Pandemie ‘prakties verby’

(Foto: Maroela Media)

Die wêreld leef al die afgelope twee jaar met die gevolge wat die Covid-19-pandemie meegebring het en hoewel ʼn vyfde vlaag reeds voorspel word, is daar ook sprake dat Suid-Afrika reeds oor die hond se stert beweeg het.

Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, sê die pandemie en die werklike gevaar daaraan verbonde, is prakties verby. Daar is in hierdie stadium baie min druk op die gesondheidsorgstelsel en verskeie lande het reeds weggedoen met regulasies en inperkings. Talle ander lande is van voorneme om dit binnekort te doen.

Mulder sê daar is egter ʼn verskil tussen “uit ʼn pandemie beweeg” en Covid-19 wat “verdwyn”. Die groot vrees tydens ʼn pandemie is dat gesondheidsorgstelsels oorweldig word en die jongste vlaag wat deur die Omikron-variant oorheers is, het gewys dit is nie meer die geval nie.

Mulder sê gegewe die kliniese uitkomste wat in die jongste vlaag gesien is, is Suid-Afrika baie naby aan die einde van die pandemie. Dit beteken maskers behoort weg te val en beperkings op byeenkomste behoort opgeskort te word.

“Ek dink ons is sterk op pad na waar ons voor die pandemie was,” sê hy.

Kliniese en aktuariële kenners van die Bonitas- mediese fonds sê Suid-Afrika het in hierdie stadium reeds ʼn aansienlike vlak van kudde-immuniteit deur inenting en aangepaste immuniteit bereik. Hierdie immuniteit verswak egter mettertyd en daar is sprake van mondelikse medisyne en entstowwe wat dalk beter en sterker as die bestaande entstowwe sal wees.

Die sogenaamde pandemie-status sal egter mettertyd tot endemie-status verander.

Mulder sê dit sal beteken dat die wêreld ʼn nuwe, endemiese siekte het, waarmee die mensdom sal moet leer om saam te leef. “Nes griep deel van ons wêreld is, so gaan Covid-19 deel daarvan wees. Siektes is nie ʼn nuwe verskynsel nie, en dit kan normaal word dat jy dalk elke nou en dan Covid-19 opdoen.”

Sekere maatreëls, soos dat jy ingeënt sal moet wees om te reis, of dat die dra van maskers byvoorbeeld tydens Covid-seisoen vereis kan word, kan waarskynlik nog lank voortduur.

Mulder sê die huidige stand van sake beteken ook dit is nou tyd vir die land om “weer oop te maak”.

Solidariteit en AfriForum het reeds dokumente by die Pretoriase hooggeregshof ingedien waarin die organisasies vra dat die voortsetting van die huidige ramptoestand ongeldig verklaar word. Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede aangedui dat die ramptoestand opgehef sal word sodra gesondheidswetgewing aangepas is om die pandemie te bestuur.

Mulder sê anders as in 2020, toe die pandemie aanvanklik uitgebreek het, maak die ramptoestand geen meer sin nie. “Jy kan nie ʼn ramptoestand in Durban afkondig omdat daar dalk ʼn vloed kan kom nie. Dit is nie iets wat jy op daardie manier voorkomend kan gebruik nie.”

Miljarde mense wag dat die lewe weer na normaal terugkeer, na dit wat hulle vantevore geken het, maar volgens kenners sal die lewe onder ʼn sogenaamde nuwe normaal begin voortgaan.

“Ekonomiese bedrywighede sal begin herstel en reisbeperkings sal toenemend opgehef word,” sê Bonitas se span kenners.

Die integrasie van regulasies wat die land sal help om die oorgang van pandemie na epidemie te maak, sal ook belangrik wees. “Dit beteken elke maatreël kan nie oorboord gegooi word nie, terwyl daar voorgegee word dat die virus nie bestaan nie.”

Só kan pandemie eindig

Kenners sê dit is moeilik om te voorspel wanneer ʼn pandemie eindig, maar minstens drie scenario’s is moontlik.  

Die eerste manier om dit te beëindig is om so gou as moontlik daardeur te probeer kom. Dit beteken regerings laat mense en gemeenskappe toe om so gou as moontlik blootgestel te word, sodat soveel as moontlik mense die infeksie kan opdoen of immuniteit daarteen ontwikkel. “In ʼn stadium sal kudde-immuniteit ontwikkel – wanneer die virus nie nuwe gashere kan vind nie – en die pandemie loop stadigaan dood.”

Die probleem hier is egter dat hospitale in so ʼn geval baie vinnig maksimum kapasiteit bereik en miljoene mense kan sterf.

Nog ʼn moontlikheid is om die verspreiding van die virus te verstadig of te vertraag en mense daarteen in te ent. Ná die uitbreking van Covid-19 het die meeste lande se regerings verskillende metodes ingespan om die verspreiding van die koronavirus te verstadig. “Dit verminder lewensverlies, maar die virus versprei nietemin stadig en talle van die maatreëls het ʼn verwoestende uitwerking op die ekonomie,” sê Bonitas se kenners.

Een van Brittanje se voorste epidemioloë het vroeër egter gesê een van die grootste foute wat wêreldwyd in die hantering van Covid-19 begaan is, was die instelling van streng inperkingstate in ʼn poging om die verspreiding van die virus te verminder.

Die derde scenario is om die situasie wêreldwyd te koördineer en die pandemie dood te druk. Dit kan behaal word deur byvoorbeeld die inwerkingstelling van verbodsbepalings op reis en sosiale afstandhandhawing. In hierdie geval behoort die wêreld pogings om oordrag te verminder, te koördineer.

“In die beste uitkoms kan dit die pandemie vinnig beëindig – en met ʼn lae sterftesyfer. Die virus gaan nie hierdeur uitgewis word nie, maar oordrag en verspreiding kan verminder.”

Elkeen van die situasies het voor- en nadele, maar daar word algemeen aanvaar dat inenting – gesteun deur soveel as moontlik koördinering – die beste moontlike scenario is, sê Bonitas se kenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Is die syfers wat deur gegee word korrek, want deesdae word ‘n dood sertifikaat nie uitgereik as daar nie Covid19 gemeld word wat die persoon se dood veroorsaak het nie, wat van kanker gevalle, hart aanvalle, motor ongelukke, ens.

VaalDonkie ·

Gepraat van hartaanvalle. Die CDC het laasweek erken jou kanse om Myocarditis op te doen 300 keer groter is nadat jy die waks gevat het. En onthou, inflammasie van jou hart is nie so onskadelik soos inflammasie in jou arm of nersderm nie.

Heinrich ·

Weereens word die ekspreimentele doepa voorgehou terwyl Ivermectin en Hydro Chloroquine heeltemal uit die prentjie uit weggelaat word, terwyl dit baie minder slegte newe-effekte het. Die skade wat inperkings aan die ekonomie gedoen het en maskers aan algemene gesondheid is skandelik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.