‘Paranoia’ dryfveer agter voorgestelde ontwapening

Daar is groot teenkanting teen die beoogde wysigings aan die vuurwapenwet. (Foto: Lynette Oxley/Gosa Girls on Fire, Facebook)

Talle kenners is dit eens dat die regering se oënskynlike paranoia oor wapens in private besit, tesame met sy eie onvermoë om burgers behoorlik te beskerm, die jongste voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer aandryf.

Oor die doel van die wetgewing, oënskynlik om hoë vlakke van geweldsmisdaad te verminder, is talle kenners dit ook eens: Dit gaan nie gebeur nie.

Duisende mense en tientalle organisasies het die afgelope ruk vasgeskop teen voorgestelde wysigings aan dié wet.

Gideon Joubert, ʼn direkteur by die organisasie Dear South Africa (Dear SA), sê die oorspronklike doel met die wet was om die grondwetlike reg op lewe te versterk deur te beheer wie wettig ʼn vuurwapen kan besit.

Joubert sê dit lyk nou of die wetgewing eerder gefokus is op die bevrediging van die “regering se paranoia” oor ʼn gewapende burgery en dat die regering oënskynlik ʼn monopolie op wapens wil hê, met ʼn beperkte kapasiteit vir enigiemand anders.

Ian Cameron, verbonde aan die organisasie #SafeCitizen, sê die wetgewing is ondeurdag en ʼn poging deur die regering om mense te stroop van hul reg om hulself te verdedig.

“Die polisie het kort voor die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010 verskeie kandidate aangestel wat nie aan keuringsvereistes voldoen het nie.”

Gevolglik het polisiegeweld volgens hom sedertdien verhoog en dra duisende polisiebeamptes in hierdie stadium steeds vuurwapens wat hulle nie bevoeg is om te gebruik nie – en boonop nie sielkundig goedgekeur is om te hanteer nie.

“Daar is algehele paranoia, maar dié wat paranoïes is, is soms veel gevaarliker as ander,” sê Cameron.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê hoewel hy geen aanhanger van samesweringsteorieë is nie, laat die gelyktydige voorgestelde beleid van onteiening sonder vergoeding – en die beoogde ontwapening van die burgery – gevaarligte flikker.

Groenewald waarsku ook dat die ontwapening van burgers in ander wêrelddele dikwels die voorloper van talle diktatorskappe in die geskiedenis was.

Onwettige wapens

(Argieffoto: SA Polisie)

Wettige vuurwapeneienaars word male sonder tal – ook deur die minister van polisie, Bheki Cele – voorgehou as ʼn groot bydraer tot Suid-Afrika se probleem met onwettige vuurwapens. Die polisie se geskiedenis om sy eie wapens op te pas, is egter klaaglik.

Groenewald sê in antwoord op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus het Cele aangedui dat die polisie tussen 2010 en 2015 self 4 357 vuurwapens en meer as 9,5 miljoen rondtes ammunisie verloor het.

Daar was die afgelope ruk boonop verskeie berigte van polisiebeamptes wat wapens in polisiebesit aan misdadigers verhuur. Talle wapens word ook via Afrika uit ander wêrelddele die land ingesmokkel.

“Ek het so ʼn paar jaar gelede gehoor die prys van ʼn AK47 by die Mosambiekse grens is ʼn bottel brandewyn. Miskien is dit vandag twee bottels,” sê Groenewald.

Hy hou vol dat ʼn onderskeid getref moet word tussen ʼn vuurwapen en wie dit hanteer. “Jy kan nie ʼn potlood vir verkeerde spelling blameer nie. Dít is wat die regering met vuurwapens doen.”

In Suid-Afrika word 58 mense gemiddeld elke dag vermoor. In ʼn onderhoud met SABC sê Cele egter meer mense word doodgemaak of beseer deur wettige vuurwapens, as deur onwettige vuurwapens.

