Parktown se skoolhoof appelleer teen afdanking

Malcolm Williams. (Foto: Facebook)

Die hoof van Parktown Boys’ High, Malcolm Williams, wat vroeër afgedank is ná die tragiese dood van Enock Mpianzi, gaan appelleer teen dié beslissing.

Williams is van drie aanklagte van wangedrag beskuldig ná die voorval op 15 Januarie toe die 13-jarige Enock tydens ʼn gr. 8-kamp van die skool verdrink het.

Die departement het destyds gesê Williams het die administrasie, dissipline of doeltreffendheid van die departement onregverdig benadeel. Die tweede bewering was dat hy versuim het om seker te maak dat ʼn teenwoordigheidslys vir alle leerders op die uitstappie deurgaans volgehou word. Die derde bewering was dat hy die lewe van leerders in gevaar gestel het toe ʼn rits veiligheidsreëls en -regulasies verontagsaam is.

Williams is skuldig bevind op die eerste twee aanklagte en onskuldig op die derde aanklag. Hy is daarna afgedank.

Enock Mpianzi (13).

Die Gautengse departement van onderwys sê Williams bly in diens van die departement tot die appèlproses afgehandel is.

Die departement het ook ʼn aanbod aan die Mpianzi-familie gemaak om die saak wat ná sy dood aanhangig gemaak is, te skik.

“Dit is verwerp en hulle het ʼn dagvaarding uitgereik waarin hulle R20 miljoen eis. Die departement verdedig in hierdie stadium die eis,” lui ʼn verklaring van die Gautengse onderwysdepartement.

Die departement is ook steeds gewikkel in onderhandelings met die familie van Keamogetswe Seboko, ʼn gr. 7-leerder wat in Januarie vanjaar in ʼn swembad by die koshuis van die Laerskool Bekker in Magaliesburg verdrink het.

ʼn Ondersoek na die voorval het bevind die skool en die Gautengse departement van onderwys is aanspreeklik vir die 13-jarige leerder se verdrinking.

Die departement het vroeër vandeesmaand die uitslag van die ondersoek aan die familie bekend gemaak.

“Ons regspan het die familie daarna vir ʼn skikking besoek en is steeds besig met onderhandelings,” het die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tokkel ·

Wonder of die onderwyser ook afgedank is nadat hy ‘n klomp skooldogter swanger gemaak het so paar jaar terug. Meneer Williams dit kon by enige skool gebeur het en enige tyd. Niemand in ons samelewing sal enige kind laat verdrink of skade aandoen nie. Ek voel die mense wat die kamp het moet volle verantwoordelikheid dra vir die dood van die kind, want hulle ken die rivier en hulle fasiliteite.

MJ ·

Dis hartseer en ek verstaan dat daar ‘n eis is.
Maar R 20 m is net belaglik en geldgierig.

Elize ·

Ek sou ook as ek jy was mnr. Nader Afri – Forum want ek dink jy was hulle scapegoat

Misky ·

Daai ouers ruk nou die dam onder die eend uit….. 20miljoen is die bewys daarvan en hulle sien net dollar signs….. sies vir julle en asof hulle dink enigiemand was direk verantwoordelik of aspris

Sandra ·

Niemand is perfek nie, maar wat met die Enoch gebeur is het is skokkend. Dat die omstandighede rondom die rekord hou van die name en kinders op die bus, wat aan die aktiwiteit deelgeneem het, en wat terug is van die aktiwiteit is nie eens gehou nie. As hulle dit behoorlik gehou het en korrekte supervisie gehandhaaf het, dan sou die tragedie nie eens gebeur het nie. As ek reg onthou, het die onderwysers nie eens die water aktiwiteit gemonitor nie, maar het skoolkinders dit laat doen. As daar nie genoeg reddingsbaadjies was nie, moes hulle die aktiwiteit gekanselleer het. Ek dink die kamp se eienaars is ook verantwoordbaar vir wat gebeur het. Hulle moes, as die gashere van die kamp. gesorg het dat daar genoeg baadjies is. Dit was glo die 2de maal dat daar so iets gebeur het. Die hoof is soos die kaptein van die skip. As sy bemanning opmors, moet hy die verantwoording dra.

Dup ·

Miskien is dit tyd om die veiligheidsmaatreëls by skole weer op te skerp om die leerlinge en personeel te beskerm teen soortgelyke voorvalle.

Johan ·

Dis die prys vir vryheid. Ek bedoel as mense die vryheid het om goed te doen kan iemand seerkry, anders kan ons alles maar net verbied en kinders veilig tuis hou. Ek weet net nie hoe sit jy n geldelike prys op jou kind se lewe nie, dis bietjie gek.

Yvonne ·

Tragies gebeure…..maar die absurde bedrag geld word geeis….dit maak nie sin nie….die vieslike virus van gierigheid

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.