Paramedikus voor hospitaal doodgeskiet

Argieffoto

ʼn Paramedikus is Vrydagaand buite die Edendale-hospitaal in Pietermaritzburg doodgeskiet toe hy sy werksplek verlaat het.

Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê die aanval is deur ʼn onbekende groep mense uitgevoer.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het teen 19:16 plaasgevind. Volgens

Dhlomo is Sibusiso Mthethwa (36) Saterdagoggend in die hospitaal dood. “Hy was aan die Mbali-nedersetting se nooddienste verbonde.”

“Ons is diep geskok oor die gevoelloosheid van die voorval. Dit bekommer my dat ʼn mens se lewe so goedkoop geword het. Dis nou al op ʼn punt wat misdadigers nie eens twee keer dink voordat hulle iemand se lewe beëindig nie,” het Dhlomo gesê.

Dhlomo meen die gemeenskap is ontneem van ʼn “voetsoldaat” wat hom daaraan gewy het om mense se lewens te red. “Nou het sy familie ʼn pa, seun en eggenoot verloor. Ons bied ons diepste medelye met sy gesin, vriende en kollegas. Ons hoop die skuldiges word aangekeer en so streng as moontlik gestraf,” het Dhlomo gesê.

Mthethwa word oorleef deur sy vrou en vyf kinders. ʼn Saak van moord word deur die Plessislaer-polisie ondersoek.

Mthethwa word Sondag in Nquthu begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

Jammer , maar diep geskok is wat ons gewone mense elke dag ervaar. Dit is juis oor die regering se slap houding jeens alles dat hierdie dinge alledaags word , en teen die volgende oggend vergete is. Voel jammer vir die naasbestaandes , maar wrokkerig vir diegene wat dit onbeheersd toelaat en nog steeds belaglike verskonings daaroor opdis.

Pieter ·

En wie moet bedank word dat misdadigers kan doen wat hulle wil? Geen ander persoon as die korrupte man met die titel van ‘n so called “president”!!!

Tanya ·

“dat mense se lewens so goedkoop geword het”…. Regstelling.. Mens se lewe is niks werd nie.

Alida ·

Hoe meer verwoesting, moorde en anargie gesaai word hoe lekkerder kry die vieslike ANC .

Alida ·

Waar kry hulle die wapens? Ondersoek moet gedoen word ten aansien van die duisende wapens wat “ingehandig” moes word. Die SAPD moet die plek uitwys. Skielik die afgelope 5 jaar het elke jan rap n wapen. ASB iemand doen iets.

Willie Nel ·

Dit is jammer en laat my treur dat ‘n familie ‘n broodwinner verloor het. ‘n Groter ramp is dat iemand wat sy lewe gewy het aan die versorging, behandeling en oorlewing van ander sommer so geskiet word. Anargisme word deur verskeie oorsake aangevuur en dit is so dat ‘n baie groot deel van die oorsake by ons regering te vinde is wat ‘n voorbeeld van geen morele waardes, slegs misdadigheid voorhou as die norm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.