Paramedici waarsku oor gevaarlike wurgspeletjie

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

‘n Video oor die wurgspeletjie volg onderaan die berig. ER24-nooddienste het Vrydag ʼn podsend op hul webwerf gelaai oor ʼn gevaarlike wurgspeletjie nadat ʼn gr. 10-leerling van Hoërskool Sasolburg in Januarie gesterf het.

Die skool het bevestig dat die seun op 4 Januarie, voordat die akademiese jaar sou begin, dood aangetref is in sy slaapkamer. Die gesin het by die huis gebraai toe die seun gesterf het.

Twee ander kinders het al sedert die begin van die jaar in Suid-Afrika gesterf nadat hulle die wurgspeletjie (“the choking game”) gespeel het. Dit is nie ʼn nuwe verskynsel nie, maar dit het al oor die afgelope paar jaar verskeie variasies aangeneem.

Die wurgspeletjie kom voor onder kinders wat bogemiddeld presteer en dan mekaar wurg in ʼn poging om “hoog” te raak sonder om met dwelmmiddels of alkohol betrap te word. Duisende kinders het reeds gesterf of het permanente breinskade opgedoen weens dié gevaarlike speletjie.

Gavin Cockes van GASP bespreek in die podsend die gevare en tekens en vertel meer oor sy persoonlike ervaring. Cockes se seun is in 2004 dood aangetref in sy slaapkamer. ʼn Gordel wat aan ʼn deurhandvatsel vasgemaak is, was om sy nek gebind en hy het gewurg. Cockes wou nie glo dat sy seun selfmoord gepleeg het nie, en het bly ondersoek instel totdat hy van dié gevaarlike speletjie uitgevind het. Een van sy seun se vriende het aan hom bevestig dat hulle gewoonlik saam die speletjie gespeel het, maar hulle het nie geweet dat van die vriende dit alleen by hul huise doen nie. Klik hier om na die podsend te luister.

GASP is ʼn organisasie vir ouers wat kinders op dié manier aan die dood afgestaan het. Die organisasie is in Amerika op die been gebring, maar het al wêreldwyd takke. Cockes het in 2007 die tak in Suid-Afrika begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danielle ·

Dis baie ontstellend, ouers, praat met julle kinders, wys hulle hierdie video, weet wat in jou kind se lewe aangaan. Dit is sekerlik nie altyd moontlik nie, maar doen alles wat nodig is om sover moontik betrokke te wees by jou kind.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.