Paramedici in Port Elizabeth aangeval

Argieffoto: @WCHEMS/Twitter

Twee nooddienswerkers, op pad om pasiënte by te staan, is glo in Port Elizabeth aangeval en met vuurwapens gedreig, het die Oos-Kaapse departement van gesondheid Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement, het gesê die twee beamptes, van die Oos-Kaapse nooddiens, is Donderdagaand in Ngomastraat in Motherwell oorval. Hulle het ongedeerd ontsnap, toe die bestuurder van die ambulans kon wegjaag. ʼn Pasiënt, agter in die ambulans, het egter van die draagbaar afgeval en haar been beseer.

Kupelo het gesê die nooddienswerkers was op soek na ʼn huis toe ʼn man uit ʼn motor geklim en ʼn vuurwapen op hulle gerig het.

Hy doen ʼn beroep op gemeenskappe om paramedici te beskerm. “Wanneer gemeenskappe niks doen nie terwyl nooddienswerkers aangeval word en ambulanse met klippe bestook word, dan is die gevolge baie nadelig vir die persone wat dringend mediese behandeling benodig.”

Hy het verwys na soortgelyke voorvalle wat in ander dele van die provinsie aangemeld is. “Ons veroordeel hierdie misdaad ten sterkste. Ons kan dit nie toelaat dat daar gebiede is wat nooddienswerkers te bang is om te besoek nie. Ons versoek gemeenskappe om paramedici nie verder te bedreig nie en hulle eerder te beskerm teen misdadigers.”

Die voorval is by die Motherwell-polisiestasie aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piesanglander ·

Lyk of kriminele nou meer onwettige wapens het as al die wettige wapens saam! Die arrogansie van die misdadigers daag nou openlik die staat se gesag uit, maar nou ja, wie gee om?

Michelle ·

Jy is net nêrens meer veilig nie, dan vra die minister jy moet kom wapens inhandig sodat die kriminele more met jou op die volgende hoek kan in wag. Daar is geen wet en orde in die land nie. Hul se misdaad betaal nie. Glo my in Suid-Afrika betaal hy.

Gemakserde Sopbeen ·

Hulle’t seker eers Binnelanders gekyk en toe die idee gekry….

smurfie ·

Die pasiënt was beseer, maar hulle is oorval terwyl hulle nog na die huis gesoek het. Hoe het hulle die pasiënt, agter in die ambulans gekry, as hulle nog opsoek was na die huis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.