Paramedikus bedank ná uitlatings oor Knysna-brande

Argieffoto: Netcare 911

Die paramedikus wat geskors is na ‘n uitlating wat hy glo op sosiale media gemaak het rakende die verwoestende brande in Knysna, het bedank.

“Die paramedikus van Netcare 911 het bedank voor sy geskeduleerde tugverhoor,” het Craig Grindell, Netcare 911 se uitvoerende hoof, bevestig.

Die maatskappy het Vrydag gesê die paramedikus is geskors na aanleiding van die uitlatings wat Donderdag op Facebook gemaak is.

Die paramedikus het glo op Facebook gekryf: “…né!… More almal….kan jul onthou verlede jaar toe Knysna opgemaak was in pink en daar 12 homoseksuele huwelike op een dag plaasgevind het? Dit was net na die verkiesing van die NG kerk waarin hul homoseksuele huwelike goedgejeur het..dit was die koerante vol…waarmee God uitgedaag was…hulle moenie nou huil oor die vuur nie..God laat Hom nie bespot nie….!!” (sic)

Grindell het vroeër gesê die organisasie distansieer homself heeltemal van die paramedikus se “onaanvaarbare aanmerkings”.

“Netcare en Netcare 911 het ’n streng beleid wat geen diskriminasie duld nie. Ons sal nie huiwer om die sterkste moontlike stappe te doen teen ’n personeellid wat die maatskappy se waardes, etiek en gedragskode skend nie,” het Grindell gesê.

Die brande in Knysna en omliggende gebiede het grootskaalse skade aangerig met talle huise wat vernietig is en het minstens sewe mense se lewens geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.