Dr. Chris de Kock, ʼn onafhanklike ontleder en voormalige hoof van die polisie se misdaadinligtingontledingsentrum, sê hy kon geen bewyse vind wat dié stelling staaf nie.

Cele sê in dieselfde onderhoud in 2019-’20 is 566 wettige wapens gebruik om te moor, te beseer of iemand te probeer vermoor. Volgens die minister was die meeste slagoffers vroue.

De Kock sê die syfers maak geen sin nie. Hy sê volgens die polisie se 2019-’20-statistieke is vuurwapens in 85% van kapings – dit is 15 110 voorvalle – gebruik. In dieselfde jaar is 16 261 sakerooftogte gepleeg waar ʼn vuurwapen in die hand van ʼn misdadiger was, dus veel meer as die 566 voorvalle waarna Cele verwys.

“Ek het geen idee waar hy aan daai syfers kom nie,” sê De Kock.

Wet gaan vroue ontmagtig

Tshepi Mmekwa is die woordvoerder van Girls on Fire, ʼn organisasie wat in 2015 tot stand gekom het en hom beywer vir die bemagtiging van vroue om hulself en hul gesinne te beskerm.

Mmekwa bestempel die voorgestelde wysigings as “die bevordering van geslagsgeweld.” Sy sê vir elke 411 Suid-Afrikaners is daar een polisiebeampte. “Hoe beskerm jy mense só? Om nie eens te praat van vroue nie.

“Ons kan nie hierdie toelaat nie. Ons moet saamstaan en verseker dat wettige vuurwapeneienaars nie op dié manier aangeval word nie.”

Mmekwa bevraagteken waarom die regering konsentreer op wettige vuurwapeneienaars – wat in die eerste plek moet agteroor buig om ʼn wapen te bekom – pleks daarvan om wapens uit die hande van misdadigers te kry.

“Ons is onder beleg. Die regering verhoog sy eie beskerming, maar verminder dit vir ons. Dit sê vir my daar is iets sinister aan die gang.”

Mmekwa sê die minister praat van vroue wat bedreig word, maar male sonder tal, wanneer ʼn vrou ʼn voorval aanmeld waar haar lewensmaat haar met ʼn wapen dreig, verroer die polisie nie ʼn vinger nie. Sy sê in sulke gevalle is dit die polisie se plig, en hy het ook die mag om dit te doen, om ʼn vuurwapen uit iemand se besit te verwyder. Vroue word dus dikwels aan die genade oorgelaat.

Mmekwa glo as ʼn vrou ʼn wettige wapen besit en weet hoe en wanneer om dit gebruik, kan sy haarself verdedig; of die bedreiging nou uit ʼn bekende of onbekende oord kom.

Word wettige wapens teen eienaars gebruik?

Die stelling dat wettige vuurwapeneienaars se wapens gereeld teen hulle gebruik word, word boonop voortgesit, sê Joubert. Die waarheid hiervan moet egter nog bewys word.

Die bewering dat ʼn Suid-Afrikaner ʼn vier keer groter kans het dat sy eie wapen teen hom gebruik gaan word as wat hy dit in selfverdediging kan gebruik, word dikwels gemaak. Die statistieke word toegeskryf aan ʼn studie wat in 1999 en 2000 in Suid-Afrika gepubliseer is, maar volgens Africa Check sê die skrywer daarvan sy navorsing steun nie só ʼn bewering nie.

Navorsers van Africa Check kon in 2019 ook geen onlangse, betroubare data vind oor die sogenaamde risiko’s wat vuurwapeneienaars se eie wapens vir hul inhou nie.

En volgens die polisie se eie 2019’-20-statistieke kon net 58 moordondersoeke met ʼn voorval van selfverdediging verbind word.

Doel van voorgestelde wetgewing

Cameron sê nie die polisie, óf private veiligheidsmaatskappye – ten spyte van hul beste pogings – het die hulpbronne om geweldsmisdaad te stuit nie. En die beplande wetgewing gaan dit ook nie regkry nie.

