies net optel,aftrek maal en deel is , kan nie eens gedoen word nie. Nou gaan hulle die arbeidsmark binne met min kennis en ons moet die gelag betaal.

MariElize

Per die artikel…”Volgens Mweli het altesaam 700 604 van die 733 746 (4,5%) matrikulante wat vir hul eindeksamen geregistreer het, nie vir dié eksamen opgedaag nie”. 700 604 van 733 746 is 95.5%. Duidelik is hierdie nie reg nie en verkeerd vertaal vanaf die artikel op Businesstech.co.za. Die korrekte is: Slegs 700 604 matrikulante van die 733 746 geregistreerde matrikulante het opgedaag vir die eksamen en dus het 33 142 (4.5%) matrikulante nie opgedaag nie.

Harley Davidson

Moet asb ook nie vergeet van die derde wêreld onderwys curriculum waar jy met hulp net 30% nodig het om te slaag.