Parktown Boys: Seuns het dwelms gebruik, wou selfmoord pleeg

Collan Rex. Foto: Itumeleng Ensligh/ANA

Van die seuns wat deur Collan Rex, die voormalige waterpolo-afrigter van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg, seksueel aangerand is se skoolprestasie het agteruitgegaan en ander het selfs dwelms begin gebruik.

Arveena Persad, staatsaanklaer, het die slagofferimpakverslae van die seuns Dinsdag in die hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, ingehandig. “Dit het tot gevolg gehad dat ek die lewe haat,” het een van die seuns in sy verslag aangevoer.

Rex is vroeër skuldig bevind op 12 aanklagte van aanranding en 144 aanklagte van seksuele aanranding tussen 2015 en 2016, wat verband hou met seuns tussen 13 en 16 jaar oud.

Meeste van die seuns het in hul verslae gesê hulle word steeds geboelie oor hulle oopgemaak het oor wat met hulle gebeur het. Van die seuns het selfs gesê hulle het dwelms gebruik om die pyn wat hulle ervaar te probeer beter maak.

Busisiwe Mahlangu, ʼn maatskaplike werker wat van die slagofferimpakverslae saamgestel het, het getuig oor ʼn matriekseun wat psigiatriese medikasie moet gebruik nadat hy seksueel aangerand is deur Rex en dat hy sukkel met sy skoolwerk. Volgens die seun se pa was sy seun se akademiese rapporte bo gemiddeld toe hy in die laerskool was, maar het dit agteruitgegaan toe hy in gr. 8 by Parktown Boys begin het.

Collan Rex. Foto: Itumeleng Ensligh/ANA

Volgens die seun het hy dwelms begin gebruik en selfs probeer selfmoord pleeg. Hy is in 2017 met depressie gediagnoseer. Die seun het ook aangevoer dat hy fisiek en verbaal beledigend geraak het tenoor sy vriendin en dat dit daartoe gelei het dat hulle in 2018 hul verhouding beëindig het.

Christian Bossert, direkteur van koshuise by die skool, het tydens sy getuienis gesê Rex het ʼn finale waarskuwing ontvang oor sy stoeiery met die seuns en dat meer seuns hierna na vore gekom het en vertel het dat hulle sukkel om te slaap weens wat met hulle gebeur het.

Volgens Bossert het twee seuns selfs gesê hulle wil selfmoord pleeg. Hy het ʼn geheuestokkie aan die hof gegee met beeldmateriaal van waar Rex van die seuns misbruik.

William Robertse, Rex se regsverteenwoordiger, het beswaar gemaak en versoek dat die beeldmateriaal nie gewys word nie aangesien hy meen dit nie relevant is nie aangesien Rex reeds gevonnis is.

Regter Peet Johnsson het met die verdediging saamgestem en geweier dat die beeldmateriaal gewys word.

Die saak is tot vandag uitgestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

nannie ·

Wonder of Rex besef wat se skade hy aan die seuns gedoen het? Geestelik, emosioneel, liggaamlik.

Abe ·

Nannie,
Voeg daarby dat so iemand onrehabiliteerbaar is. Hy moet onmiddellik uit die gemeenskap verwyder word.

Anoniem ·

En die enorme skade wat hy aangerig het in toekomstige verhoudings wat die seuns mag he. Vra my, ek is getroud met ‘n man wat deur ‘n onderwyser molesteer is. Dit is bitter moeilik om so ‘n huwelik aan die gang te hou. Veral wat die fisieke betref.

Robert ·

Anoniem: die fisieke kan jy nog maklik oorkom maar die psigiese letsels is dit wat lank bly kleef. aan die ander kant loop die 2 gewoonlik saam

Santjie ·

Hoekom nou agter jou hand wegkruip? Hoekom sulke jong mense se lewens vernietig?

Onnie ·

Kan iemand my inlig… Ek kan nogi leka agterkom of hy seksuele dade met die seuns gepleeg het en of hy hulle net aan die dinges gegryp en bietjie opgerof het?? Want daar is vir my ‘n moewiese verskil tussen die twee. Sal graag meer duidelikheid wil hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.