Hy sê ʼn goed opgeleide vrou met ʼn wapen maak die speelveld gelyk teen ʼn aanvaller dubbel haar grootte en dat ʼn wetsgehoorsame, gewapende burger nie nodig het om elke dag in vrees te leef nie.

“As die polisie nie antwoord nie, sal jou vuurwapen wél.”

Cameron sê ʼn burger wat hom- of haarself kan verdedig, kan ook sy familie en dan sy bure verdedig. En dit lei weer tot die beskerming van die breër gemeenskap.

“ʼn Wettig bewapende burger, is ʼn veilige burger.”

Joubert sê onderliggende faktore, waaronder die stand van onderwys, die ekonomie en werkloosheid onder jongmense, is net sommige van die faktore wat tot geweld lei. Voeg hierby lae vlakke van maatskaplike vertroue, uiters uiteenlopende kulture en groot armoede – en die slagordes is opgestel vir geweld.

“Strenger vuurwapenbeheer is nie die antwoord nie,” sê Joubert.

Kenners sê indien die wet deurgevoer word, ten spyte van tientalle organisasies en duisende wettige vuurwapeneienaars se pogings om dit te stuit, word ʼn streep getrek deur die plan om onwettige wapens te verminder omdat duisende nuwe wapens oornag onwettig sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Niks gebeur toevallig saam nie. Die wet op grondonteieining toevallig saam met ontwapening? Die virus toevallig gelyktydig met die bankkrot-regering se dringende toepas van die handves-vir-oorvat met die parlement lamgelè? Zuma se vryheidsvegters eis nou hul pond vleis. ‘n Beloofde plasie? Toevallig?

Chris

Ek het in 1984 ‘n dokument onder oë gehad wat van die Kommunistiese Party in die ou USSR aan die SAKP gestuur is. In die dokument is die fases van oorname aan die SAKP gestuur. Dit het die afbreek/vernietiging van sosio ekonomies maatskaplike strukture w.o onderwys en medies aangespreek. Die gesagstrukture en magte van die veiligheidsdienste (polisie/weermag) moet afgebreek word. Die skuldgevoel oor die wandadae van die verlede moet by Christene (gelowiges) ingeprent word. Die onteiening van eiendom moet plaasvind. Alles moet in staatsbeheer besit wees. Die ontwapening van die burgery moet plaasvind. Dit alles onder die demokratisering van ‘n… Lees meer »

Willem

Elke kommunistiese regering in die geskiedenis het sy burgery ontwapen. Elke regering met diktatoriale neigings verkies om nié ‘n burgery te hē wat gewapen is nie terwyl hulle vir hulself die reg toe eien om volledig beskerm te word. Dink maar hoe die veiligheid van die presidensiële ampswoning in Pretoria teen geweldig hoë koste opgegradeer is in die tyd van die sg “nuwe demokratiese” regering. Dit terwyl die Staatshoof in die “ou” Suid-Afrika dood veilig in daardie huis gebly het – die Marxiste is paranoïes want hulle weet uiteindelik sien die mense deur hulle. Dit is verstommend arrogant om jouself… Lees meer »

gatgogga

Sou die wet deurgevoer word, hoe lank sal dit neem om alle wettige vuurwapens op te spoor en te konfiskeer? Ek dink so twee jaar.
Van dan af, hoe lank sal dit neem om die onwettige vuurwapens te konfiskeer? Baie dekades, indien ooit.
Vir al hierdie tyd is die burgery totaal uitgelewer aan die kriminele – en aan die regering ook.

Persheks Adri

Hulle het nie mannekrag of die opleiding om ons te beskerm nie punt. Die regering soek ons eerlike burgers se wapens, want hulle soek alles van ons en dan gaan ons nie kan terug baklei nie! Die wet mag NIE deur gevoer word NIE! Ek gaan nie ‘n krimineel word vir hoedeman nie hy sal dit uit my dooie hande kom haal, maar voor dit………