Paramedici wag ure lank vergeefs vir entstof

‘n Plakkaat dui aan waar die inentings by die Steve Biko-hospitaal plaasvind. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ʼn Paramedikus van Pretoria sê hy was een van honderde gesondheidswerkers wat Vrydag ure lank in ʼn tou by die Steve Biko- akademiese hospitaal gewag het om die entstof teen Covid-19 te ontvang. Volgens hom het administratiewe chaos egter geheers.

Die paramedikus, wat in die private sektor werk, sê hy het op die regering se portaal geregistreer om die entstof te ontvang. Hy het daarna bevestiging ontvang dat sy aansoek vir die regering se J&J Sisonke-entstofprogram suksesvol was.

Hy het ook ʼn bewyskode gekry en ʼn SMS ontvang dat hy met die koeponkode en ʼn identiteitsbewys by die hospitaal moet aanmeld. Daar gekom, was hy naastenby nommer 900 op ʼn lys van oënskynlik 1 000 mense wat op ʼn dag gehelp word.

“Dit is absolute chaos hier,” het die paramedikus gesê.

“Dit is duidelik dat die mense wat so naby mekaar staan ʼn brandpunt vir ʼn moontlike uitbreking is, maar mense kry nie die probleme uitgestryk nie en weet nie wat aangaan nie.

Gesondheidwerkers wag by die Steve Biko-hospitaal om die Covid-19-entstof te ontvang. (Foto: Verskaf)

“Dit lyk of die groot probleem behoorlike kommunikasie is,” het hy gesê.

Dit blyk dat gesondheidswerkers uit die private sektor net op sekere dae mag aanmeld om die entstof te ontvang, maar dat dié besonderhede nie vooraf aan hulle deurgegee word nie.

“Jy doen al die moeite om hier by die tou te kom inval, net om te hoor hulle gaan jou nie vandag help nie. Dit is ʼn groot frustrasie.”

Nadat hy heeloggend vergeefs in die tou gewag het, het hy ná 14:00 besluit om die handdoek in te gooi.

Motalatale Modiba, die Gautengse departement van gesondheid se hoof van kommunikasie, het by navraag aan Maroela Media gesê Saterdag en Sondag word gewy aan die inenting van private gesondheidswerkers.

Volgens Modiba word die inenting van private gesondheidswerkers deur die Netcare-hospitaalgroep gekoördineer terwyl gesondheidswerkers in die openbare sektor se inenting deur die departement bestuur word.

“Gesondheidsorgwerkers is veronderstel om op ʼn vooraf bepaalde tyd by die fasiliteit op te daag om vertragings en toue te voorkom.”

Modiba het navrae oor die vasgestelde tye vir private gesondheidswerkers se inentings na Netcare verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

marius ·

Hulle kan nie want hulle kan nie want hulle kan nie . Dis die waarheid .

My siening ·

Gesondheid van SA regering bly n gemors en klaar weer begin hulle hul onvermoë bewys. Ja Mkize solank die sakke vol gestop word gee jul dadels om!

Mariana ·

Altyd nog verskonings. Hoekom dit dan nie meld aw registrasie plaasvind nie. Dit kan mos baie drama verhoed vir mense wat daar moet loop staan.

MakersMark ·

Na 26 jaar is dit duidelik die mense kan nie ‘n dronknes in ‘n brouery reël nie. Wat van iets so gesofistikeerd soos ‘n inentingsprogram ?

Elize ·

Nee wat, gee dit vir die privaat sektor om te doen. Hulle weet hoe.

Karlahari ·

Uit die oorspronklike 80 duisend J&J dosisse is hoeveel versprei? Ons praat nie eens van die oorspronklike Zeneca wat iewers op n rak lê en vrot nie.
En by einde Maart is die doelwit 1.1 miljoen inentings…….

Francois ·

Maklikker om verskonings uit te dink. Net nog n gemors van vandag se regering

Fritz ·

Diegene wat hul hoop op die entstof rig, moet dalk maar eerder op hul immuniteit staatmaak. Want jy gaan nog laaaaaank moet wag vir daai inspuiting.

Elsabe ·

Kommunikasie, of ‘n gebrek daaraan, is groot probleem. Geen kommunikasie, want hulle weet nie HOE nie. Admin is nie ‘n sterk punt nie. En dit is die doodsteek.

Kokerboom ·

Vertel my asb iets nuuts!!!En die storie herhaal hom oor en oor en…!!!Moet ons regtig deel wees van die georganiseerde regime chaos??Emigreer NIE ‘n opsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.