Parapleeg durf koue see by Robbeneiland aan

Gideon Nasilowski (Foto: Verskaf)

ʼn Voormalige Paralimpiese swemmer van Namibië gaan Maandag 7,5 km van Robbeneiland na Bloubergstrand swem. Gideon Nasilowski (36) gaan die yskoue weer en water trotseer om mense met gestremdhede te inspireer. Dit sal die langste roete en moeilikste uitdaging wees wat hy nóg aangepak het.

Nasilowski het verlede jaar tydens die staat van inperking met die idee vorendag gekom om tussen Robbeneiland en die Suid-Afrikaanse vasteland te swem toe Buff van Westenburgge, ʼn Suid-Afrikaanse swemmer, hierdie afstand in sy swembad vier keer vir liefdadigheid geswem het. Dit het Nasilowski geïnspireer om dieselfde te doen.

Hy gaan dié moeilike uitdaging nou aanpak ter bewusmaking van mense met gestremdhede. Hy wil ook die stigma aan gestremdhede eens en vir altyd verbreek.

“Niks is onmoontlik nie en my gestremdheid is geen verskoning nie,” het Nasilowski aan Maroela Media gesê.

Nasilowski is gebore met ʼn siektetoestand wat die ontwikkeling van veelvuldige gewrigskontrakture in twee of meer gedeeltes van die liggaam veroorsaak.

ʼn Kontraktuur vind plaas wanneer ʼn gewrig permanent in ‘n gebuigde of reguit posisie vashaak, wat die funksie en bewegingsomvang van die gewrig kan beïnvloed. Dit ontwikkel reeds voor geboorte.

Nasilowski se gewrigspiere is baie swak en sy beendere kan maklik breek.

Soos ʼn vis in die water

Gideon is gebore met ʼn siektetoestand wat die ontwikkeling van veelvuldige gewrigskontrakture in twee of meer gedeeltes van die liggaam veroorsaak (Foto: Verskaf)

Nasilowski is in Namibië bekend as die “Amphibian Namibian”. Hy was die eerste Namibiese swemmer om aan die Paralimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro deel te neem.

Dié kranige swemmer het as kind leer swem, maar was toe nog effens bang dat hy gaan verdrink. Hy het egter op 23 jaar dié vrees oorwin en ʼn passie vir swem ontwikkel.

“Ons was in 2008 by ʼn braai toe ons na die Paralimpiese Spele gekyk het. Een van my vriende het gesê ek sal nooit ʼn Paralimpiese atleet kan wees nie. Ek het vir hom gesê hy moet my nie uitdaag nie. Ná lang ure van oefen en baie toewyding, het ek Namibië in 2016 in die Paralimpiese Spele verteenwoordig.”

Bedags werk Nasilowski as assistentwinkelbestuurder by Fruit & Veg in Walvisbaai en in die aande swem hy. Hy swem 1 km elke aand van Maandae tot Donderdae. Op Vrydae swem hy tussen 7,5 km en 10 km.

Hy oefen reeds sedert April om die 7,5 km Maandag te kan swem. Ter voorbereiding vir die marathon het hy in September 28 km en in Oktober 41 km geswem.

Stigma aan gestremdheid

Gideon was die eerste Namibiese swemmer om aan die Paralimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro deel te neem (Foto: Verskaf)

Volgens Nasilowski kleef daar regdeur die geskiedenis ʼn stigma aan mense met gestremdhede.

“In baie kulture word gestremdheid met vloeke, siekte, afhanklikheid en hulpeloosheid verbind. Die samelewing dink mense met gestremdhede is hulpeloos en kan nie na hulself omsien of hul eie besluite neem nie. Dit is egter nie die waarheid nie.”

Nasilowski sê hy het nog nooit gevoel sy gestremdheid hou hom terug in die lewe nie.

“Ek het die kuns bemeester om my swakheid te gebruik en dit in krag te verander. My gestremdheid maak my uniek. Die wêreld mag my as swak beskou, maar van binne is ek ʼn vegter.”

Nasilowski sê hy wil al hoe meer projekte aanpak waardeur hy diegene met gestremdhede toerus met die nodige vaardighede en hulle help om werk en ʼn doel in die lewe te vind.

“Ek wil van hulle atlete maak en hulle moet baie goue medaljes wen, maar bowenal wil ek hulle leer om nooit toe te laat dat hul gestremdheid hul vreugde wegneem nie. Leef die lewe met passie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anel ·

‘n Baie inspirerende jong man. Hoeveel gesonde mense sit net op hul onderstelle en kla oor alles en niks en verwag alles moet vír hulle gedoen word. Baie sterkte, Gideon, hierdie tannie haal haar hoed af vir jou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.