Paralimpiese swemmer uit koma gebring

Die voormalige Paralimpiese swemmer Achmat Hassiem. (Foto: Twitter)

Achmat Hassiem, die voormalige Paralimpiese swemmer wat jare gelede ʼn haai-aanval oorleef het, is vandeesweek bygebring nadat hy enkele weke lank in ’n geïnduseerde koma gehou is ná ’n rugoperasie.

Hassiem is sowat twee weke gelede in ’n hospitaal in Kaapstad in ’n geïnduseerde koma geplaas weens komplikasies ná ’n “roetine‑operasie” aan sy rug .

Taariq Hassiem, Achmat se broer, het vanoggend aan Maroela Media bevestig dat sy broer uit die koma gebring is en sy oë oopgemaak het. Achmat reageer egter nog nie.

Achmat is ook nog aan ’n ventilator gekoppel, hoewel die masjien bloot sy asemhaling ondersteun en nie namens hom asemhaal soos vroeër nie.

“My broer het op sy eie begin asemhaal. Dit is massief vir ons.”

Taariq het vertel dat dit ’n baie moeilike tyd vir die familie is, hoewel hulle ’n baie goeie ondersteuningstelsel het.

“Dit is maar baie spanningsvol om jou geliefde in ’n koma te sien lê. Daar is ook nie veel wat ons as die familie kan doen nie en ons voel maar hulpeloos.”

Taariq vra vir gebede vir sy broer en familie.

Achmat het in 2012 ’n brons medalje op die Paralimpiese Spele in Londen verower en sy land by die Spele in Beijing en Rio verteenwoordig.

Dít nadat hy sy regterbeen in 2006 verloor het toe hy deur ’n grootwithaai in die water by Muizenberg in Kaapstad aangeval is.

Achmat het egter in 2016, ná die Paralimpiese Spele in Rio, as professionele swemmer uitgetree en hom intussen vir die bewaring van mariene lewe beywer, onder meer die bewaring van bedreigde haaispesies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Sterkte aan hom en sy familie. Hoop hy sal sommer gou gesond word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.