‘Panga-moordenaar’ hoor oor borgtog

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat daarvan beskuldig word dat hy ʼn man in Marikana, naby Rustenburg, met ʼn panga doodgekap en toe sy bloed gedrink het, het Woensdag in die Bafokeng-landdroshof om borgtog aansoek gedoen.

Landdros Edward Morweng het Aubrey Goeneone Setsong (37) se borgtogaansoek geweier en gesê Setsong het nie buitengewone omstandighede bewys wat sy vrylating op borgtog regverdig nie. “Hierdie aansoek was op die belang van geregtigheid gegrond en nie op buitengewone omstandighede nie.”

Hy het bygevoeg dat Setsong moontlik kan vlug en dat dit nie vir die polisie maklik sal wees om hom op te spoor nie, aangesien die inwoners van Marikana-Wes in Desember ʼn optog na die polisiestasie gehou het om die polisiebevelvoerder in te lig dat polisiebeamptes nie in hul buurt welkom is nie.

Die landdros het ook gesê daar is ʼn sterk moontlikheid dat Setsong getuies kan intimideer. “Ao. [Victor] Ramorwesi, die ondersoekbeampte in die saak, het aan die hof gesê dat twee getuies gesien het hoe die beskuldigde die oorledene met ʼn panga in sy kop en lyf kap en sy bloed drink. Hierdie twee getuies kruip nou weg na aanleiding van die situasie in Marikana.”

Hy het gesê Setsong se lewe kan in gevaar wees, sou hy op borgtog vrygelaat word.

Setsong word saam met vyf ander, onder wie die gemeenskapsaktivis Napoleon Webster, aangekla. Die staat beweer die ses mans was deel van ʼn groep van meer as 30 mense wat ʼn man op 8 Desember in Marikana-Wes met pangas doodgekap het.

Die voorval het glo gespruit uit die onwettige bewoning van Hop-huise wat ʼn vete tussen ANC en EFF-lede in die gebied veroorsaak het.

Die saak is tot Vrydag uitgestel nadat Setsong se regsverteenwoordiger aan die hof gesê het dat hy ʼn nuwe borgtogaansoek sal indien, gegrond op nuwe feite wat glo eers aan die lig gekom het nadat hy reeds sy saak gesluit het.

Die aansoek is toegestaan en die datum van die borgtogaansoek sal Vrydag vasgestel word. Setsong sal na verwagting dieselfde dag ook in die borgtogaansoeke van sy medebeskuldigdes getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.