Paramedikus met mes gesteek; aanvallers eis uniform

Argieffoto: ER24

Argieffoto: ER24

ʼn Paramedikus van ER24 is Woensdagoggend in Johannesburg aangeval en met ʼn mes gesteek, waarna sy aanvallers geld en sy uniform geëis het.

Luyanda Majija, ʼn woordvoerder van ER24, het aan Maroela Media gesê die paramedikus, Kgaugelo Moroamohwebedu (25), het op pad werk toe geld by ʼn kitsbank in Alexandra getrek. “Hy was in sy uniform toe die aanvallers uit ‘n BMW geklim het, en hom genader het,” het Majija gesê. “Ek het nie eens geweet hulle wil my beroof nie, so breed het hulle geglimlag terwyl hulle gesê het ‘Boy, give us your money'”, het Moroamohwebedu gesê.

Sy aanvallers het op sy geld en selfoon aangedring, wat hy aan hulle gegee het. “Hulle was egter nie net met dit tevrede nie en het op sy uniform aangedring. Een van die aanvallers het ‘n vrugtesapbottel gebreek en Moroamohwebedu daarmee gesteek. Hy het gelukkig nie ernstige wonde opgedoen nie, maar moes verskeie steke kry,” het Majija bygevoeg.

Moroamohwebedu werk in die noorde van Johannesburg. Hy het na die voorval berading ontvang.

Die voorval is by die polisie aangemeld vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

Ja, en die polisie se ondersoek sal seker op niks uitloop nie. Hoe erg dat iemand wat ander moet help in tye van nood so aangeval moet word! Wat wou hul met die uniform maak – seer sekerlik poseer as iemand in diens van die onderneming en dan nog meer mense beroof en aanval want “dis mos nou iemand van ER24” so laat ons hom in ons huis toelaat, of laat ons stop vir die man hy het seker ‘n probleem … die diefstal en dra van uniforms en daaropvolgende misdade van NIE lede van die polisie is ‘n goeie voorbeeld!

Marie ·

Hoekom sou hulle ‘n uniform wil he? Is daar nie ‘n rukkie terug ‘n ambulaans in Krugersdorp gesteel nie? Wonder of dit alles nie verband hou nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.