Paneel maak dié voorstelle vir grondhervorming

Minister Thoko Didiza tydens die bekendstelling van die verslag.

Die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou onderskryf die voorgestelde beleidsverskuiwing om die bepalings van die Grondwet te gebruik om grond sonder vergoeding te onteien.

“Dit hoef nie en moet ook nie in elke geval toegepas word nie. Die parlement sal die aard van die grondwetlike wysiging bepaal, en die jongste weergawe van die Wetsontwerp op Onteiening oorweeg wat in artikel 12 (3) voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding in vyf spesifieke gevalle,” lui die adviespaneel se verslag van 144 bladsye.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Sondag dié verslag en sy omvattende aanbevelings bekend gemaak. Die verslag is reeds vroeër vanjaar aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig.

Die paneel is in September verlede jaar aangestel om die interministeriële komitee oor grondhervorming, waarvan adj.pres. David Mabuza die voorsitter is, raad te gee oor ʼn wye verskeidenheid beleidsake soos restitusie, herverdeling, verblyfreg en landbousteun.

Volgens die paneel bepaal artikel 25 van die Grondwet dat onteiening aan vergoeding onderworpe is en dat die vergoeding regverdig en billik moet wees, met inagneming van alle relevante faktore, insluitend maar nie beperk nie tot vyf kriteria wat gelys word. Eiendom word ook nie tot grond beperk nie.

“Die huidige Grondwet vereis dus onteiening as die metode van grondverkryging en die staat moet sy magte gebruik. Afgesien van ʼn paar gevalle van restitusie, het die staat gekies om nie sy bevoegdhede te gebruik om eiendom vir grondhervormingsdoeleindes te onteien nie, en in plaas daarvan eiendom gekoop wat op die ope mark aangebied is of onderhandelde aankope gedoen.”

Die finalisering van die Onteieningswetsontwerp van 2019 is volgens die paneel dus nou noodsaaklik om vorige wetgewing in dié verband te vervang.

“Dit is belangrik dat die wetsontwerp baie duideliker die betekenis van gevalle waar geen vergoeding betaalbaar is nie moet spesifiseer, byvoorbeeld grond wat om ‘spekulatiewe redes’ gehou word, en die betekenis van ‘verlate grond’. Alternatiewelik kan dit ʼn saak wees waaroor die howe moet duidelikheid gee.”

Volgens die paneel word onteiening sonder vergoeding beskou as een van verskeie geteikende strategieë vir die verkryging van grond, en dat dit onmiddellik kan begin onder bepaalde voorwaardes wat geïdentifiseer is vir geen vergoeding, insluitend maar nie beperk nie tot: verlate grond, oorverskuldigde grond, grond wat slegs vir spekulatiewe doeleindes gehou word, onbenutte grond wat deur staatsentiteite gehou word, grond verkry deur strafregtelike aktiwiteite, grond wat reeds deur huurarbeiders en voormalige huurders bewoon en gebruik word, informele nedersettingsgebiede, geboue in middestede met afwesige eienaars, grondskenkings en plaas-ekwiteitskemas.

“Die beleidsvraag is wanneer en hoe onteiening sonder vergoeding toegepas moet word. Die paneel beveel aan dat ʼn vergoedingsbeleid vir hierdie doel ontwikkel word.”

Volgens die paneel is dit nou 22 jaar sedert die 1997-witskrif oor grondbeleid aanvaar is. Swak inwerkingstelling, beleidsverskuiwings, dalende begrotings, institusionele swakhede, korrupsie, die sosio-ekonomiese dinamika, klimaatsverandering en demografie het volgens die paneel egter die behoefte laat ontstaan vir ʼn nuwe raamwerk vir grondhervorming.

“Die bestaande beleid, wetgewing en die toepassing daarvan het nie die ruimtelike ongelykheid in landelike of stedelike gebiede voldoende aangeraak nie. In hierdie verslag word alternatiewelike strategieë vir grondverkryging en modelle vir grondbesit oorweeg, die begunstigde kwalifiserings- en keuringsproses en entiteite wat grond besit, hersien, asook kennis geneem van die belang van nuwe wetlike en ander raamwerke.”

