Parate polisiemanne red kapingslagoffer; 1 vas

Die Mercedes Benz waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

ʼn Kapingslagoffer is Woensdagoggend deur twee parate lede van die Soweto-blitspatrollie gered, terwyl een vermeende kaper in hegtenis geneem en twee gekaapte voertuie teruggevind is.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die blitspatrolliebeamptes was tussen 08:00 en 09:00 besig met patrolliewerk op die Goue Hoofweg toe hulle ʼn wit Mercedes Benz teen die  aankomende verkeer aangery sien kom. Die beamptes het onraad vermoed en die voertuig agternagesit.

“Die Mercedes het versnel en roekeloos deur die verkeer gevleg om die polisie te ontduik. Die voertuig was uiteindelik naby die Burgersentrum in Lenasia-Suid in ʼn botsing betrokke. Die beamptes kon daarin slaag om een gewapende verdagte, wat skote op hulle afgevuur het, in hegtenis te neem. Sy makker het ontsnap,” sê Masondo.

Die ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

In die Mercedes het beamptes ʼn man aangetref wat aan hulle gesê het hy is kort vantevore deur die twee verdagtes by sy huis in Ridgeway gekaap. Die Mercedes was egter nie die man se motor nie – die slagoffer se gekaapte voertuig is later in Eldorado Park gevind.

Masondo sê verdere ondersoek het vasgestel die Mercedes Benz is vroeër in Mondeor gekaap.

Niemand is tydens die jaagtog of skietery beseer nie.

Masondo sê sake van poging tot moord, besit van ʼn gesteelde voertuig en onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie is by die Lenasia-Suid-polisiestasie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Theresa ·

Baie geluk aan die polisie. Dis uitstekende en lekker om sulke berigte te lees. Maar ek moet dit nou noem. Saak van onder andere poging tot moord is geopen. Dit is na daar op die polisie geskiet is. Maar as ‘n boer met ‘n panga oor die kop geslaan word en herhaaldelik met ‘n mes gesteek word – dan is dit net huisroof. Hoe werk dit nou? Wys jou nou maar net – ons trek aan die kortste end. Dit gaan nooit verander nie.

Andrew ·

Theresa, julle lees koerantberigte en maak aannames daarvolgens. In die geval van ‘n huisroof (‘n definisie vir operasionele doeleindes), wat ‘n gewapende roof (‘n ernstige misdaad) is, word die totale omstandighede ondersoek. Daar kan, na gelang van die spesifieke omstandighede, verdere klagtes bygevoeg word op die dossier. Hou op met emosionele retoriek as jy nie al die feite het nie. Wanneer die saak voorkom in die hof word al die feite in elk geval voorgelê en die verdagte daarvolgens gevonnis. Huisroof is ‘n sg. trio misdaad wat baie ernstig opgeneem word.

Hb ·

Polisie het onraad vermoed toe mercedes teen aankomende verkeer beweeg……wat n simpel stelling, duh….

Cherokee ·

Dit het my ook onmiddellik opgeval, Hb. Vermoed(?) en nie onmiddelik besef iets is baie kokkai nie? ‘n Swart vroulike kollega het die gewoonte gehad om te sê “Det lat djou denk nè!”.

GM ·

Vreeslik paraat om te sien hoe ‘n voertuig teen die verkeer ry. Hmmmm…
Maar ek is bly hulle het darem opgevolg en nie net anderpad gekyk nie.

JS ·

Nou is dit poging tot moord, slaan ‘n boer met n panga oor die kop en daar word ‘n roof saak ondersoek.

Marlie ·

Kan iemand dalk net vir Blondie verduidelik hoe polisie beamptes as paraat beskryf kan word wanneer hulle ‘n voertuig wat teen die verkeer in ry, opmerk???

jakes ·

Welgedaan SAPD. Die dom kapers sou uiteraard aandag trek as hulle teen die verkeer sou ry. Die gesegde dat” daar geen pille vir domgeit is nie”, is hier van toepassing. Elke dag hoor en sien n mens in watse land SA ontaard het.

Wonder ·

Baie geluk aan die polisie, maar hoekom moet hierdie nuus maak? Is dit nie hulle werk nie?

Chris Ws ·

Ek wonder nou net in wie se hande daai gekonfiskeerde ongelisensieerde vuurwapen nou gaan val.

Corrie Botha ·

Dit is n redelike nuwe vuurwapen. CZ PO 7…. Dalk van n wag afgevat wat ook geskiet is. Die rontes is darm nie hol punte nie. Darm bly om te hoor daar word weer patrolie gery.

willem Botha ·

Hy was inderdaad gelukkig,minder as een persent van die polisie is nog paraat so die feit dat die parate polisie juis op daardie tyd daar was spreek van die slagoffer se geluk en die kapers se ongeluk.

LouE ·

Daar gebeur geweldig baie negatiewe dinge deesdae. Maar selfs as daar iets positief gebeur dan is daar ‘n paar klakouse wat kerm oor die geringste. Hulle beskik oor die vermoë om selfs die mees positiewe ding in iets negatiefs om te draai. Sies ga! julle verlaag ons tot ‘n volk wat in elk geval sal kla, maak nie saak wat nie – so die wêreld kan ons maar ignoreer. Skande!

Eddy ·

Baie suksesse hang af van die betrokke polisielid se oplettendheid,waaksaamheid( vigilance),so dankbaar daarvoor.Daar is steeds lesers wat die beriggewing of woordkeuses van die berig, bevraagteken ,soos bv.die woord ‘paraat’.Jy hoef nie Einstein te wees nie maar jy kan mos nou verstaan dit bedoel die polisieman was vasbeslote end dapper en nie van struik af laat bring nie

GM ·

Eddy, paraat wees het niks met dapperheid te doen nie. Dis om oplettend en slaggereed/voorbereid wees. Jy kan situasies evalueer en daarvolgens reageer. En om ‘n motor raak te sien wat teen aankomende verkeer aangery kom, val nie vir almal onder ‘paraat wees’ nie. Baie polisiemanne se werksetiek is van so ‘n aard, dat ons die netsowel kan klassifiseer as ‘n gelukskoot. Die polisieman het toevallig opgekyk in daardie stadium, en nie na sy selfoonskerm nie – Soos ek meeste sien rondry deesdae. (Ek sê dit so half tongue in the cheek – ek weet daar is nog baie goeie polisiemanne ook).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.