Paramedici glo teen hul sin aangehou by hospitaal

Foto: Rescue Care, Facebook

Foto: Rescue Care, Facebook

Twee paramedici van Rescue Care is Dinsdagoggend teen hul sin by die King Edward-hospitaal in KwaZulu-Natal aangehou.

“Veiligheidswagte het geweier dat die paramedici die perseel verlaat en hulle het die hekke gesluit en hulle ondervra,” het Garrith Jamieson, bedryfsbestuurder van Rescue Care, in ʼn verklaring gesê.

Die twee paramedici het pasiënte, wat tydens ʼn motorongeluk op die M7 beseer is, na die hospitaal geneem. “Die ongevalle-eenheid het egter geen pasiënte gehad nie en die verpleegsters het ʼn vergadering gehad en die paramedici vir ongeveer 10 minute lank geïgnoreer,” het Jamieson verduidelik. “Een van die paramedici het ʼn foto geneem om te gebruik wanneer ʼn formele klag teen die personeellede ingedien word. Die verpleegsters het egter toe op hulle begin skree omdat hulle die foto geneem het, en het die veiligheidswagte ontbied.”

Volgens die verpleegsters wou hulle nie help nie, omdat die paramedici die hospitaal nie vooraf in kennis gestel het dat hulle die pasiënte bring nie. “Die paramedici het egter probeer verduidelik dat dit ʼn hospitaal is en dat hulle gereed moet wees vir enige noodgeval, aangesien hul bord buitekant ’24 uur nooddiens’ aandui,” het hy bygevoeg.

Twee veiligheidswagte van KZN Security Services wat in diens is van die hospitaal, is glo ontbied en hulle het glo voor die publiek met die paramedici begin stry. Hulle het glo die paramedici gedreig en probeer om hulle te dwing om na die sekuriteitskantoor te gaan, maar die paramedici het geweier. “Rescue Care se bestuur is ook na die hospitaal ontbied,” het Jamieson gesê.

“Die veiligheidshekke is gesluit en die ambulans en paramedici is nie toegelaat om die perseel te verlaat nie. Hulle is teen hul sin aangehou,” het hy bygevoeg. Die twee beamptes het glo ook die bestuur van Rescue Care gedreig en die polisie is uiteindelik ontbied om die situasie op te los. “Toe die polisie opgedaag het, het die veiligheidswagte die hekke oopgesluit. Die voorval het ongeveer twee ure lank geduur en die paramedici kon nie behulpsaam wees tydens ander noodgevalle nie.”

Jamieson het gesê dit is ʼn algemene probleem by King Edward-hospitaal. “Die hospitaal word slegs vooraf in kennis gestel indien ʼn pasiënt kritiek beseer is of indien daar verskeie persone is wat beseer is. Pasiënte in ʼn stabiele toestand word na die hospitaal wat die naaste aan die ongelukstoneel geleë is, geneem, soos die departement van gesondheid bepaal het.”

Volgens Jamieson moes hospitaalbestuur die probleem aangespreek het en hulle sou dit op hul beurt met Rescue Care se bestuur kon oplos. “Die gedrag van die veiligheidsbeamptes is kommerwekkend en ons sal advies inwin om te bepaal watter stappe verder gedoen sal word.”

Maroela Media het probeer om telefonies met King Edward-hospitaal in verbinding te tree, maar die telefoon is nie beantwoord nie. ʼn Persoon wat by KZN Security Services die telefoon geantwoord het, het versoek dat die navraag Woensdag tydens werksure gerig moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Neptunus ·

Is hierdie berig sommer direk vertaal uit “against their will”? In Afrikaans sal dit lees “teen hul sin aangehou”. Konsentreer mense… dis nie moeilik nie!

Piet Snot ·

Ja-nee, manne: dis nie so moeilik om goeie Afrikaans te skryf nie.

