Paramedikus-ma wéér op toneel van geliefdes

Elzona en Abigail Meyer. Foto: Verskaf

Minder as ʼn maand nadat Elzona Meyer (36) van Heidelberg in Gauteng met haar reaksievoertuig onwetend na ʼn noodtoneel buite haar huis gejaag het waar haar 20-jarige dogter ná ʼn kaping om haar lewe geveg het en later dood is, was Meyer weer op die toneel waar ʼn naby vriendin én ʼn dogtertjie van ʼn ander vriendin dood is.

Sy het dié keer – nes met die dood van haar dogter – nie geweet wat op haar wag by dié ongelukstoneel wat die lewe van drie mense geëis het nie.

Toe sy in die motorwrak kyk en die dogtertjie leweloos sien lê, was sy oortuig sy gaan ineenstort, sê sy. Maar sy het nié; sy het bly veg om die lewe van die ander slagoffers te probeer red.

“Dit was soos ʼn skerp voorwerp wat deur my hart gesteek het,” sê sy. “My vriendin se dogtertjie was dood. Sy het leweloos in die wrak gelê. Ek het net gedink: ‘Dit kan mos nie wees nie. Dit kan nie weer met my gebeur nie – dit mag nie weer met my gebeur nie.’ Maar ek kon nie toelaat dat emosies my oorweldig nie, ek was in daardie stadium die enigste paramedikus op die toneel wat tussen die slagoffers moes rondhardloop.”

Enkele meters verder, in die tweede motor wat in die botsing betrokke was, het sy nóg ʼn vriendin aangetref. “Sy het my naam gesê en om hulp geroep en in daardie oomblik voel dit vir jou of jou liggaam nie verder wil beweeg nie. Dit voel asof jy nie jou arms en jou liggaam vinnig genoeg beweeg kry om die dinge te doen wat jy in só ʼn noodgeval moet doen nie. Maar op die een of ander manier kry jy dan krag van Bo af; dan druk jy deur en veg saam met hulle.”

Abigail Meyer. Foto: Via Facebook

Dit was soos ʼn nare terugflits van daardie laatmiddag in Februarie toe haar reaksievoertuig na die toneel ontbied is waar haar eie dogter, Abigail, ook ʼn slagoffer was. Abigail en haar kollega, Jaco Pretorius (24), albei mediese vrywilligers, het van die gimnasium af gekom en by die huis stilgehou sodat Abigail haar motor kon gaan intrek.

ʼn Voertuig met vier mans het agter Jaco se motor in die oprit stilgehou en deur die motor op hulle begin skiet. Van die gewapende mans het uitgespring en Abigail uit die motor gepluk. Jaco is ook uit die voertuig geboender waarna die aanvallers in Jaco se motor, ʼn rooi Ford Fiesta ST, en hul voertuig van die toneel weggejaag het. Die aanvallers het Abigail in haar maag gewond, maar Jaco is nié gewond nie.

Meyer het Abigail gestabiliseer, maar sy is later in die hospitaal dood. Haar naasbestaandes was by haar en die gesin het tyd gehad om afskeid te neem.

“Aanvanklik is jy só seer en stukkend dat jy aan niks anders as jou pyn kan dink nie,” vertel Elzona. “Maar later is dat asof jy jouself dwing om te sien dat jy ook in die donkerste oomblikke genade ontvang het. Dán besef ek sy kon dood gewees het toe ek by die toneel aangekom het. Sy kon ʼn selfs meer grusame dood gesterf het. Ek was al voorheen in my loopbaan op gru-tonele. En dan het ek myself afgevra: ‘Hoekom moes ék op daardie toneel gewees het?’ Maar nou weet ek. Ek moes dit sien, sodat ek nou kon vrede kry oor my dogter se dood.

Elzona en Abigail Meyer. Foto: Verskaf

“Ek moes daardie dinge sien sodat ek nou vir myself kan sê dat ons haar ten minste kon groet. Sy is vir ʼn paar uur vir ons gespaar sodat ons langs haar kon wees. Sodat ek haar kon vasdruk, vir haar bid en vir haar sê dat ek vir haar lief is. Ek besef nou ek is bevoorreg dat sy by haar bewussyn was sodat ek haar kon groet.”

Meyer sê Abigail was haar dogter, maar ook haar beste vriendin – daarom is haar afsterwe baie swaar om te verwerk. “Ek was maar bitter jonk en nog op skool toe ek Abigail gehad het. Ek moes my vuiste stukkend baklei om haar te hou. Ek moes in ʼn tehuis gaan woon en verder gaan leer het sodat ek vir haar kon voorsien. Ons het sáám dié moeilike pad gestap. Abigail was ʼn wonderlike kind. Sy was een duisend keer ʼn beter tiener as wat ek was. Sy was my steunpilaar en my wêreld en my beste vriendin. Daarom vra jy jouself agterna waarom sy dan moes sterf as jy só moes veg om haar te behou.”

Meyer sê sy het op die toneel waar haar vriendin dood is baie vrae en onsekerhede oor haar loopbaankeuse gehad. Daar was wel talle kere dat sy die lewe as paramedikus vaarwel wou toeroep, maar tog later besef het dat mense haar nodig het.

“Soms wonder ek of ek net te gou weer terug werk toe is, maar ek is nou oukei. As dinge te erg raak, sal ek net weer tyd alleen vat om te herstel. Die aard van my werk bly maar erg – jy kan nie net wegkyk van hierdie dinge nie. Ek voel in dié stadium dat ek my kwota slegte nuus vir ʼn lang tyd nou ontvang én gegee het. Maar ek het tog nie ʼn keuse nie as om die werklikheid onder die oë te sien. Ek het vrede en ontvang genade omdat ek glo; omdat ek weet God sal mettertyd ook my gees en hart laat verstaan dat alles eendag weer oukei sal wees. Maar vir nou sal ek bly baklei vir diegene wat my nodig het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sam

Ek kan nie indink hoe moeilik dit vir jou kan wees nie, maar as mense in vandag se tyd nie in Engele glo nie, is dit nou tyd om te begin.

sandy

Ai toggie….Ek het nie woorde nie…….Sterkte aan jou. Jy is in my gebede.

Hans

Staan vas in dit. Dit is die beroep wat mens in is en dit gaan nie beter raak nie. Sterkte vir jou. ek het vriende in die beroep en werk self by n noodgevalle eenheid. Dankie vir dit wat jy en jou kolegas doen.

Deloris

Elzona, ons is trots op jou. Vasbyt jy sal sterker word, maar dit gaan jou altyd bybly. Bid vir jou dat jy sal krag kry en net genade jou sal dra soos in hierdie geval. Dankie vir wat jy doen.

gina

Jy is n ongelooflike merkwaardige vrou. Jou krag is verseker van God alleen. Ek hoop jy skryf eendag n boek oor jou lewe. Jy kan mense inspireer en weer hoop gee.