Paneel aangestel om wapenskandaal te ondersoek

Die Russiese vragskip Lady-R. (Foto: Twitter)

President Cyril Ramaphosa het ’n onafhanklike paneel van drie lede aangestel om die bewerings te ondersoek dat Suid-Afrika wapens deur middel van die vragskip Lady R aan Rusland verskaf het.

Ramaphosa het op 11 Mei vanjaar aangekondig dat hy ’n onafhanklike ondersoek sal instel onder leiding van ’n afgetrede regter.

Die president het regter Phineas Mojapelo as voorsitter van die paneel aangestel, met adv. Leah Gcabashe en Enver Surty wat as lede in die paneel sal dien.

Die ondersoek volg ná Reuben Brigety, die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, se onlangse bewerings dat Suid-Afrika einde verlede jaar wapens en ammunisie aan boord van die Lady R, wat in Desember in Simonstad vasgemeer het, na Rusland gestuur het.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, sê Ramaphosa het besluit om die ondersoek in te stel weens die erns van die bewerings, die omvang van openbare belang en die impak van hierdie saak op Suid-Afrika se internasionale betrekkinge.

“Die paneel is getaak om agter die kap van die byl te kom van wie bewus was van die vragskip se aankoms, en, indien enige, die vrag wat afgelaai is of gelaai moes word, die vertrek en bestemming van die vrag,” sê Magwenya,

“Verder sal die paneel evalueer of grondwetlike, wetlike of ander verpligtinge nagekom is met betrekking tot die vragskip se aankoms, sy verblyf, die op- of aflaai van sy vrag en sy vertrek.”

Die paneel se verslag sal aanbevelings insluit oor enige stappe wat moontlik gedoen moet word in die lig van hul bevindings of as gevolg van enige oortredings wat moontlik plaasgevind het.

“Die paneel sal direk aan die president rapporteer en sal administratief ondersteun word deur personeel in die presidensie wat deur die direkteur-generaal in die presidensie aan hierdie taak toegewys is.”

Die paneel sal sy ondersoek binne ses weke na sy aanstelling finaliseer en daar sal verwag word om sy verslag binne twee weke daarna aan Ramaphosa voor te lê.

Die paneel kan ’n verlenging van hierdie tydraamwerk versoek indien dit nodig sou wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Hasie ·

Ons almal weet dat die paneel oëverblindery is en niks gaan oplewer nie want die bewyse is klaar vernietig.

Harley Davidson ·

Ek kan dit nie glo nie ‘n Russiese skip kom in Simonstad hawe en niemand weet wat die skip daar maak nie ,dink ramaposa ons is so onosel soos die mense wat vir die ANC stem.

annie ·

Hoekom ons so te kere gaan, gaan mens verstand te bowe… soos muise voor ‘n slang. Presies so. Ons mag nie lewe voor die VSA nie sê ons mag nie. Fopnuus se beste kandidate gebou op die destydse slinkse planne van die Amerikaners om beheer oor Wes-Afrika te behou: Die grensoorlog. Die DA se sluwe plan om die Kaap af te stig, soos die Oekraïne, lê agter die groot fanfare van John wat dan ook die VSA se hulp daarmee benodig. Dis al.

Grassie ·

‘n Mens hoef nie ‘n profeet te wees om die uitslag van die “paneel” se ondersoek reg te voorspel nie.

anko ·

Uitslag bekend voor sogenaamde paneel se ondersoek begin het. Net nog ‘n onder-die-kombers geneuk

Stofdonkie ·

Suid-Afrika se belastingbetalers gaan betaal vir die paneel. Hulle het darem nou ‘n groot inkomste vir die volgende sowat 30 jaar waarvoor hulle maar min gaan doen. Die drie van die paneel gaan seker die aanstelling gaan fier in Dubai en vir die volgende paar jaar net Macallan 1979 Skotse Whisky drink teen R650,000 per bottel.

Lee T ·

Hoekom weer ‘n kommissie wat seker weer miljoene gaan kos? Waar is die minister van verdediging wat antwoorde moet verskaf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.