Parktown-afrigter gevonnis

Collan Rex. Foto: Itumuleng English/ANA

Collan Rex (23), die voormalige waterpolo-afrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg, is Donderdag in die rondgaande hooggeregshof wat in die Palm Ridge-landdroshof sit, gevonnis.

Regter Peet Johnson het Rex tot 23 jaar tronkstraf gevonnis. Rex is vroeër skuldig bevind op 12 aanklagte van aanranding en 144 aanklagte van seksuele aanranding tussen 2015 en 2016, wat verband hou met seuns tussen 13 en 16 jaar oud.

Die hof het vroeër die week gehoor Rex se stiefpa het alkohol misbruik en Rex en sy ma verbaal mishandel. Rex het ook gesê hy was self die slagoffer van mishandeling toe hy in gr. 8 by Parktown Boys’ High School begin het en dat hy tydens ontgroening trauma opgedoen het.

Rex het gesê stoei en seuns wat mekaar aan die geslagsdele gryp, het ten doel om hul sterk mans te maak en dat dit later normaal geraak het. Rex se familie het aangevoer dat hulle seergemaak is dat hy gestraf word vir gedrag wat “normaal” geword het by die skool en dat hy nooit gedragsprobleme getoon het nie.

Collan Rex. Foto: Itumeleng Ensligh/ANA

Die hof het ook gehoor sommige van die seuns, wat deur Rex seksueel aangerand is, se skoolprestasie het agteruitgegaan en ander het selfs dwelms begin gebruik.

Meeste van die seuns het gesê hulle word steeds geboelie oor hulle onthul wat met hulle gebeur het. Van die seuns het selfs gesê hulle het dwelms gebruik en probeer selfmoord pleeg om die pyn wat hulle ervaar te probeer beter maak.

Rex het vroeër skuld beken op die 144 aanklagte van seksuele aanranding. Hy het egter op die 183 oorblywende aanklagte, wat verkragting en poging tot moord ingesluit het, skuld ontken.

Tydens die verhoor het verskeie seuns getuig hoe Rex hulle in ʼn wurggreep beetgekry het wanneer hy met hulle gestoei het. Van die seuns het ook getuig dat Rex seks met hulle gesimuleer het en aan hul geslagsdele gevat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sê maar net ·

Jip, dit sal so wees. Daar is meer van hulle, maar ongelukkig word hulle dade nie altyd bekend gemaak nie…… Wat in families gebeur, bly partykeer net in families. So jammer! Jy wat iemand iets verkeerd aangedoen het….Buig jou knie en doen verantwoording vir jou dade. Hou op skynheilig wees. Sê jy is jammer.

Anoniem ·

Hoe het Jy nou gedink – gaan niks gebeur nie ? Jy gaan so spyt wees !

C ·

Ek verwelkom ook sy vonnis. Ek hoop nou net hul spreek die skool ook baie erenstig aan met hierdie tipe wangedrag wat in die skool toegelaat word, alhowel dit vir my wil voorkom asof dit ‘n norm in die skool geraak het en daarom toelaatbaar is. Hierdie norm moet dadelik stop gesit word.

Naas Vermaak ·

Straf en die aantal skuldige bevinde klagtes maak nie sin nie….2mnde per seksuele klag? Sou waarskynlik beter gewees het indien hy hierdie straf kon kry op net 10 of 20 van die aanklagtes en die res soos n swaard oor sy kop kon hang die dag wat hy op parool vrygelaat word…..

Piet Pompies ·

‘n “Man” is iemand wat die Here aan die hoof van sy huis plaas, vir sy vrou en kinders omsien soos deur God behaag.
Die klomp nonsense wat die man uitgedink het ter verweer van sy optrede is “soft soaping”. Alles self uitgedink en opgemaak om sy verkeerde optrede te regverdig. Ek was self in ‘n Landbouskool vir seuns en daar was niks van sulke vreemde gedrag om manlikheid te bewys. Dit het enige leerling of personeel lid vrygestaan om enige vreemde gedrag te rapporteur. Niks vreems is ooit weerhou of onder die tafel ingevee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.