Paramedici geloof vir Vrouedag-heldedaad

Die dapper Kirsty Hochfelden, Warren Camealio en Alice Phunguphungu. (Foto: Netcare 911)

Twee vroulike paramedici het op Vrouedag behoorlik hul staal gewys toe hulle saam met hul manlike kollega in ’n brandende gebou in Milnerton, Kaapstad, ingehardloop het om ’n man te red.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het die dapper Kirsty Hochfelden, Alice Phunguphungu en Warren Camealio Donderdagoggend omstreeks 10:50 op ’n brandende gebou in Millvale-weg afgekom.

Dié drie het by die brandende gebou stilgehou en ingehardloop om hand by te sit aangesien daar in daardie stadium nog geen nooddienste op die toneel was nie.

’n Man wat aan rookinaseming gely het kon deur dié drie paramedici se heldedaad uit die gebou gered word. Talle troeteldiere is ook betyds uit die gebou gebring.

“Die dapper paramedici het hul lewens op die spel geplaas en sonder skroom in die brandende gebou ingehardloop, welwetend hoe gevaarlik dit is,” het Herbst gesê.

“Netcare 911 wil graag eer betoon aan ons twee dapper vroulike bemanningslede en hul kollega vir hul heldedaad op Vrouedag om ’n ander mens se lewe te red, ” sê Herbst.

Die brandende gebou. (Foto: Netcare 911)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karolis ·

Wonderlik om te sien mense gee nog om. Alle nodige eer aan die bemanningslede en hulle kollega vir hulle heldedaad.

Nettie ·

Alle eer aan dié drie paramedici, wat nie alleen net ‘n mense-lewe gered het nie, maar ook hul eie veiligheid en gesondheid op die spel geplaas het om troeteldiere te red. Dit is die eerste ding wat ek sal gryp as ‘n brand in my huis uitbreek: my huisdiere en my handsak; die res kan mens vervang ……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.