‘Pappa, daar’s ’n padda in my burger’

Die padda was met mayonnaise besmeer [Foto: Verskaf]

’n Gesin van Secunda, Mpumalanga, sal nie sommer weer by McDonald’s draai nie nadat hulle Vrydagaand ’n padda in een van hul wegneem-hamburgers gekry het.

Willem en Angeline Bezuidenhout en hul vyf kinders het vroeg die aand ʼn paar McDonalds-burgers bestel om die besige week mee af te sluit. ʼn Afleweringsdiens het die wegneemetes by die gesin se huis afgelewer.

Toe die burgers aankom, het die Bezuidenhout-egpaar se 13-jarige dogter oudergewoonte haar McChicken-burger van bo af oopgemaak. Alles het reg gelyk en haar mond het gewater.

“My dogter het van die een kant so twee, drie happe uit die burger geneem. Toe sy die burger omdraai, het sy die padda se pootjies sien uitsteek,” vertel Willem.

“My dogter het gegil en my geroep. ‘Pappa, hier is ’n padda in my burger,’ het sy gesê. Ek het gedink: Wat is die kanse dat daar ’n padda in ’n McDonalds-burger kan wees? Ek het haar nie geglo nie en gaan kyk. So waar as vet: Daar sit die skarminkel.” Die padda was halfpad met mayonnaise besmeer.

Willem sê ’n gevoel van skok en absolute ongeloof het soos ’n skaduwee oor die huis gehang. “Jy sien hierdie tipe goed net in die flieks.”

Hoewel die gesin aanvanklik gedink het die padda leef nog – omdat hy volgens Willem nog “geblink” het – was dié koudbloedige dier reeds dood.

Die padda se pootjies het by die burger uitgesteek [Foto: Verskaf]

Teen daardie tyd het die ander boeties en sussies reeds hul burgers figuurlik ingeasem en het hulle sit en wonder oor watter verrassings dalk op húlle burgers weggekruip het.

Angeline het McDonald’s se kliëntediens gebel, maar volgens Willem het dié nommer nie gewerk nie. Sy het toe met die “McFroggie-burger” in haar motor geklim en McDonald’s toe gery.

Daar het sy die vloerbestuurder van hul penarie vertel. “Die bestuurder was met verlof en die vloerbestuurder het telefonies met die bestuurder gesels. Die bestuurder het die vloerbestuurder in kennis gestel dat ons nie die burger se geld kan terugkry nie en dat die restaurant nie vir ons ’n vars burger kan maak nie.”

Volgens Willem het die vloerbestuurder die gesin ook nie om verskoning gevra nie en die skuld op die afleweringsdiens geplaas.

Die bestuurder van McDonald’s het aan Maroela Media gesê dat sy in dié stadium geen kommentaar wil lewer nie.

Willem vertel omdat dit so ʼn een‑uit‑’n‑miljoen‑ervaring” vir die gesin was, het hy besluit om ’n inskrywing op Facebook daaroor te maak.

Dit het meer as 800 kommentare ontlok van mense wat hul slegte ervarings met wegneemkosplekke gedeel het. Die inskrywing is ook meer as 2 000 keer op dié sosialemediaplatform gedeel.

“Vriende en kennisse het my selfs na afloop van die inskrywing gebel om hul ervarings met wegneemkosplekke te deel.”

Willem sê McDonald’s sal sy gesin nie weer sien nie.

“Ek glo nie ons sal sommer gou weer daar kos koop nie. Ons het ons vertroue in dié restaurant verloor.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

45 Kommentare

jongste oudste gewildste
Antoinette

Baie jammer vir julle ervaring. Ons het by n restaurant gaan burgers eet en die onaangenaamste ervaring gehad. Hulle het op die burger pattie geglop. Nog nie weer my voete daar gesit nie.
Paar plekke wat ek geen kitskos koop nie. Slat eeder n rooster broodjie vir myself aanmekaar.

Swerwer

Dit is nie die eerste keer wat McDonald’s in die nuus is nie. Gelukkig het ons al jare gelede gestop met wegneemetes van ketting groepe. Koop slegs wegneemetes as ons vertroud is met die personeel/eienaar en weet dat alles skoon is.

Vanessa

O liewe hemel, ek is nou so naar ek kan iets oorkom. ‘n Padda van alle dinge. Dit is skokkend, McDonald’s sien my nie weer nie!!!!!

Madeleine

Goeie idee om kinders van Mc D afgesit te kry :)

Marius

Dit nou weereens ‘n bewys dat mc “froggie” donalds uitgeleef is en dat ‘n, baie goedkoper, tuisgemaakte burger enige wegneem burger se boude skop. Ek sal nooit weer by mc donalds en ‘n paar ander befaamde restaurante indraai nie….