Paneel peper kandidate in NDOV-onderhoude

Adv. Matodzi Rachel Makhari, die hoofaanklaer in Noordwes. Foto: Oupa Mokoena/African News Agency

Die onderhoude vir die pos van nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) word vandag in die Uniegebou in Pretoria voortgesit.

ʼn Aantal van die 11 kandidate wat vir dié invloedryke posisie oorweeg word, het gister reeds hul onderhoude voor die aanbevelingspaneel afgehandel. Een van hulle is adv. Matodzi Rachel Makhari, die hoofaanklaer in Noordwes. Sy het aan die hof gesê sy glo sy is bekwaam en die gepaste kandidaat om die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te lei.

Adv. Jaap Cilliers SC, een van die paneellede, het vir Makhari gevra, aangesien sy geen ervaring in ʼn hooggeregshof het nie, hoe sy mense sal bestuur wat meer ervaring het en al sake in hoër howe hanteer het.

Makhari het hierop gesê sy sien nie haar gebrek aan hooggeregshofervaring as ʼn probleem nie. “Ek sien dit glad nie as ʼn belemmering nie, want met ingewikkelde hoëprofielsake is dit in die meeste gevalle spanwerk wat betrokke is en nie net een mens wat die saak hanteer nie. Inteendeel, as ek terugkyk na die vorige NDOV’s wat ook die prosesse gedryf het met vervolgings in hoëprofielsake, sal jy sien hulle het nie almal dieselfde soort ervaring gehad het nie.”

Makhari het gesê sy meen die belangrikste rol van die NDOV is om die regte mense te identifiseer om ʼn spesifieke saak te hanteer. “Iemand sal byvoorbeeld spesialiseer in kubermisdade, maar nie in rampokkery nie, so hoewel albei aanklaers ervare is, sal hulle in verskillende velde ervare wees.”

Oor haar bynaam “Dragon Lady” het sy gesê sy word só genoem omdat sy haar werk sonder vrees of vooroordeel doen. “Wanneer jy ʼn goeie leier is, beïnvloed jy die mense bo en onder jou. Die impak wat ek op ons afdeling het, word nie net in my groepering gevoel nie, maar ook in ander. Elke keer wanneer ons geleenthede of vergaderings het, gee hulle my ʼn geleentheid om met ander aanklaers te praat oor kwessies rakende leierskap. Dit wys dat hulle insien dat dít die soort persoon is wat dit vat,” het sy gesê.

Lutendo Sigogo van die Black Lawyers Society het Makhari gevra of daar enige mense is wat dalk dink sy skuld hulle ʼn guns en sal probeer om haar top-posisie te misbruik om hul eie belange te bevorder. “Ek het nie mense wat sal probeer om my te beïnvloed nie,” het sy geantwoord.

“Wat ek al bewys het met die manier hoe ek leef is dat nie maklik sal wees om my te beïnvloed om iets te doen wat verkeerd is nie. Ek kan dit nie doen nie.”

Adv. Silas Ramaite, tans die waarnemende hoof van die NVG, is tydens sy onderhoud deur paneellede gekritiseer omdat die antwoorde wat hy op vrae gee vaag en “filosofies” is.

“Die probleem is, advokaat, jy antwoord vrae nie direk nie. Dit is die frustrasie wat die paneel ervaar. Daar word reguit vrae aan jou gevra en dan is jy baie filosofies en verwys na die Britse hoërhuis. Terwyl ons hier in Suid-Afrika is, wil ons weet wat gebeur by die NVG. Wat is die pad wat jy gaan stap as jy as NDOV aangestel word,” het Jeff Radebe, voorsitter van die paneel, gesê.

Adv. Silas Ramaite, waarnemende hoof van die NVG. Foto: ANA

Later het Thembekile Kimi Makwetu, ouditeur-generaal en ook lid van die paneel, opgemerk dat Ramaite nie die paneel die geleentheid gegee het om insig in die NVG te kry nie. Cilliers het op sy beurt gesê Ramaite se antwoorde is kommerwekkend. Hy het hom gevra of hy saamstem dat die NVG tans in ʼn krisis is.

Ramaite het nie met die stelling saamgestem nie. “Soos ons nou hier praat, nee. Nie nou nie. Toe ek gevra is om waar te neem, was daar beslis ʼn groot uitdaging, veral op hoofkantoorvlak. As jy kyk wat nou gebeur, in die kantore van die direkteurs van openbare vervolging, was daar baie verbetering in terme van die werk wat tans gedoen word,” het hy gesê.

Cilliers het Ramaite ook gevra of hy weet van enige probleme wat verband hou met verhoudings binne die NVG wat die instansie kniehalter. “In dié stadium is ek nie bewus van enigiets van dié aard nie. Dit is nie onder my aandag gebring nie,” het hy geantwoord.

Die onderhoude met die kandidate sal na verwagting teen môre afgehandel word. Die paneel moet minstens drie kandidate by die president aanbeveel waarna pres. Cyril Ramaphosa die finale besluit en aanstelling sal maak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Dit wil voorkom of al hierdie kandidate ‘n baas nodig het om leiding te neem en in die verlede was dit politieke figure. Noordwes is nie eintlik ‘n voorbeeld van goeie bestuur nie en die kandidaat van daar het in die verlede skynbaar nie eintlik haar kop uitgesteek oor die verkeerde nie. Die huidige hoof rook ook nie die pyp nie. Nasionale Vervolging se probleme gaan aan poer-poer. Etiek is ‘n onbekende mistieke faktor waaroor daar net in kerke gepreek word en dit deur vreemde uitlanders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.