Die paneel stel onder meer voor dat daar ʼn gekonsolideerde beplanningstelsel op die been gebring word met riglyne vir beste praktyk vir belynbeplanning, begroting en inwerkingstelling. Daar word ook ʼn enkele nasionale dataportaal vir alle grondverwante inligting aanbeveel.

Die toewysing van reeds verkrygde grond deur die staat bied volgens die verslag ʼn geleentheid om grondhervorming onmiddellik te bevorder. Die grondvraag is egter nie net beperk tot die landbou nie, maar hou ook verband met stedelike en voorstedelike grond.

“Wat ons hier voorstel, is om die grondvraag op ʼn geïntegreerde en allesomvattende manier te hanteer. So, waar moet die grond vandaan kom om hierdie fundamentele vraag wat postapartheid-Suid-Afrika in die gesig staar, op te los? Die verskillende grondbronne om aan die verskillende eise vir grond te voldoen, sal deur middel van verskillende verkrygingsmetodes, wat ‘vrywillige’ skenkings insluit, verkry word.”

Didiza en ander lede van die paneel tydens die bekendstelling van die verslag.

Volgens die paneel sluit dit in vanaf kerke, mynhuise, grond wat onteien is van afwesige verhuurders, munisipale grond en meentgrond, staatsgrond wat nie onder voordelige gebruik is nie waaronder grond wat deur staatsondernemings besit word, stedelike verhuurders, kommersiële boere onder wie wildboere en bosbouers, landbou-ondernemings en grondherverdelingsplase wat in nood en naby aan mislukking is.

Daar word verder aanbeveel dat ʼn proaktiewe en doelgerigte grondverkrygings- en toekenningsprogram op die been gebring word. Dit sal openbare en private grond insluit en die uitkomste daarvan sal gefokus wees op die verkryging en oordrag van grond wat goed geleë is vir spesifiek geïdentifiseerde individue, groepe en gemeenskappe.

Die paneel stel voor die beginpunt vir grondherverdeling moet wees om die aard van die vraag te bepaal, naamlik wie wil watter grond hê, waar en vir watter doeleindes. “Dit vereis ʼn beoordeling van die grondvraag en geleentheid vir sinvolle en demokratiese konsultasies op plaaslike vlak.”

Daar word ook aanbeveel dat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moet vasstel of ʼn nasionale oudit van grond in openbare en private besit haalbaar is.

“Daar moet bepaal word watter meganismes daargestel kan word sodat hierdie inligting gereeld bygewerk, geografies geskei en in die openbaar beskikbaar gestel kan word.”

Die volledige verslag kan hier verkry word. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

Die mense wat dink dat die hemel op hulle gaan neerdaal as hulle grond sonder vergoeding gaan bekom sonder inagneming van eiendomsreg, maak ‘n baie groot denkfout.

Wurmpie

Waar doen ek aansoek vir grond. Ek wil ook so stukkie hê langs die rivier of so

Jerry

Behalwe vir die verandering aan die grondwet en kerke wat oorgeneem sal word deur getalle, is die verslag nie te sleg nie, dit kon erger gewees het. Die verslag soos almal behoort te weet is nie die probleem nie. Die probleem kom by die implementering daarvan deurdat ANC kaders agv hulle ideologiese denke nie ter goeder trou kan handel nie en ingestel is op totale de-kolonialisasie. Politieke partye se skadu ministers gaan dus saam met die regerende party se minister verantwoordelikheid moet neem in n oorsigdanende rol met implementering. Selfs in komitees sal opposisie partye hulself baie sterk moet laat… Lees meer »

CJ

Beteken dit in praktyk: (a) Vermoor die boer op sy plaas (b) Die grond raak “verlate” omdat niemand meet daarop boer en/of wil koop nie (c) Die grond is nou in terme van die wet “verlate grond” en kan dus deur die Staat wettiglik onteien word.

Pieter

Didiza was useless as minister van landbou. Hulle gaan alle bates vat as die grondwet verander word. Hoop hulle vat my skuld ook en gee my boedel- en kapitaalwinsbelasting terug. Dan kan ek êrens anders gaan bly.