Paramedikus onderweg na hospitaal aangerand

Argieffoto: ER24

’n Paramedikus is Maandagaand in ’n ambulans in Potchefstroom in Noordwes aangerand terwyl hy ’n pasiënt na ’n hospitaal gehaas het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is paramedici omstreeks 19:25 na ’n ongelukstoneel in Paulstraat ontbied waar ’n bakkie deur ’n heining en toe deur ’n huismuur gebars het.

Met hul aankoms op die toneel is die bakkie aangetref waar dit in die kombuis tot stilstand gekom het. ’n Man, vermoedelik in sy 20’s, was in die stadium nog in die wrak van die bakkie vasgekeer.

Die struktuur is gestabiliseer waarna die man uit die wrak bevry en na ’n hospitaal gehaas kon word.

Die pasiënt se pa het op die toneel ook in die ambulans geklim om sy seun hospitaal toe te vergesel, het Meiring in ʼn verklaring gesê.

“Op pad hospitaal toe het die pa, wat op die voorste passasiersitplek gesit het, sonder enige waarskuwing die paramedikus in die gesig geslaan en toe dadelik probeer om die stuurwiel te gryp,” het Meiring verduidelik.

Die paramedikus het kop gehou en die nodige maatreëls wat hy gedurende opleiding geleer het, toegepas. Sodoende kon hy daarin slaag om die ambulans veilig van die pad af te trek, waarna die pa uit die ambulans geklim het en in ʼn bakkie, wat agter die ambulans hospitaal toe gery het, ingespring en toe weggery het.

Die paramedikus het na afloop van die voorval die pasiënt veilig by die hospitaal besorg waarna hy deur ʼn dokter ondersoek is en ʼn saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak het.

Volgens Meiring is ER24 dankbaar dat die paramedikus nie enige ernstige beserings gedurende die voorval opgedoen het nie.

“Ons doen ’n beroep op lede van die publiek om enige voorvalle by die plaaslike owerhede aan te meld by Misdaadstop by 08600 10111 of ʼn boodskap na die amptelike Misdaadlynnommer 32211 vir anonieme leidrade te stuur,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Adel ·

Wat te hel….. die paramedikus het dan die man se seun in die ambulans en is op pad hospitaal toe??? Vir wat sal hy hom nou so aanrand?? Die mense het mal geword!!

Doppies ·

By ons gebeur dit dikwels… Seun was seker maar gesuip, toe besef pappa dat daar nou sake gemaak gaan word…

Cherokee ·

Ja, die paramedikus het dalk iets gesê van dronk mense wat tot in ander se kombuise ry (as dit is wat gebeur het) en wat hom ‘n klap of twee besorg het. Hulle moet nou die pa nie net aankla nie maar ook vir ‘n reiskaartjie laat betaal.

Sê maar net ·

Dit is presies wat ek ook gedink het. Ek hoop die dr’s kon die pasient toets vir alcohol in die bloed

Ella ·

Sowaar sommige SA se mense het mal geword.
Hoekom mense aanval wat jou help?
Sal graag meer van die storie wil hoor …

Ivan ·

Hoekom mag daar nooit melding gemaak word van etniese groep nie. Is mense skaam om te sê wie hulle is.

SjN ·

Seker ook gesuip gewees of die drywer het onverskuldig gejaag en hul lewens in gevaar gestel. Drank verdra nie onreg nie.

Nadia ·

In ‘n ander berig gelees van hierdie ongeluk. ‘n Ma en haar ongebore (nou gebore) baba het Goddank hierdie ongeluk oorleef. Sy was binne haar kombuis!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.