Paramedikus sterf kort ná terugkoms van Turkye

Paul Herbst word onthou as ‘n “gerespekteerde en toegewyde leier in die nooddienstebedryf”. (Foto: Barry Bowditch Photography/Facebook)

ʼn Toegewyde reddingswerker en paramedikus is dood kort nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het ná ʼn reddingsending in Turkye.

Die nooddiens Medi Response het Paul Herbst se dood in ʼn kort verklaring bevestig. Herbst was die direkteur en woordvoerder van Media Response in KwaZulu-Natal.

“Ons is hartseer om te hoor van die dood van Paul Herbst. Hy was ʼn gerespekteerde en toegewyde leier in die nooddienstebedryf,” lui die verklaring.

“Sy passie om ander te help was duidelik in die werk wat hy elke dag gedoen het en hy was bekend vir sy onwrikbare toewyding om mense in nood te help.”

Die oorsaak van sy skielike dood is nie in hierdie stadium bekend gemaak nie. Medi Response het egter ʼn beroep op die publiek gedoen om Herbst se familie en vriende se privaatheid te respekteer terwyl hulle sy dood verwerk.

Herbst is vroeër vandeesmaand saam met ʼn span Suid-Afrikaanse reddingswerkers onder die vaandel van Gift of the Givers in Turkye ontplooi om hulp te verleen ná ʼn verwoestende aardbewing in die gebied.

Herbst het verlede week nog aan Maroela Media vertel van die reddingspogings wat in Turkye geskied. Hy het die afgelope naweek saam met sy span weer in die land aangekom.

Medi Response sê die nuus van sy dood is ʼn geweldige slag vir die nooddiensgemeenskap “en sy afwesigheid sal deur almal gevoel word wat hom geken het”.

“Terwyl ons treur oor sy heengaan is dit belangrik om die ongelooflike bydraes wat hy gemaak het en die ontelbare lewens wat hy langs die pad aangeraak het te onthou.”

Paul Herbst het die afgelope naweek teruggekeer van Turkye. (Foto: Facebook)

Huldeblyke stroom intussen in oor Herbst se onbaatsugtige dade en goeie hart.

“Paul, dankie dat jy altyd daar was vir ons. Jy was ʼn man wat baie beteken het vir so baie mense. Jy het vertroosting gebring wanneer daar pyn was, moed wanneer daar vrees was, hoop wanneer daar wanhoop was en ʼn aanraking wat met sagmoedigheid, geduld en liefde gevul was,” skryf ʼn vriend van Herbst op Facebook.

Herbst se tannie, Lara West, het ook op Facebook haar hartseer oor sy heengaan geopper.

“Hoekom is jou lewe so kort geknip. Hoekom is jy van ons weggeneem. Jy was bedoel om vir altyd hier te wees. Ek is stukkend. Dit voel nie werklik nie,” skryf sy.

“Jy was so ʼn steunpilaar vir almal wat jy aangeraak het. Ek is lief vir jou.”

Verskeie nooddienste het ook reeds hul medelye met Herbst se geliefdes betoon.

Herbst word oorleef deur sy vrou, Linda, en seuns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Ongelooflik hartseer,sterkte aan sy familie,vriende en kollegas.Vrae is daar baie maar antwoorde ontwyk ons.

Rooi rissie ·

Dis so hartseer. Sterkte aan sy naasbestaandes en familie deur hierdie seer moeilike tyd. Mag julle berusting kry deur om altyd die goeie kosbare herrinering van n legende te koester in julle harte. Baie sterkte aan almal wat hierdeur geraak word.

Papsak ·

Sterkte aan sy familie kollegas en almal wat hom geken het rus sag vrae baie maar daar nie antwoorde maar hy sy doel gedien sterkte

Santie Gildenhuys ·

Só hartseer. Soveel trauma beleef. Kon nie almal help nie. Intense belewing van jou en ander se smart. Ek dink die Gebroke hart- sindroom is ‘n realiteit. Nog ‘n hartseer slagoffer was Suna Venter ‘n ruk gelede.

TruthDealer ·

Ek vermoed daar is n meer pragmatiese rede as oorsaak, Santie. Maar uit respek vir hom en sy geliefdes gaan ek niks verder sê nie. Dis net uiters hartseer en n massiewe verlies vir die land om n persoon van sy kaliber te verloor.

Michele ·

Sjoe dit is n groot verlies. Baie sterkte aan sy familie, vriende en kollegas. Hy was n yster van n man en het altyd gehelp waar hy kan. Hy gaan n groot leemte los in die industrie

Lillian ·

Ai, dis tragies. Net nadat hy teruggekeer het van nog ‘n sending om ander in nood te help. Sterkte aan sy geliefdes.

Christine ·

Pragtige huldeblyk aan hom, hy sal sekerlik geweldig gemis word. RIV jongman. Ek is seker dis die jab wat jou lewe verkort het. Hartseer.

TruthDealer ·

Dis baie hartseer. My innige simpatie met sy geliefdes.

Althes ·

Dis baie tragies. Danksy Maroela Media het hy ñ huishoudelike naam geword met al die berigte wat hy gedeel het.

Beukes ·

Dit is super tragedie en my medelye met almal wat hom geken het. Dit is ongelukkig moontlik nog een van derduisende ge-vaksineerde mense wat net skielik doodgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.