Parktown-afrigter as ‘seks-boelie’ gevonnis

Collan Rex. Foto: Itumeleng English/ANA

Collan Rex (23), die voormalige waterpolo-afrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg wat Donderdag tot 23 jaar tronkstraf gevonnis is, “is ʼn gevaar vir die samelewing en kinders spesifiek”.

Só het regter Peet Johnson gesê toe hy Rex tot 20 jaar tronkstraf gevonnis het vir 144 aanklagte van seksuele aanranding en drie jaar tronkstraf vir 12 aanklagte van aanranding.

“Die hof moet ʼn boodskap uitstuur dat seksuele aanranding van kinders nie aanvaar sal word nie en dat dié soort gedrag nie geduld sal word nie. Dit is jammer dat onverantwoordelike seksuele boelies hul pad tot in die skoolstelsel kry.”

Rex het vroeër skuld beken op die 144 aanklagte van seksuele aanranding. Hy het egter op die 183 oorblywende aanklagte, wat verkragting en poging tot moord ingesluit het, skuld ontken.

“Dit is duidelik dat jou aksies ʼn vernietigende impak op hulle en hul families se lewens gehad het,” het Johnson gesê. “Van hulle het probeer selfmoord pleeg en ander moet konstant dopgehou word sodat hulle nie selfmoord pleeg nie.”

Johnson het gesê die enigste rede hoekom Rex nie op nog aanklagte skuldig bevind is nie, is omdat van die seuns nie die presiese datums en tye van die oortredings kon onthou nie. “Hulle was so bang vir jou dat hulle vir jou probeer wegkruip het.”

Collan Rex. Foto: ANA.

Volgens Johnson het hy nog nie iemand teëgekom wat soveel voorvalle van seksuele aanranding gepleeg het nie. Hy het gesê hy beskou Rex as ʼn reeksseksoortreder en ʼn seksuele boelie wat die misbruikkultuur by die skool uitgebuit het.

“Jou gedrag is per toeval ontdek,” het Johnson gesê en bygevoeg dat Rex nie in enige oomblik gedink het sy aksies is verkeerd nie. “Jy het nie aan die slagoffers of die skool wie se naam jy in oneer gebring het om verskoning gevra nie.”

Een van Rex se slagoffers het gesê hy is gelukkig oor die vonnis wat Rex opgelê is en dat hy nou daarop fokus om te herstel. ʼn Ouer van een van die slagoffers het gesê dié saak sal ander slagoffers die moed gee om na vore te kom.

Tydens die verhoor het verskeie seuns getuig hoe Rex hulle in ʼn wurggreep beetgekry het wanneer hy met hulle gestoei het. Van die seuns het ook getuig dat Rex seks met hulle gesimuleer het en aan hul geslagsdele gevat het.

Die hof het vroeër die week gehoor Rex se stiefpa het alkohol misbruik en Rex en sy ma verbaal mishandel. Rex het ook gesê hy was self die slagoffer van mishandeling toe hy in gr. 8 by Parktown Boys’ High School begin het en dat hy tydens ontgroening trauma opgedoen het.

Rex het gesê stoei en seuns wat mekaar aan die geslagsdele gryp, het ten doel om hul sterk mans te maak en dat dit later normaal geraak het. Rex se familie het aangevoer dat hulle seergemaak is dat hy gestraf word vir gedrag wat “normaal” geword het by die skool en dat hy nooit gedragsprobleme getoon het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Als goed en wel… maar wat van die skool waar dit als gebeur het? Dis mos ONMOONTLIK dat ander personeel, hoofde, beheerliggaam nie van dit kon weet nie? Of praat “tradisie” harder as geregtigheid?

Jip ·

Hoe word hierdie man gevonnis maar seksuele boelie David de Villiers van die model agentskap loop steeds vry rond en gaan aan met sy perverse bedrywighede onder vroue en jong meisies??

nannie ·

Familie en vriende van Rex as jul kinders het, vind by hulle uit of hy nie ook met hulle gepeuter het nie.

Anoniem ·

Nee wat gaan rus maar of nee Jy gaan nie kans kry nie – waar Jy hoort ! Jy is nie meer welkom in ‘n gewone samelewing nie ! Jy het Jou ‘welcome’ overstay !!!!

Geregtigheid ·

Sulkes moet verwyder word uit die samelewing. Hulle het die regte van ander vernietig. Hoop hy sit lank voor hulle parool oorweeg.

Onnie ·

Hy kry 23 jaar , maar ‘n moordenaar net 10 jaar??! Ons regstelsel maak my deurmekaar…

jaco ·

minimum straf vir moord is 15 jaar. elke saak word op sy eie meriete hanteer. kry asb jou feite reg onnie.

Jac ·

Dis tyd dat die gemors vir altyd toe gegesluit word. Ons kinders het vandag ni meer n lewe ni.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.