Pandemie moenie misbruik word vir anti-drank-agenda – Salba

Die alkoholbedryf het reeds meer as R36 miljard verloor weens drankbeperkings te midde die Covid-19-pandemie. (Foto: pixabay)

Die Covid-19-pandemie is nie ’n geleentheid om ’n anti-alkohol-agenda te bevorder nie.

Só het die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba) Donderdag gesê. Dit kom nadat die Suider-Afrika-alliansie vir Alkoholbeleid (Saapa) op 16 Mei ’n verklaring uitgereik het wat onder meer vir die beperking van drankverkope en ‑advertensies druk.

Saapa het in sy verklaring verskeie voorstelle rakende drankbeleide gemaak aangesien Suid-Afrika op die rand van ’n derde Covid-19-golf staan.

“’n Oproep vir beperkings op alkoholverwante advertensies en ander voorstelle ten opsigte van alkoholbeleide is irrelevant tot die nasionale reaksie teenoor ’n moontlike derde Covid-19-golf,” sê Sibani Mngadi, voorsitter van Salba.

“Oproepe om drankverkope te beperk dui op ’n miskenning van die ekonomiese  en werkloosheidstoestand in Suid-Afrika.”

Mngadi sê voorts dat Saapa hulle eerder daarop moet toespits om ’n tasbare bydrae in die stryd teen Covid-19 te lewer.

“Dit is kommerwekkend dat Saapa, wat nog geen bydrae tot die nasionale stryd teen Covid-19 gelewer het nie, ’n beroep op die beperking van drankverkope doen. ”

Mngadi sê dat die alkoholbedryf onder meer 200 miljoen liter skoon alkohol geskenk het toe die land ’n tekort aan reinigingsmiddels gehad het.

“Die bedryf het op verskeie terreine ondersteuning aan die regering gebied en onverpoos gewerk om te verseker dat daar in verskeie sektore, waaronder die restaurantbedryf, aan Covid-19-protokol en ‑regulasies voldoen is.”

“Wat Saapa nie begryp nie, is dat Suid-Afrika ’n grondwetlike demokrasie is, met gevestigde en deursigtige reëls ten opsigte van beleidsformulering en veranderings aan wetgewing. Inperkingsreëls is daar om die land te help om die Covid-19-krisis te bestuur. Lewens moet gered word terwyl lewensbestaan beskerm word in ’n samelewing wat gebuk gaan onder armoede, werkloosheid en ongelykheid.”

Mngadi sê dat dit nie as ’n platform misbruik moet word om ’n anti-alkohol-agenda te bevorder nie.

“Die alkoholbedryf deel die regering se kommer op die pandemie en sal betekenisvolle stappe ondersteun wat gedoen word om die infeksiesyfers te verlaag.”

Mngadi sê voorts dat die bedryf reeds meer as R36 miljard se omset weens drankbeperkings tydens die pandemie verloor het. Gevolglik het die regering ook miljarde in belasting verloor.

“Die alkoholbedryf speel ’n kernrol in die groei van die ekonomie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

MakersMark ·

As dit nodig is stop alkohol verkope weer SA’nrs rol karre, steek mes en slaan hul familie lede as hul drink dan is die nood dienste en sale weer vol en mense wat hulp nodig het agv CV19 kry dit nie.

Tiptol ·

Wat van al die moorde, marteling, verkragtings, kinder mishandeling wat gebeur sonder drank?

Petrus Klipkop ·

As dit nodig is, stop die verkope van motorvoertuie, (‘n persentasie) SA’nrs verontagsaam verkeersreëls, rol karre en en dan is hospitale al weer vol mense wat hulp nodig het. Dit is hoe logika lyk wanneer dooie, vervaardigde goedere blameer word wanneer mense besluit om enige ding te misbruik. Dus, stop verkope van enige item met die potensiaal om misbruik te word en leed te veroorsaak, dis nou as die argument tot met sy einde deurgevolg word. Alkohol, net soos enige ander gebruiksartikel, is neutraal, nie goed of sleg nie. Die besluit wat ‘n persoon neem hoe om dit aan te wend, is nie noodwendig neutraal nie.

KB ·

Miskien moet kroeë en restaurante (wat drank saam met etes bedien), asook drankgebruik in die openbaar se ure eerder ingeperk word.
Los die drankwinkels uit (hulle kliënte gebruik dit tuis).

Connie ·

Beperk eerder die ure en dae van aankope as om dit heeltemal toe te maak. As mense hulle drank rustig drink by die huis, en nie soos otters te kere gaan nie, dan kan ons die hospitale help. So moenie altyd die skuld op DRINKERS sit nie, party weet hoe om te drink en te stop, en ander glad nie, vergryp hulle dis die probleem, maar nou word almal sommer onder die selfde kam geskeer.

Nico ·

Gaan kyk na die shebeens waar drank vryluk gedeel word it een bottel, kyk ook onder die swart mense hoe drink hulle een bottel, op die manier word hierdie Covit19 lekker versprei.

Asgat ·

Wat nie sin maak van die begin af vir my nie is dat die regering die bottelstore toemaak, en jy kan net by n” eetplek of kroeg gaan drink. Die rede daarvoor kar ongelukke weens dronk en bestuur en geweld by die shebeens maak die hospitale vol reg? Mense word gedwing om by die plekke te gaan drink omdat hulle dit nie by die bottelstoor kan koop en rustig braai by die huis saam met jou gesin en n’ biertjie of wyntjie te drink nie. Maar nee hulle verkies almal moet by die kroeg gaan sit en dan bestuur huistoe.

Johan ·

Die regulasies word misbruik vir n magdom goed, drank is maar een van baie. Mense begin al soos kinders smeek om nie deur hul meesters “gestraf” te word nie, baie hartseer dat almal so bang geword het, nė.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.