Paramedici oorval, beroof

(Argieffoto)

Die Gautengse departement van gesondheid het ʼn aanval op twee nooddienswerkers ten sterkste veroordeel en sê enige aanval op gesondheidswerkers is onaanvaarbaar.

Kwara Kekana, departementele woordvoerder, het gesê die nooddienswerkers was Sondagaand in Winterveld noordwes van Pretoria besig om ʼn pasiënt in ʼn ambulans te behandel, toe twee mans ʼn vuurwapen by die oop ambulansdeur ingedruk en hul persoonlike besittings geëis het.

Die paramedici is nie beseer nie, maar die rowers het met hul besittings gevlug.

“Ons hulpbronne word tot op breekpunt gedruk terwyl ons onophoudelik werk om die verspreiding van Covid-19 te probeer bekamp. Die laaste ding wat ons wil hê is dat gesondheidswerkers nou vir hul lewe begin vrees, pleks daarvan om so veel moontlik lewens te red,” het Kekana gesê.

Volgens hom is die departement se werkers een van sy belangrikste bates en hul veiligheid bly ʼn top-prioriteit.

Kekana het ook ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting oor die voorval na vore te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bloedhond ·

Dit is ‘n ou ding in SA. Elke week lees ek iewers van nog ‘n paramedicus wat beroof, aangerand, geskiet of gedood is terwyl hulle lewens probeer red. Die feit dat hulle nog bereid is om hulle werk te doen is eintlik ‘n Gods wonder.

JM ·

Om te roof het die nuwe normaal in die land geword. Geen respek vir lewe bestaan by diesulkes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.