Peet Schabort ·

Stem saam Piet. Ek wonder egter of hul dit ‘skryf’ of eerder ‘tik’? By wyse van spreke is jy egter korrek met ‘skryf’.
Ek reken Suné behoort uitsluitsel te kan gee?
Wat ‘n wonderlike taal en die manier wat ons mekaar ‘reghelp’ oftewel ‘reg help’ met twee woorde.

Dave ·

Dit is ‘skryf’ Peet. Indien ons sou tik sou dit soos politieke korreksie wees – oordrewe stywe taal-korreksie. Ons behoort onsself ‘n mate van vryheid toe te laat deur die taal buigbaar te gebruik.

Sune van Heerden ·

Dagsê Neptunus, Piet en Peet

Ek vra om verskoning vir die taalfout wat ingesluip het. Die berig is gewysig.
Dankie dat julle ons hierop gewys het!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Linda ·

Hoe kleinlik! Is julle altyd perfek? Ai mense kom ons wees net bietjie meer verdraaglik teenoor mekaar!

Peet Schabort ·

Kan net raai wat is die pigmentasie van die betrokkenes by die voorval.

Maronel ·

Dit is nie n afrikaanse opstel waar foute uitgewys word nie. Kyk eerder na ons tipe veiligheidswagte wat ons het. Dit is nou kamma kommerwekkend. Wat van die verpleegpersoneel wat hulle laat kom het???

Dave ·

Verkeerd Maronel. Indien jy verskillende forums lees merk jy op met hoe min respek sommige mense Afrikaans skryf. Moet hulle bloot toegelaat word om die Afrikaanse taal so te mismaak?
Ek hou nogal van die vorm wat hierdie gesprek geneem het.

Lindie Lourens ·

Sune van Heerden jy is pragtig. Jy laat nie op jou trap nie en hanteer elke situasie met grasie en waardigheid. Jy erken, as jy volgens ander, gefouteer het en maak dit, met ‘n verskoning, reg.Hou so aan!

anet ·

Lindie, ek stem saam met jou oor Sune se grasie en waardigheid. Ons is bevoorreg om Sune te he as deel van die Maroelaspan. Dankie Sune!

annika ·

oh my soul… ek kan nie dink mense gaan so tekere oor n opskrif wanneer dit waaroor die opskrif gaan SOVEEEEEL meer belangrik is nie.

ig ·

Die argumente van die taalpuriste laat my dink aan oud minister Ben Schoeman se kommentaar toe van die mense wat gekla het oor die kos op SAL. Wil julle vlieg of will julle vreet.Stem saam met Annika se kommentaar.

pop ·

Ek kry sooibrand as ek so na die pedantiese opmerkings van die spul mans kyk. Wonder nou waaroor is hulle so suur. Kry n lewe man, los spelfoute en direkte vertalings en Maroela uit. Gaan koop dan maar n koerant.

Viv ·

Sjoe. So ons is “trots Afrikaans”, “groot Afrikaans” “Afrikaanses”, en kry die apiestuipe as iemand iets teen Steve se, maar dis verkeerd om Maroela bewus te maak van taalfoute? As ons geslag nie Afrikaans ordentlik kan skryf en spel nie, het die volgende geslag n kans? Ons taal behoort belangrik genoeg te wees om korrek te gebruik, anders het ons nie n voet om op te staan as ons taal verniel, onderdruk of uitgeskryf word nie. Sune kla nooit as ons vra vir n verandering nie – as julle nie ordentlike Afrikaans wil lees nie, koop Engelse koerante…….

Charlene ·

Hulle antwoord dan nie eens nou hulle fone nie wat sou dit die parmediese personeel help om vooraf te bel. Die paramedici wat ek al ontmoet het – in dood gewone situasies, dank die Vader is wonderlike mense wat trots vind in hulle werk. Los hulle uit en laat hulle, hulle werk doen. Dis duidelik daai hospitaal is so nutteloos as wat kan kom! Hulle was vir 2 ure opgehou oor slegte mense nie wil werk nie – hulle kon iemand se lewe in daai tyd gered het!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.