Pandemie ontneem nuwe pa’s van spesiale oomblik

Die geboorte van ʼn kind is nie ʼn gebeurtenis wat op enige manier herhaal kan word nie. (Foto: Christian Bowen/Unsplash)

Terwyl die geboorte van ʼn baba vir talle ouers ʼn besonderse oomblik is wat deur ma, pa en nuwe baba gedeel word, het Covid-19 en die streng gesondheidsprotokol wat daaroor ingestel is, dit vir talle vroue in ʼn eensame en dikwels vreesaanjaende gebeurtenis verander.

Die geboorte van ʼn kind is boonop nie ʼn gebeurtenis wat op enige manier herhaal kan word nie en talle ouers voel beroof van ʼn spesiale oomblik in hulle en hul kind se lewe.

Dit is omdat staatshospitale weens die pandemie as ʼn reël glad nie toelaat dat enigiemand ʼn vrou vergesel wanneer sy in ʼn hospitaal kraam nie.

ʼn Aantal vroue het hul verhaal met Maroela Media gedeel.

Vreesbevange, pleks van opgewonde

“Eintlik moet ek opgewonde wees, maar nou sien ek nie uit nie. Ek is bang,” vertel een van die ma’s. (Foto: pixabay)

Tania* is ʼn 24-jarige swanger vrou van die Oos-Kaap wie se baba na verwagting volgende maand sy of haar opwagting gaan maak. Sy het die hospitaal vooraf gebel om seker te maak al haar man se besonderhede is aangeteken sodat hy hul eersteling se geboorte saam met haar kan meemaak.

Die hospitaal weier egter in hierdie stadium dat Tania se man die geboorte bywoon. Hy mag haar by die hospitaal aflaai en weer gaan oplaai wanneer ma en baba ontslaan word.

“Dit is ʼn een-keer-in-ʼn-leeftyd-gebeurtenis. Ek moet nou alleen hierdeur gaan en ek is vreesbevange,” sê  Tania wat uit vrees vir viktimisering nie haar regte naam genoem wil hê nie. Sy hoop ook dat sy nog die hospitaal kan oortuig om haar man toe te laat om by die bevalling te wees.

“Eintlik moet ek opgewonde wees, maar nou sien ek nie uit nie. Ek is bang. Jy weet reeds nie wat om te verwag of watter soort sorg jy in ʼn staatshospitaal gaan kry nie. ʼn Mens hoor gruverhale van dinge wat in staatshospitale gebeur.

“Ek wil dit nie alleen doen nie, maar ons het nie tussen R30 000 en R40 000 om vir ʼn bevalling by ʼn private hospitaal te betaal nie.

“Ek is keelvol vir die regering en sy besluite wat dinge vir ons ondraaglik maak, terwyl ander mense net kan maak wat hulle wil. Ons is opgewonde oor die baba wat kom, maar my man gaan ons nie weer sien tot ons ontslaan word nie. Ek is só bang iets loop skeef.”

Tania sê die hospitaal waar sy gaan kraam, is betreklik oud en personeel sê daar is nie genoeg ruimte vir ʼn ekstra persoon terwyl sosiale afstand gehandhaaf moet word nie.

Die inperkingstyd, wat nou reeds sowat 18 maande lank duur, beteken talle ander vroue moes reeds sonder die ondersteuning van ʼn geliefde deur die kraamproses gaan.

ʼn Traumatiese ervaring

Jean-Marie van Vuuren en haar man, Jacques, woon op Charl Cilliers in Mpumalanga. Hul jongste kind, Mieke, is in September verlede jaar in die Bethal-hospitaal gebore. Mieke se hartklop het voor haar geboorte bly val en Jean-Marie se ginekoloog het aanbeveel ʼn keisersnee word so gou moontlik gedoen.

Jacques moes sy vrou, toe 36 weke swanger, by die hek van die hospitaal aflaai en wegry omdat hy nie op die perseel toegelaat is nie. Jean-Marie sê ʼn dokter het haar boonop gevra of sy gesteriliseer gaan word. Die dokter het glo gesê sy sal verseker dat Jean-Marie by geen hospitaal in die omgewing behandel word as sy weer swanger word nie.

Jean-Marie sê sy was so oorweldig dat sy tot die sterilisering ingestem het, selfs al was sy nie gemaklik daarmee nie.

