
Enock Mpianzi (13), ‘n leerder aan die Parktown Boys’ High School, se liggaam is ‘n kort rukkie gelede gevind.
Die soektog na die 13-jarige Enock Mpianzi, wat op ʼn oriënteringkamp vir graad 8-leerders verdwyn het, het geëindig met sy liggaam wat ʼn kort rukkie gelede in die Krokodilrivier gevind is.
Enock was ʼn leerder aan Parktown Boys’ High School, ʼn spogskool in Johannesburg. Die seuns was op ʼn graad 8-kamp by ʼn lodge naby Beestekraal by Brits in Noordwes, toe Enock vermis geraak het.
Die groep leerders het Woensdag by die kampterrein aangekom. Hulle het die middag onder meer aan ʼn vlotbouaktiwiteit by die rivier deelgeneem. Donderdagoggend is daar besef Enock word vermis en ʼn soektog na hom is van stapel gestuur.
Die polisie is 15:00 gister van sy verdwyning in kennis gestel en lede van die polisie se duik- en honde-eenheid het die gebied vir enige teken van Enock gefynkam.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het gesê polisieduikers het die tienerseun se liggaam omstreeks 09:45 in die rivier gevind. Hy was sowat 3 km stroomaf van waar die vlotbou-aktiwiteit plaasgevind en Enock die laaste keer lewend gesien is.
Myburgh het gesê Enock se familie het hom op die toneel uitgeken.
Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, is self na die kampterrein nadat hy oor die seun se verdwyning ingelig is. “Ons is platgeslaan deur dié tragiese ongeluk. Ons gedagtes is by die familie en skoolgemeenskap,” het Lesufi in ʼn kort boodskap gesê nadat Enock se liggaam gevind is.
Op die skool se webblad het talle mense gebid dat Enock ongedeerd gevind sal word. Kort nadat die nuus oor sy dood bekend gemaak is, het boodskappe van medelye begin instroom.
Lesufi sal na verwagting later vanmiddag ʼn mediakonferensie oor die voorval hou.
BREAKING #ParktownBoysCamp The body of the missing learner has been found by the police. The family of Enoch Mpianza was fully briefed and we are all devastated by this tragic accident. Our thoughts are with the family and the school community.
— Panyaza Lesufi (@Lesufi) January 17, 2020
Die skool het gesê hy sal na dié vergadering ʼn formele verklaring uitreik.
Myburgh het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek gaan nou gedoen word om die omstandighede rondom Enock se verdwyning en die oorsaak van sy dood te bepaal.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
50 Kommentare
Ongelooflik hartseer en tragies. My innige simpatie aan die ouers en familie
RIV liewe kind. Mag geregtigheid geskied.
RIV Enock, tragies en hartseer. Sterkte aan sy familie, vriende & skoolmaats.
Dis vreeslik hartseer. Mag God jul dra in die absolute hartseer tyd!!!
“Roll Call” in die aand of self na ‘n aktiwiteit, sal nie iemand se lewe kan red wat verdrink nie. Wat wel sal help, is as aktiwiteite en veral wateraktiwiteite beter beplan word, deurdat deelname altyd in ‘n span van twee moet gebeur.
Jy en jou “aangewysde maatjie” moet mekaar die heeltyd in die oog hou, saamwerk en verantwoording vir mekaar as span doen. Dan sal enige alarm wat gemaak word, ‘n beter kans hê om betyds te wees.
Tragiese verhaal waaruit mens maar net kan probeer leer en volgende keer hopelik beter doen.