Pap wiel pootjie vermeende veedief

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Vermeende veedief wat as gevolg van ʼn pap wiel langs ʼn pad in die Vrystaat gaan staan het, verskyn volgende week weer in die hof nadat hy met verskeie beeskarkasse op ʼn bakkie betrap is.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die Virginia-polisie het saam met boere in die Theunissen- en Virginia-omgewing saamgewerk om die verdagte in ʼn wit Colt-bakkie met vermoedelik gesteelde vee agterna te sit. Die man is intussen as Mohau Mamaseli (25) geïdentifiseer.

Die boere het hommeltuie gebruik om die voertuig mee dop te hou, terwyl hulle deurlopend in verbinding was met ʼn lid van die Virginia-polisie se landelike veiligheidseenheid.

“Die voertuig is opgespoor en gevind waar dit met ʼn pap wiel op die R730 tussen Virginia en Welkom langs die pad gestaan het,” het Makhele gesê.

“Die voertuig was vol beesvleis, waarop beslag gelê is. Vyf ander verdagtes het van die toneel gevlug voordat die polisie en boere daar aangekom het, en is steeds soek.”

ʼn Saak van veediefstal is aanhangig gemaak.

Makhele het gesê daar is vasgestel dat die vee op ʼn plaas in die Theunissen-omgewing gesteel is.

Enigiemand met inligting oor waar die ander verdagtes hulle bevind, kan sers. Mojalefa Mota, verbonde aan die polisie se eenheid vir veediefstal- en bedreigde spesies, bel by 078 044 7011.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Hommeltuie is fantastiese instrumente om gebiede te patroleer en skuldiges aan te keer. Laat die stroper maar praat om sy maatjies vas te trek.”Honger” geskep deur ANC beleid is ‘n groot bedreiging vir ons land

Coenraad ·

Die ‘verdagte’ dief kan laat praat word oor wie sy makkers is! Kán, maar dit sal nie gebeur nie.

SWAREB1962 ·

Baie dankbaar dat daar nie “boer of werkers” lewensverliese was in die geval nie. Dankie Vader.
Hoop hul trek sy makers vinnig vas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.