Haar spinale verdowing het tydens die bevalling boonop nie behoorlik gewerk nie. Jean-Marie sê die dokter wou haar aanvanklik nie glo dat die verdowing nie gewerk het nie en het eindelik gesê as sy haar bene in die lug kan tel, sal sy weet Jean-Marie praat die waarheid.

“Ek het net daar my bene in die lug gegooi.”

Sy is daarna onder narkose geplaas sodat die keisersnee gedoen kon word. ʼn Goedhartige verpleegster het ingestem om ʼn foto van die geboorte te neem sodat die gesin ten minste ʼn aandenking van klein Mieke se geboorte sou hê.

Jean-Marie sê sy het Jacques om 09:00 laat weet sy gaan teater toe en eers ná 13:00 kon sy hom laat weet dat sy en die baba gesond is. Teen daardie tyd was haar man en familie rasend van bekommernis.

“Ek was in trane. Dit was verskriklik. Alles sou anders gewees het as my man daar was, want dan sou ek my nie oor elke liewe ding alleen moes bekommer nie.”

Jacques het die egpaar se twee ouer kinders se naelstringe self geknip. Klein Mieke kon hy eers drie dae ná haar geboorte in sy arms hou.

Pa sit voet neer

Klein Ethan kort na sy geboorte. (Foto: Verskaf)

Madeleine Möller was een van die gelukkige uitsonderings. Haar man, Raymond, het verseg om bes te gee toe die egpaar gehoor het dat Madeleine op haar eie deur die proses moet gaan.

Madeleine het in Februarie vanjaar geboorte gegee aan klein Ethan en sy is die aand voor haar keisersnee in die hospitaal op Worcester opgeneem. Daardie aand is hulle meegedeel dat Raymond nie tydens die geboorte by mag wees nie.

“Toe hulle dit vir hom sê, het hy gesê hulle kan hom maar boei, maar hy gaan saam.”

Sekerheidspersoneel het Raymond die volgende dag etlike kere uit die gebou begelei, maar voor hulle hul oë kon uitvee, was dié pa terug. Die hospitaal het later selfs sy bestuursraad genader en Raymond is eindelik toegelaat om Ethan se geboorte mee te maak.

Madeleine sê sy moes haar selfoon bêre, maar Raymond het darem syne by hom gehad en kon foto’s van die geboorte neem. Ander vroue is nie so gelukkig nie.

“Ek het ma’s in die hospitaal gehoor huil omdat hulle só alleen was,” vertel sy.

Ná Ethan se geboorte kon Raymond sy seuntjie minstens ʼn paar uur lank vashou terwyl Madeleine herstel het. “Om daar te wees vir sy laaste seuntjie se geboorte was vir hom geweldig belangrik.”

Raymond kon sy vrou en jongste kind eers weer sien nadat hulle die Sondag uit die hospitaal ontslaan is.

Lewensveranderende gebeurtenis

Die betrokkenheid van pa’s is baie belangrik en moet beslis aangemoedig word. Dit begin egter reeds tydens die swangerskap. (Foto: pixabay)

Jurita Engelbrecht, ʼn sielkundige van Pretoria, sê die geboorte van ʼn kind is ʼn lewensveranderende gebeurtenis vir die meeste ouers. “Wanneer dit hul eersgeborene is, is dit die begin van ʼn nuwe fase in hul lewe, waar hulle ʼn nuwe identiteit, naamlik dié van ouerskap, aanneem.”

“Ons moet egter onthou dat ons steeds ʼn wêreldwye pandemie beleef en dat gesondheidswerkers alles in hul vermoë doen om hul pasiënte te beskerm.”

Die meeste private hospitale laat wel toe dat iemand – wat negatief vir Covid-19 getoets het – ʼn ma tydens die proses vergesel.

“Die belangrikheid om ʼn band tussen ouers en hul pasgebore baba te smee is goed gedokumenteer  en behoort sover moontlik beskerm te word. Dit is ʼn oomblik wat nooit weer teruggekry kan word nie,” sê Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitaalafdeling.

Hy sê selfs al is die omstandighede tans moeilik, doen Netcare alles moontlik om te verseker die geboorte is spesiaal en onvergeetlik. “ʼn Baba se geboorte is ʼn betekenisvolle tyd vir gesinne. Om so ʼn belangrike oomblik mis te loop, is iets wat ons tot elke prys probeer vermy.

“Ons bly egter steeds bewus van ons verantwoordelikheid om nie-Covid-19-pasiënte en gesondheidswerkers na die beste van ons vermoë teen infeksie te beskerm.”

