Pap band fnuik inbrekers

Argieffoto: Phillip Bruwer

ʼn Vermeende inbreker is in die ooste van Pretoria in hegtenis geneem nadat sy wegkommotor ʼn pap band gekry het.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die Brooklyn-polisie, het gesê beamptes van die Tshwane-Sentraal-streek was Sondag omstreeks 13:00 besig met misdaadvoorkomingspligte teen trio-misdade (kapings, huisroof en sakeroof) in Brooklyn toe hulle inligting ontvang het van ʼn inbraak.

“Hulle het inligting ontvang om vir ʼn wit Toyota uit te kyk wat vroeër die dag by ʼn inbraak in Hazelwood betrokke was,” het Weilbach gesê.

“Hulle het die Toyota, met vier insittendes, kort daarna by ʼn vulstasie in die omgewing opgemerk. Die motor het ʼn pap band gehad. Die vier insittendes het weggehardloop toe hulle die polisiebeamptes opgemerk het.”

Die polisie het die verdagtes agternagesit en een van die verdagtes aangekeer. “Die ander drie kon daarin slaag om in ʼn minibustaxi te ontsnap en is steeds soek.”

By nadere ondersoek is vasgestel dat die motor wat die verdagtes gebruik het, in Mei vanjaar in Villieria gesteel is. Ware wat tydens die inbraak gesteel is, is in die motor gevind.

Die 37-jarige verdagte van Mamelodi moet binnekort in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn op aanklag van huisbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johnny_walker ·

ja nee jy moet jou motor onderhou jong , anders laat dit jou in die steek op die kritieke tye
maar dan weer dit was ook tien teen een nie sy motor nie , lekker man lekker

BANG JAN SE VROU ·

Drie hoera’s vir die taxi! Hy’t ‘n krimineel tot hulp gekom. Nog drie hoera’s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.