Paramedikus in ambulans oorval

Argieffoto: ER24

ʼn Wes-Kaapse paramedikus is Dinsdagaand terwyl hy aan diens was in die Paarl deur twee mans in ʼn ambulans oorval en aangehou.

Luidens ʼn verklaring deur ER24 het twee paramedici kort ná 19:00 by ʼn winkelsentrum in die dorp stilgehou. Een van die paramedici het by ʼn winkel ingehardloop om kos te koop terwyl die ander in die ambulans gewag het.

Die een paramedikus was skaars weg toe twee mans die deure van die ambulans oopgeruk het. “Hulle het vir die paramedikus gesê hulle is gewapen en het aangedring op kontant. Een van die verdagtes het om die ambulans geloop en die ander deur oopgemaak om deur die paramedikus se persoonlike besittings te gaan,” lui die verklaring.

Volgens die paramedikus kon die mans egter niks kry om te steel nie en het daarop aangedring dat die paramedikus saam met hulle in een van die winkels in die winkelsentrum gaan om kontant te trek.

Om die een of ander rede kon die slagoffer egter nie daarin slaag om kontant in die winkel te trek nie. ʼn Ander paramedikus, wat nie ten tyde van die voorval aan diens was nie, het die paramedikus in dié stadium in die winkel herken en gevra of alles pluis is. Die verdagtes het toe sonder enige kontant of besittings op die vlug geslaan.

Volgens ER24 is een van die verdagtes kort ná die voorval vasgetrek. Die ander is steeds soek.

“Ongelukkig het die steel van toerusting, aanvalle op paramedici en rooftogte ʼn daaglikse verskynsel onder die nooddienste geword,” lui die verklaring.

ER24 doen ʼn beroep op die gemeenskap om diegene wat verantwoordelik is vir aanvalle op paramedici of enige tersaaklike inligting by die naaste polisiestasie of Stop Misdaad by 0860 010 111 aan te meld.

Maroela Media het die Wes-Kaapse polisie genader in verband met die voorval, maar wag steeds op kommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

toy ·

Hier moet nou daadwerlik opgetree word teen misdadigers in ons land. DIT KAN NIE SO AANGAAN NIE!

Frank ·

Sien, in so geval moet die polisie hom op hulle databasis sit, ‘n baie goeie drag slae gee en laat gaan.
Mors nie die hof se tyd nie en nie ons belastingbetalers se geld in die tronk nie.
Tyd vir sulke tipe noodmaatreëls in ons land!

Michael P ·

Toy die regstelsel moet verander anders gaan dit net erger word.

Gekaap ·

Die bendes is nie bang vir die regstelsel of die polisie nie. Verdowingsmiddels is die oorsaak van baie rooftogte en dwelmskuld is gevaarliker as om tronk toe te gaan Ledigheid is die duiwel se oorkussing.

Wetteloosheid ·

Hoeveel mense is al gearresteer sedert die Zondo kommisie aan die gang is?
As hulle wat miljoene gevat dan niks oorkom, waarom mag ek nie ook n ou geldjie eis nie.
Dissipline kom van bo af. Politisie maak soos hulle wil en se wat hulle wil.

Alki ·

OOOOO Gonna, ek was juis daar in die Paarl vir werksdoeleindes die eerste week van hierdie maand, en het vrou alleen terug na my gastehuis geloop, baie laat in die aand in die reen, in die hoofstraat, vanaf ‘n werksfunsksie wat ek bygewoon het ek was ook gedurende die aand ‘n hele paar keer buite op die sypaadjie, omdat die rokers in die plek so baie gerook het, om vars lug te kry.

Michael P ·

Alki die Paarl is baie na aan my n pragtige dorp maar jy kan nie meer daardie goedtjies doen wat jy gedoen het nie. Dit is nie meer veilig enige plek in hierdie land nie.

Alki ·

En ek het juis by myself gedink, jinne dit is darem ‘n baie veilige plek die, ek het glad nie onveilig gevoel nie. Jammer om nou te lees van die insident met die rower. Ek is van Pretoria en het my tydtjie baie geniet daar in die Paarl. Dit is die mooiste plek, het my verkyk aan die Paarlberg, die pragte dorp met die mooi ou Kerke, en die baie bome met die herfsblare. Ek koester daardie herinneringe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.