Paramedici beroof ná vrou geboorte skenk

Argieffoto

Paramedici is Woensdagaand in Port Elizabeth beroof terwyl hulle besig was om ʼn vrou by te staan wat pas geboorte geskenk het.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van gesondheid, het Donderdag gesê die voorval het omstreeks 22:00 in Tutastraat in New Brighton plaasgevind.

“Twee nooddienspersoneellede was in die vrou se huis en het haar behandel nadat sy geboorte geskenk het. Een van die lede het buitentoe gegaan en na die ambulans gestap toe sy deur ʼn man gekonfronteer is,” het Kupelo gesê.

“ʼn Stoeiery het ontstaan en haar kollega het uit die huis uit gegaan om ondersoek in te stel toe hy deur ʼn ander man met ʼn vuurwapen aangehou is. Dié verdagte het ʼn vuurwapen op die lede gerig en op al hul besittings, insluitend hul beursies en selfone, aangedring.”

Volgens Kupelo het die slagoffers hulp oor die ambulans se radio ontbied. Hy het gesê hul skofleier en ander kollegas het hul na die toneel gehaas om hulle te gaan help.

“Daar was lede van die gemeenskap op die toneel, maar hulle kon niks doen om die paramedici te help nie. Die twee rowers kon daarin slaag om te ontsnap. Niemand het beserings opgedoen nie en geen skote is afgevuur nie. Albei personeellede is ongedeerd, maar geskok, en sal berading ontvang.”

Die ma en haar pasgebore baba is ná die voorval na die Dora Nginza-hospitaal geneem vir behandeling en hulle is in ʼn gesonde toestand.

Die departement het die voorval veroordeel en gesê ʼn reeks soortgelyke voorvalle in die Port Elizabeth-omgewing het nooddienste genoop om ʼn situasie-analise te doen voor daar op noodgevalle reageer word.

“Personeel sal nou in spanne uitgaan en as ʼn toneel verdag lyk, sal hulle eers die naaste polisiestasie bel en versoek dat hulle na die noodgeval vergesel word. Dit sal beslis ʼn uitwerking op ambulanse se reaksietyd hê, wat moontlik tot komplikasies of selfs sterftes kan lei,” het Kupelo gesê.

Hy het gesê die departement streef daarna om vinnige en doeltreffende diens te lewer, maar die veiligheid van personeel is ewe belangrik en die departement kan nie hul lewens in gevaar stel nie.

Kapt. Andre Beetge, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mielie ·

Daar behoort n lewens vonnis vir sulke misdade te wees. Die land is wetteloos.

YEBO ·

Yes that is the SOUTH AFRICA you FOUGHT for and the FREEDOM you fought for and the VOTE you fought for and the LAND you fought for!

christa ·

nog ‘n rooftog en ANC sit handegevou en dink ander lande loop ook met oogklappe aan

Anoniem ·

Dit is ook maar goed dat Maroela Media n filtrerings sisteem het. Anders sou party van die kommentare op hierdie blad darem maar baie kras gewees het…
Hoe siek in die kop moet jy wees om so iets te doen??

Cherokee ·

Maar die massa stem ten spyte van wat hulle sien gebeur, steeds dieselfde.

Riouna Martin ·

Hi nee ek het gedink ek het al als gehoor en dat niks my meer kan skok nie maar dit is belaglik! Weet julle wat hier is geen hoop vir SA nie niks. Mense besef julle hoe het dinge hand uit geruk die laaste twee jaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.