Parktown-afrigter ‘ook seksueel aangerand’

Collan Rex. Foto: Itumeleng English/ANA

ʼn Maatskaplike werker het Dinsdag in die hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, aanbeveel dat Collan Rex, die voormalige waterpolo-afrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg, tot direkte tronkstraf gevonnis word.

Rex is vroeër skuldig bevind op 12 aanklagte van aanranding en 144 aanklagte van seksuele aanranding tussen 2015 en 2016, wat verband hou met seuns tussen 13 en 16 jaar oud.

Xoliswe Budaza, wat gehelp het om ʼn voorvonnisverslag oor Rex op te stel nadat sy onderhoude met hom gevoer het, het gesê Rex het onvanpas teenoor sy slagoffers opgetree en ʼn impak op hul lewens gehad.

Volgens die verslag het Rex se stiefpa alkohol misbruik en het hy Rex en sy ma verbaal mishandel. Rex het ook aan Budaza gesê hy was die slagoffer van mishandeling toe hy in gr. 8 by Parktown Boys’ High School begin het en dat hy tydens ontgroening trauma opgedoen het.

Rex het gesê stoei en seuns wat mekaar aan die geslagsdele gryp het ten doel om hul sterk mans te maak en dat dit later normaal geraak het.

Christian Bossert, direkteur van die skool se koshuise, het gesê Rex was nie stiptelik nie en kinderagtig. Volgens Bossert het hy klagtes ontvang oor Rex se gestoei met die seuns.

Collan Rex. Foto: Itumuleng English/ANA

Rex se familie voer egter aan dat hulle seergemaak is dat hy gestraf word vir gedrag wat “normaal” geword het by die skool en dat hy nooit gedragsprobleme getoon het nie.

Rex het ook aan Budaza gesê dat hy voor die saak nie genoegsame kennis gehad het van seksuele aanranding nie en dat hy tydens die saak besef het hy is ook aan seksuele aanranding blootgestel tydens sy hoërskooljare.

William Robertse, Rex se regsverteenwoordiger, het Rex se vriendin van die afgelope drie maande, Jolene Farina, geroep om ter strafversagting te getuig. Sy het aan die hof gesê Budaza het haar besoek en dat Budaza gesê het sy ervaar druk om direkte tronkstraf voor te stel anders kan dit haar loopbaan negatief beïnvloed.

Arveena Persad, die staatsaanklaer, wou by Farina weet of Rex vir haar gesê het van sy skuldigbevinding. Sy het gesê Rex het vir haar gesê dat hy van seksuele aanranding beskuldig word en dat sy kan google om duidelikheid daaroor te kry.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Parlement ·

Ek dit gee hom die reg om dit te doen aan ander kinders?

Abe ·

Onrehabiliteerbaar. ‘Moet uit die samelewing verwyder word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.