Pandemie dra by tot stygende selfmoordsyfers

Argieffoto.

Wêreldselfmoordvoorkomingsdag word jaarliks op 10 September gevier om bewustheid te skep vir die voorkoming van selfmoord. Vanjaar se tema is “Skep hoop deur aksie” en dié boodskap fokus op die hoop dat mense bemagtig sal word met selfvertroue om oor dié komplekse onderwerp te gesels.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) eis selfmoord jaarliks die lewe van meer as 700 000 mense wêreldwyd. In Suid-Afrika pleeg sowat 23 uit elke 100 000 mense selfmoord. Meer as driekwart van hierdie mense is mans.

Hoewel dié statistieke dié van 2019 is, het Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid van Suid-Afrika, onthul dat 1 781 mense in 2020 selfmoord gepleeg het binne die bestek van vier maande, van 27 Maart tot 27 Julie 2020.

“Die hartseer feit is dat vir elke selfmoord daar baie gevalle is wat nie aangemeld word nie. Vir elke selfmoord is daar ook sowat 20 mislukte selfmoordpogings,” sê Megan Hosking, psigiatriese klinikus by die Netcare Akeso se geestesgesondheidsfasiliteite.

“Terwyl elke tragiese dood deur selfmoord nie gekeer kan word nie, is dit wel moontlik om meer uit te reik na mense wat nie ʼn ander uitweg kan sien nie, voordat dit te laat is. Deur ʼn dieper begrip van selfmoord by die publiek te kweek, kan dit help dat meer mense na mekaar uitreik.”

Hosking sê selfmoord is kompleks en vir ʼn persoon met selfmoordneigings voel ʼn situasie hopeloos en verwarrend.

“Diegene na aan hulle word gelaat met talle vrae, soos die ‘rede’ vir iemand se selfmoord of selfmoordpoging, en wonder wat hulle kon doen om dit te voorkom. Dit is veral moeilik om iemand op hierdie manier te verloor en daar is nie eenvoudige antwoorde wanneer dit by selfmoord kom nie.”

Wanneer ʼn persoon selfmoordneigings het, moet daar onthou word dat hulle enigste gedagte is om die pyn en lyding wat hulle ervaar te beëindig.

“Hulle mag voel daar is geen ander uitweg nie, selfs al het hulle teenstrydige gevoelens oor die dood nie. Dit kan die resultaat wees van geestesgesondheidsprobleme, aanpassing van nuwe medikasie, emosionele struwelinge, geldelike probleme, gevoelens van hopeloosheid en verlies en ander uitdagings wat hulle oorweldigend ervaar.”

Volgens Hosking beteken dit nie daar is nie hoop vir ʼn persoon wat dink aan selfmoord nie.

“Mense met selfmoordneigings onthul nie altyd hulle innerlike pyn of intensies nie, maar daar is gewoonlik waarskuwingstekens.

Hier is nege tekens van iemand met selfmoordneigings:

  1. Praat oor die dood, om hulleself seer te maak of dood te maak.
  2. Druk gereeld gevoelens van hopeloosheid uit.
  3. Voel hy of sy is ʼn “las” op ander.
  4. Soek dinge wat hom of haar kan benadeel, soos dwelms of wapens.
  5. Sê totsiens, of gee waardevolle items weg.
  6. Isoleer toenemend familielede en vriende.
  7. Toon selfafbrekende gedrag.
  8. Vorige selfmoordpogings.
  9. ʼn Skielike gevoel van kalmte – dit kan daarop dui dat die persoon ʼn plan het vir selfmoord en vrede gemaak het met die situasie.

Troeteldiere kan ʼn verskil maak

(Foto: Artem Beliaikin/Unsplash)

Volgens Marycke Ackhurst, dieregedragspesialis by Hill’s Pet Nutrition, het die pandemie ʼn groot invloed op selfmoordsyfers.

Ackhurst sê dat hulle nie slegs ʼn verskil in diere se lewens wil maak nie, maar ook in die lewens van hulle eienaars.

“Depressie affekteer meer as 260 miljoen mense wêreldwyd en sowat die helfte van alle geestesgesondheidskwessies begin op die ouderdom van 14 kop uitsteek.

“Selfmoord is die vierde grootste oorsaak van dood onder jong mense tussen 15 en 29. In 2019 was Suid-Afrika onder die tien lande met die hoogste selfmoordsyfers ter wêreld. Volgens die WGO pleeg iemand elke 40 sekondes selfmoord êrens in die wêreld.”

Die pandemie het egter daartoe gelei dat volwassenes, tieners en jong kinders stres, angstigheid en trauma moet hanteer wat hulle nog nie voorheen ervaar het nie.

“Ons moet meer ondersteunend wees vir mekaar, maar nou meer as ooit moet ons ook ons eie bekers vol hou sodat ons ander mense kan help,” sê Ackhurst.

Navorsing toon dat troeteldiere kan help om stres, angstigheid en depressie te verlig en dat individue met troeteldiere oor die algemeen gelukkiger is, verbeterde selfvertroue en beter sosiale vaardighede het.

“Ons weet dat troeteldiere emosionele ondersteuning kan bied. Troeteldiere bied ʼn sin van vertroosting in ʼn tyd waarin baie van ons eensaam, geïsoleer en bang voel.”

  • Individue wat emosionele ondersteuning verlang word aangemoedig om kontak te maak met Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) of om die Suicide Crisis Line te skakel by 0800 567 567.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

So, as my somme reg is, volgens die WGO gaan daar ten minste 64000 mense per maand dood aan selfmoord in die wêreld. Maar die wêreld word toegesluit vir ‘n paar mense wat griep het. Hulle weet nou dat baie baie meer mense aan aan ander oirsake as die virus doodgaan, so stop nou die sottigheid sodat die ekonomie weer kan hetsel. Die spuit werk nie, die gehabde was werk nie, die gemasker draery werk nie. So wat nou?

Daniel

Stem saam met die feit dat troeteldiere ‘n verskil maak, kan self getuig van die positiewe invloed wat my hond het op my gemoedstoestand

Pieter

Ek is alleen met ‘n klomp honde, beste ding nog. Geen menslike gesanik om my.

AndrewL

Nou moet Megan Hoskin net vir my verduidelik hoe ‘n selfdood geregistreer kan word as enige iets anders as ‘n onnatuurlike sterfte.

ALLE onnatuurlike sterftes word geregistreer en ondersoek. Geen dokter sal ‘n doodsertifikaat uitreik vir ‘n onnatuurlike sterfte nie.

Depressie en selfdood is ernstig genoeg dat ons nie nog duimsuig getalle daarby moet voeg nie.