Paneel kry langer tyd vir BTW-verslag

Nhlanhla Nene. Foto: GCIS

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het die spertyd vir ʼn paneel kundiges wat aangestel is om ʼn verslag op te stel van watter nuwe items van BTW vrygestel kan word, verleng.

Die Nasionale Tesourie het Dinsdag gesê Nene het die paneel se spertyd om sy finale verslag aan hom te oorhandig van 31 Julie tot 6 Augustus uitgestel.

Prof. Ingrid Woolard, voorsitter van die onafhanklike paneel, het Dinsdag vir Nene gevra vir ʼn verlenging van gister se spertyd om die verslag in te dien.

Die verslag sal kort ná 6 Augustus bekend gemaak word.

Dié paneel is aangestel kort ná die aankondiging dat die tesourie BTW van 14% na 15% verhoog het in April.

Die paneel moet nou die impak van die BTW-verhoging op armes en lae-inkomste huishoudings bestudeer en vasstel hoe die impak versag kan word deur maatreëls soos om die lys van 19 goedere wat van BTW kwytgeskeld is uit te brei.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook vroeër gesê die regering gaan ʼn stel ekonomiese maatreëls bekendstel wat sal help om die las te verlig wat Suid-Afrikaners dra in terme van die styging in die brandstofprys asook BTW.

Hy het die ministers in die ekonomiese groepering tot 30 Julie geleentheid gegee om vorendag te kom met voorstelle oor hoe verligting aan verbruikers deurgegee kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Afrika tyd, nie sperdatum gehaal nie en uitstel gevra, is hul bevoeg om die besluit te neem?

marous ·

BMW ‘s , Porches , Mercedez Benzes , Ferraris , Mustangs , Lamborginis , Bugattis , Harleys ,ontwerpersklere , alle juwele bo 15K , 5 Ster verblyf .. ens ens ens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.