Pantser jou beursie, want nog rentekoersverhogings kom

Verbruikers moet hulle staal vir verdere rentekoersverhogings wat die koste van ‘n huisverband gaan opjaag. (Grafika: pixabay)

Suid-Afrika se rentekoerse is op ʼn opwaartse kurwe en diegene met huislenings sal hulle moet staal vir verdere rentekoersverhogings.

Ná twee jaar van betreklik lae huisleningskoste is die prentjie nou besig om te verander. Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê rentekoerse sal vanjaar na verwagting met ʼn verdere persentasiepunt styg.

Die rentekoersverhoging van 50 basispunte wat verlede maand aangekondig is, was die grootste in jare en het die repokoers op 4,75% te staan gebring.

Huiseienaars en voornemende kopers sal heelwat aanpassings moet doen om voorsiening te maak vir hoër terugbetalings – terwyl die prys van kos en brandstof boonop bly styg.

Vir middelklas huiseienaars en voornemende eiendomkopers, beteken ʼn styging van 1,25% in die rentekoers ʼn verhoging van tussen R600 en R1 200 per maand op ʼn verband van tussen R750 000 en R1,5 miljoen.

Die verwagte styging van 100 basispunte beteken kopers sal ʼn ekstra R500 tot R1 000 moet begroot vir ʼn huislening van tussen R750 000 en R1,5 miljoen.

Seeff sê kopers moet oorweeg om ʼn goedkoper eiendom as dit waarvoor hulle begroot het te koop om ʼn finansiële buffer te skep.

Dus, pleks daarvan om ʼn eiendom van R750 000 (met ʼn volle verband) teen ʼn koste van sowat R6 400 per maand te koop, sal ʼn eiendom van R690 000 jou sowat R5 900 per maand kos. Dit is ʼn besparing van sowat R500 per maand.

ʼn Eiendom van R1,5 miljoen se paaiement beloop sowat R12 800 per maand, terwyl ʼn eiendom van R1,35 miljoen jou sowat R11 500 per maand gaan kos – wat beteken die goedkoper eiendom help om ʼn buffer van sowat R1 200 per maand te skep.

Die belegging van ʼn deposito is nog ʼn manier om maandelikse paaiemente te verminder, sê Seeff.

As jy reeds ʼn huisverband het, kan dit in die komende maande fyn voetwerk kos om die boeke te laat klop.

As jy boonop ander skuld het, soos ʼn kredietkaart of motorlening, sal jy ook hier vir ʼn hoër terugbetaling moet begroot, terwyl voedsel-, brandstof- en ander huishoudelike uitgawes jou ook meer gaan kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

annie ·

Hierdie Hollywoodspeletjie van die beautiful oom van die Reserwebank raak skynbaar nie sy bankrekening en dié van sy medepligtiges nie, maar die volk gaan begin amok maak en dit gaan nie mooi wees nie.

Alida ·

Toe ons sowat 40 jaar gelede ons eerste huis gekoop het, was die inflasiekoers omtrent 16% en die rentekoers op ons huisverband omtrent 18%. Dit is as ‘n mens enigsins ‘n huislening kon kry. As jy nie ‘n behuisingsubsidie van jou werkgewer gekry het nie, was jou kans om ‘n huislening te bekom omtrent nul. Hiermee sê ek maar net dinge kan nog baie slegter gaan, maar dinge kan ook weer verbeter. Hoër rente is voordelig vir diegene met spaargeld, dus is dit nie almal wat negatief getref word nie.

JohanR ·

Hoop die ANC gaan sop kombuise opsit waaneer die kos pryse en die honger begin byt maar ek hou nie my asem op. Hulle sal hulself eerder seker ‘n 15% verhooging gee!

Alfred E Neuman ·

Seef praat nonsens. Wie wil in n plakkerskamp gaan bly en R500 spaar?

Voilet ·

Hul pocket al die geld , terwyl die res van ons mense nie meer kan oorleef nie. Hoe meer hul vra hoe beter vir hul beursies!!!!

VaalDonkie ·

Dieselfde Seeff wat in 2020 almal aangepor het om te “koop want die rentekoerse is laag”.

Alida ·

Inderdaad. Nou wil hulle weer hê almal moet verkoop en goedkoper huise koop sodat hulle weer kommissie kan verdien. Om nie te praat van die duur oordragskoste wat betaal moet word as mens huis koop nie. Nee wat, sny net die rieme dunner en probeer bly waar jy is. Probeer vir ‘n langer afbetaaltydperk beding met jou bank as jy nie jou verband kan bekostig nie, maar bly waar jy is.

VaalDonkie ·

Ek het my sommetjies gemaak met ‘n rentekoers van 12% (soos dit was voor COVID). Ek het toe my bekostigbaarheid daarop bereken. Ek het ‘n rentekoers van 6.5% by FNB gekry. So ek was dankbaar en bly en alles, maar ek het voorsiening gemaak vir amper dubbel. Net omdat ek geweet het die paartie gaan nie lank hou nie. En ek meen, hier in die Kaap kry jy eenvoudig net nie huise onder R1.5 miljoen nie. Selfs woonstelle is oor die R1m. En selfs meer as jy ‘n garage soek.

Swerwer ·

Ja nee, die ANC /EFF moet iewers geld bymekaar maak vir hul verkiesing in Desember.

Elizabeth ·

Ek dink ons almal het geweet die rente koerse gaan weer styg. Ons almal het geweet dit was die afgelope paar jaar die laagste ooit… wat was dit – 50 jaar? Hierdie moes kom en sou altyd kom - die middel 80s selfde storie…. 2005 (daar rond )selde storie. Moenie verbaas wees as ons by 15% gaan draai nie. Daar was duisende finansiële praatjies oor mense wat nie moet oor kapitaliseer nie. My opinie is….. ek hoop en vertrou jy het nie geoorkapitaliseer nie.

Die goeie nuus is wel na hierdie slegte periode volg daar altyd ‘n sterk groei in die ekonomie.

Pyl ·

Rentekoerse moes eindlik daal. Inflasie is rekord hoog en mense het nie verhogings gekry nie. Dit nadat ‘n rekordgetal nuwe huiskopers in 2020/21 ontstaan het. Ons ekonomie is pa, hoër rentekoerse gaan slegs die situasie vererger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.