Dr. Gerrit de Villiers, hoof van kliniese prestasie by Mediclinic, sê die hospitaalgroep het deur die pandemie gestaan by die beginsel dat dit belangrik is dat ʼn geliefde die geboorte bywoon, omdat dit so ʼn besonderse ervaring is.

“Mediclinic glo vas dit is belangrik dat ʼn ma voel dat sy in hierdie tyd ondersteun word en die baba se eerste paar dae saam as ʼn gesin geniet kan word. Ons verstaan die maat wil nie net die ma ondersteun nie, maar ook ʼn betekenisvolle band met die nuwe baba smee,” sê De Villiers.

Die hospitaalgroep sê ook dit is moeilik tydens die pandemie, veral wanneer die hospitaal se infrastruktuur en kapasiteit ʼn uitwerking kan hê op die vermoë om ʼn sosiale afstand te handhaaf of ander voorsorgmaatreëls te tref. Elke hospitaal se besluit kan dus verskil.

Engelbrecht sê mans speel ʼn groot rol in die ondersteuning van hul maat en vroue heg waarde aan dié teenwoordigheid en steun tydens die geboorteproses. “Pa’s kan moontlik ontneem voel van ʼn spesiale gebeurtenis,” sê sy.

Band tussen ouer en kind

Pa’s kan moontlik ontneem voel van ‘n spesiale gebeurtenis. (Foto: Drew Hays/Unsplash.)

Engelbrecht sê daar is wel ander maniere waarop ouers steeds die proses spesiaal kan maak.

“Die hegte band tussen ʼn ouer en ʼn kind lei daartoe dat ʼn kind veilig en geborge voel. Dit is egter belangrik om te weet dat die band tussen ʼn ouer en ʼn kind reeds voor die geboorte plaasvind, of wanneer jy jou baba byvoorbeeld vir die eerste keer sien.”

Engelbrecht stel voor dat pa’s byvoorbeeld spesiale briewe skryf vir wanneer die baba gebore word en betrokke moet bly by die voorbereidings vir die hospitaal. Sy stel ook voor dat ouers vooraf baie seker maak wat die hospitaal se beleid met die neem van foto’s is. Terug by die huis kan ʼn pa soveel moontlik tyd met die baba deurbring, die kleintjie in ʼn drasak ronddra, masserings gee en badtyd spesiaal maak.

“Die betrokkenheid van pa’s is baie belangrik en moet beslis aangemoedig word. Dit begin egter reeds tydens die swangerskap en is ʼn proses wat regdeur ʼn kind se lewe aangemoedig moet word.”

  • Maroela Media het ʼn navraag aan die departement van gesondheid gerig oor die kwessie, maar het tot dusver geen terugvoer ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blackies

Mediese skemas is duur en skelm maar ongelukkig noodsaaklik. Jy kan darem bystaan met die geboorte. Staats hospitale is oorvol en die diens, geen diens, en ongelukkig ook geen diens by by Unitas Hospitaal. (Voorbeeld: Hulle ontslaan n 84 jarige 22:30 van ongevalle in die winter net dat sy die volgende dag weer opgeneem moet word.

Barney

Dis hulle eie skuld. Staan op vir jou regte en hou op toelaat dat ń hospitaal teen jou diskrimineer om nie toegang te kan kry tot jou vrou en jou kind nie.

Marius

Ons dogtertjies is verlede jaar enkele dae voor eerste grendeltydperk gebore. Ek was gelukkig genoeg om daar te wees vir die geboorte. Ongelukkig moes hul vir 3 maande in hospitaal bly wat ek hul nie kon vashou of eers sien. Dis sleg as dit van ‘n pa ontneem word.

Wikkelwillie

Presies. Hierdie “pandemie” gaan baie meer skadelik wees tussen mense as vir mense. In Amerika dra niemand maskers nie en pa’s houvas hul kinders soos dit hoort

Alleen Wolf

Die plandemie, ja dis reg gespel is daarop gemik om soveel moontlik ontwrigting te veroorsaak in ons lewens, ek hoop die spul wat die belaglike reeltjies maak en so slaafs nakom kry hulle dag van afrekening.
Dit is eenvoudig belaglik om ‘n gesin te skei by so ‘n belangrike gebeurtenis, gelukkig is my kinders oud en getroud maar as ons nog kinders moes he sou ons beslis ‘n tuis bevalling oorweeg het.