Die 14-jarige Ntando Mahlangu het Sondag ʼn sesde medalje vir Suid-Afrika verower by die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië.
Mahlangu het, skaars vier jaar nadat hy vir die eerste keer leer loop het, ʼn silwermedalje verower in die 200 m vir mans en boonop die Afrika-rekord verbeter. Dit is ʼn merkwaardige prestasie vir dié tiener wat teen die beste mans in sy kategorie deelgeneem het.
Mahlangu het die 200 m in 23,77 sekondes afgelê. Richard Whitehead (40) van Engeland het die gouemedalje ingepalm ná 23,39 sekondes. David Henson (32) moes in die derde plek tevrede wees met ʼn tyd van 24,74 sekondes.
Mahlangu het aan die T42-kategorie deelgeneem, vir atlete wie se bene bó hul knieë geamputeer is.
Daar is nie ʼn 400 m-wedloop vir T42-atlete nie, maar Mahlangu sal later vandeesweek ook aan die 100 m deelneem.
Dit is Span Suid-Afrika se sesde medalje by die Paralimpiese Spele en die land is nou 15de op die ranglys.
Volg al die aksie van Span Suid-Afrika by die Paralimpiese Spele 2016 op Maroela Media.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
13 Kommentare
Merkwaardige prestasie en dit op 14. Iemand om dop te hou
Baie geluk!
Jou klein yster, knap gedaan ou seun.
Wonderlike prestasie.
Baie geluk! Dis voorwaar ‘n prestasie om op trots te wees.