Paramedici by gewilde toeristeplek aangehou, beroof

Die Howick-waterval. Argieffoto (via wikipedia.org)

Die Howick-waterval. Argieffoto (via wikipedia.org)

Twee vroueparamedici van ER24 is Dinsdagoggend by ʼn gewilde toerisme-aantrekkingspunt naby die Howick-waterval in KwaZulu-Natal aangehou en beroof.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die voorval het omstreeks 09:50 plaasgevind toe daar nie besoekers of toeriste daar was nie.

“Paramedici wag gewoonlik in hul voertuie op noodgevalle by dié aantrekkingspunt. Mense wat aandenkings by stalletjies verkoop, was nog besig om dit uit te pak toe ʼn jong man die vroue in die ambulans genader en met ʼn groot mes aangehou het,” het Vermaak gesê.

Die man het die vroue, onderskeidelik 27 en 35 jaar oud, gedwing om af te kyk en hul selfone en geld in hul beursies uit te haal. “Hy het hulle gedreig en opdrag gegee om hul simkaarte uit die selfone te haal voordat hulle dit aan hom oorhandig het.”

Die verdagte het met twee Samsung-selfone en R110 kontant gevlug.

“Volgens van die stalletjie-eienaars het hulle die man na die rivier en teen die wal op sien weghardloop in die rigting van ʼn informele nedersetting. Hulle het gesê dit is glo die vierde voorval die afgelope week waarin ʼn jong man mense beroof het.”

Die polisie is ontbied wat saam met die honde-eenheid in die omgewing na die man gesoek het. Die ondersoek duur voort.

Die twee vroue is na ʼn nabygeleë Mediclinic geneem vir waarneming en traumaberading.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.