Pandemie se skade aan onderwys soortgelyk aan ‘oorlogstyd’

(Argieffoto)

Dit gaan jare duur om die skade wat die Covid-19-pandemie aan onderrig veroorsaak, om te keer. Só het die parlementêre portefeuljekomiteevergadering oor basiese onderwys Dinsdag gehoor. Kenners vergelyk die mate van ontwrigting met die verlies aan onderrig tydens ʼn oorlogtyd.

Amptenare van die departement het die komitee op die hoogte gebring van sy gereedheid om alle  laerskole op 26 Julie – wanneer die derde skoolkwartaal begin – ten volle te heropen.

Prof. Martin Gustafsson, ʼn navorser verbonde aan die departement, sê die uitwerking van die ontwrigting weens die pandemie gaan nog jare lank gevoel word.

Volgens Gustafsson het tot 54% van kontakonderrig by skole verlede jaar verlore gegaan. Tot 75% van algehele onderrig het in die slag gebly, onder meer weens die ontwrigting met die sluit van skole, of kinders wat bloot vergeet wat hulle reeds geleer het.

“Die algehele uitwerking was ʼn geweldige verlies aan onderrig,” sê hy.

Gustafsson sê die verliese wat reeds gely is, gaan oor ʼn paar jaar in swakker matriekuitslae gesien word. Dit gaan ook gesien word in minder leerders wat verdere kwalifikasies verwerf en later selfs kleiner salarisse verdien. “Die skade is gedoen en ons gaan dit nie maklik ongedaan maak nie. Die uitdaging is nou om die skade te verminder.”

Hy het die uitwerking van die ontwrigting vergelyk met die verlies aan onderrig tydens ʼn oorlogtyd – met die gevolge wat dekades later steeds sigbaar was. Gustafsson sê vooruitskattings dui daarop dat skole weer na die oorspronklike vlak van vordering vir leerders kan terugkeer – maar dit gaan jare duur voor pre-pandemievlakke behaal word.

Hy sê assessering wat onder kinders gedoen is wat van gr. 3 na gr. 4 gevorder het, het die afgelope jaar gewys hul leesvermoë het veel minder verbeter in vergelyking met leerders in ander jare. Waar kinders gewoonlik tien meer woorde tydens die studie tussen grade baasgeraak het, staan dié getal tans op ʼn skamele twee woorde.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê vanjaar se gr. 12-klas het ook verlede jaar die helfte van hul skooljaar verloor en daar sal vanjaar gewerk word om hulle so lank moontlik op die skoolbanke te hou. Die meeste skole bied reeds ekstra klasse aan om te probeer bybly.

“Ons moet die akademiese jaar beskerm. Die uitwerking van 2020-’21 gaan nog jare lank gevoel word en ons moet ook langtermynbeplanning doen,” sê sy.

Brandpunte

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (Argieffoto: Kopano Tlape/GCIS)

Die departement se aankondiging dat laerskole in die derde kwartaal ten volle gaan heropen, het hernieude kommer oor leerders en onderwysers se veiligheid laat ontstaan.

Dr. Faith Kumalo, die departement se hoofdirekteur vir skoolgesondheid, sê die departement monitor die situasie daagliks in samewerking met die departement van gesondheid.

Verskillende vlakke word gebruik om die situasie by skole aan te dui. In die Oos-Kaap is alle skole in hierdie stadium tans op ʼn sogenaamde waaksaamheidsvlak, die laagste vlak. Dieselfde geld vir Gauteng, met die uitsondering van Sedibeng, wat as brandpunt geïdentifiseer is, en die Wes-Rand wat tans as ʼn ontluikende brandpunt bestempel word. In KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap, Limpopo en Mpumalanga is alle skole ook steeds op die laagste waaksaamheidsvlak. In Noordwes is een ontluikende brandpunt geïdentifiseer.

Kommer heers egter oor die situasie in veral die Vrystaat en die Noord-Kaap. In die Vrystaat is talle skole op ʼn hoër vlak en die Gariep- en Mangaung-streek word uitgesonder.

Kumalo sê die Noord-Kaap het nooit behoorlik ná die tweede vlaag herstel nie en infeksies in die provinsie neem steeds toe. Die naasgrootste getal nuwe infeksies oor die voorafgaande 24-uur-tydperk was in dié provinsie en daar is veral kommer oor die Frances Baard- en Pixley ka Seme-distrikte waar die infeksiekoers hoog bly.

Sy sê daar was die afgelope ruk ook vrae daaroor of die winter tot ʼn verdere styging in infeksies kan bydra. Kumalo sê volgens die weerdiens gaan die winter effe warmer as gewoonlik wees.

“Daar is geen reguit streep wat getrek kan word tussen die winter en meer Covid-19-infeksies nie. Ons eie verwoestende [tweede] vlaag was in die somer.”

Sy sê dit is ook belangrik dat skole akkurate inligting oor gevalle aanmeld sodat die departement ingeligte besluite kan neem.

Onderwysers se gesondheid

Hoewel daar verskeie oproepe uit onderwyskringe was dat onderwysers vir die ontvang van entstof geprioritiseer moet word, sê Motshekga daar is talle ander werkers op die voorste linies wat nes onderwysers ook wag om ingeënt te word.

Die minister sê sy kan geen aanduiding daaroor gee of onderwysers moontlik in die volgende fase van die entstofprogram geprioritiseer gaan word nie.

“Onderwysers is op die voorste linie en so ook polisiebeamptes, weermaglede, amptenare van binnelandse sake … Die minister van gesondheid het hom verbind daartoe om werkers op die voorste linies te prioritiseer sodra daar sekerheid is oor die beskikbaarheid van entstof.

“Ons ding egter mee met ander werkers op die voorste linie.”

Volgens Gustafsson is daar geen bewyse dat hoërskoolonderwysers meer geneig is om weens Covid-19 te sterf as hul kollegas by laerskole wat vir jonger kinders skoolgee nie. Hy sê dit bevestig ook bestaande data dat leerders nie primêr vir die virus se oordrag na onderwysers verantwoordelik is nie.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Hierdie klink eerder na ‘n storie om later as verskoning te gebruik vir swak jaarpunte. Ons het ‘n kleinkind in Gr2 op skool (Model C) en hulle draf al ‘n geruime tyd klas. Gedurende die tyd wat die skool toe was het die onderwyser leer programme na die ouers gestuur.
Vir ‘n wil is daar ‘n weg!

Juffie

Ek hoop net as ons onnies op 26 Julie weer ‘n vol klas moet vat, dat al die staatsdepartemente ook terug gaan keer na 100% – what’s good for the goose is hood for the gander.

Samuel

Die onderwysers het beslis nie ‘n maklike taak nie en dan het hulle te doen met kulturele verskille en ongehoorsaamheid. Sterkte v