Die voorvonnisverrigtinge in die saak van Collan Rex, die voormalige waterpolo-afrigter van Parktown Boys’ High School in Johannesburg, is Donderdag weer in die Palm Ridge-landdroshof uitgestel.
Staatsaanklaer Arveena Persad het aan regter Peet Johnson gesê die voorvonnisverslag is nog nie gereed nie en sal op die vroegste eers 31 Oktober beskikbaar wees, maar dit moet nog bevestig word.
Rex, wat Saterdag 23 jaar oud word, is vroeër skuldig bevind op 12 aanklagte van aanranding en 144 aanklagte van seksuele aanranding tussen 2015 en 2016 wat verband hou met seuns tussen 13 en 16 jaar oud.
Persad het tydens Maandag se hofverskyning gesê die slagoffers se impakverslae is aan die proefbeampte oorhandig.
Rex het vroeër skuld beken op die 144 aanklagte van seksuele aanranding. Hy het egter op die 183 oorblywende aanklagte, wat verkragting en poging tot moord ingesluit het, skuld ontken.
Die saak is tot Vrydag uitgestel om te bevestig wanneer die voorvonnisverslag gereed sal wees.