Paramedikus met mes aangeval op ongelukstoneel

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Paramedikus van ER24 is met ʼn mes aangeval op ʼn ongelukstoneel in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal.

Chitra Bodasing-Harduth, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het Saterdagaand op ʼn ongelukstoneel in Ohrtmannweg afgekom. Die paramedici was op pad na ʼn hospitaal daar naby nadat hulle op ʼn ander ongeluk reageer het.

Volgens Bodasing-Harduth het die paramedici stilgehou om te kyk of hulle kan help. “Die vier insittendes van een van die motors wat in die ongeluk betrokke was, het die paramedici beledigings toegeslinger. Een van die insittendes het later ʼn mes uitgepluk en ʼn paramedikus daarmee aangeval. Die paramedikus het wonde aan sy gesig en hande opgedoen. ʼn Lid van die publiek het tussenbeide getree en kon daarin slaag om die mes by die man af te neem.”

Die paramedici het kort ná die aanvang van die verbale mishandeling reeds bystand van ander paramedici en die polisie ontbied. “Nog ʼn ER24-voertuig het op die toneel aangekom ná die mesvoorval en dieselfde man het oor die hoofweg gehardloop en met ʼn baksteen teruggekom. Paramedici kon egter daarin slaag om die baksteen by hom af te neem.”

Die polisie het hierna op die toneel aangekom. Volgens Bodasing-Harduth het dieselfde man glo ook polisiebeamptes erg uitgeskel. Hy het glo ook die bestuurder van die ander motor wat in die ongeluk betrokke was, aangerand.

Die polisie het vier mense op die toneel in hegtenis geneem en na die Mountain Rise-polisiestasie geneem. Sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer, roekelose of nalatige bestuur, kwaadwillige saakbeskadiging en verset teen inhegtenisneming is aanhangig gemaak.

“Die beseerde paramedici moes steke aan sy gesig en hand kry en het verskeie kneusplekke opgedoen,” het Bodasing-Harduth gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tollies ·

Genugtig moes die aanvaller nie vir hom self kwaad gewees het nie? Leë blik maak die meeste geraas.

vierkleur ·

tyd dat paramedikuste, n dienspistool ook moet kry,
as deel van sy standaard toerusting

Jeanne ·

Dit is skokkend, hierdie mense stel hulle eie lewens in gevaar om ander in nood te help, dan word hulle aangeval! Hoe belaglik is dit nie? Volgende keer as hulle gebel word om na daardie area toe te gaan, gaan hulle dalk teesinnig wees, en ek neem hulle GLAD NIE kwalik nie. Ek hoop jy herstel vinnig, en BAIE DANKIE vir die wonderlike werk wat julle doen. Julle red soveel lewens, julle verdien NIE om aangeval te word nie. Julle is die unsung heroes van die mediese professie!

Dark.O ·

Dit is verstommend dat paramedici wat wil help, aangeval word. Is dit ń unieke Afrika-verskynsel of kom dit algemeen in Noord-Amerika en Europa ook voor?

Johan Loots ·

Ek weet vir ‘n feit dit kom in Belgie ook voor in die moslem woongebiede wat onbegaanbaar geword het vir paramedici.

Marianne ·

Dis nie die eerste maal dat Paramediesie aangeval word nie! Is die land besig om mal te word??? Is niemand meer veilig nie???

Jakes ·

Parameds moet nou begin soos Uli Schmidt van ouds…maak jou eie pasiënte. Eers met mes en toe ontwapen word gaan haal hy baksteen..oorkant die snelweg??? Sjoe die man het gesmeek vir lifesupport…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.