Paramedici staan bont tydens talle voorvalle

Die ongelukstoneel in Bryanston-Noord. (Foto: Netcare 911)

Paramedici is Sondag besig gehou op die tonele van talle ongelukke en voorvalle op verskeie plekke oor die hele land.

Een hiervan was op Mainweg in Bryanston-Noord, Johannesburg, waar ʼn motorfietsryer dood is nadat hy met ʼn ligte afleweringsvoertuig gebots het. Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê by paramedici se aankoms op die toneel het die man reeds aan sy veelvuldige beserings beswyk en daar was niks wat meer vir hom gedoen kon word nie.

Netcare-paramedici is ook omstreeks 17:50 na ʼn ongelukstoneel in Boskruin in Randburg ontbied. Daar het hulle ʼn motorfietsryer aangetref wat matige beserings opgedoen het nadat hy ʼn randsteen getref het. Herbst sê die man is per ambulans na ʼn hospitaal vervoer.

Om 11:45 was paramedici ook op ʼn ongelukstoneel op JG Strydom-weg in Weltevredenpark, Roodepoort, waar ʼn motor en bakkie gebots het. Die bestuurder van die motor, ʼn vrou, het matige beserings opgedoen en moes per ambulans na ʼn hospitaal geneem word. Volgens Herbst was die bestuurder van die bakkie ongedeerd.

Die ongelukstoneel in Weltevredenpark. (Foto: Netcare 911)

Intussen moes 22 mense na hospitale gehaas word ná ʼn botsing gistermiddag op die N12 in Kimberley in die Noord-Kaap. Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê paramedici het omstreeks 13:00 op dié ongelukstoneel aangekom waar ʼn taxi en ʼn motor gebots het.

“Die taxi het op ʼn treinspoor tot stilstand gekom,” het sy gesê. Altesaam 22 mense het beserings opgedoen wat van gering tot ernstig gewissel het. Hulle is deur verskillende ambulansdienste na hospitale geneem.

Die Nuweland-woud. (Argieffoto: David Ritchie/ANA)

In die Wes-Kaap is paramedici omstreeks 12:30 na die Nuweland-woud in Kaapstad ontbied waar ʼn stapper ernstig beseer is toe hy sowat 5 m ver in ʼn rivier geval het. Van Huyssteen sê by hul aankoms op die toneel het stappers wat deel was van die groep hulle na die beseerde man gelei.

Paramedici kon daarin slaag om saam met Metro-reddingswerkers en ander dienste die man op die toneel te stabiliseer voordat hy uit die woud gebring en na ʼn hospitaal geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae