Parlement aanvaar belastingwette

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Parlement

Die Nasionale Raad van Provinsies het Donderdag die Wetsontwerp op Rampbestuur en Belastingverligting aanvaar en dit is nou gereed vir ondertekening deur pres. Cyril Ramaphosa.

Van die belangrikste bepalings is om geldskenkings aan die regering se Solidarity Fund belastingaftrekbaar te maak en tydelike vryskelding van Seta-bydraes te wettig.

In die debat oor die wetsontwerp het Yunus Carrim, ANC-LP, gesê dit is geskiedkundig dat die land twee begrotings in een jaar aanvaar sonder ʼn regeringsverandering, en hierdie wetsontwerp maak werk van die nuwe begroting.

Dennis Ryder, DA-LP, het die wetsontwerp en die spoedige hantering daarvan verwelkom as ʼn goeie antwoord op die huidige ekonomiese krisis, hoewel verdere toegewings aan ondernemings nodig mag wees.

Ryder het gesê daar is min fiskale beweegruimte en geen plek vir diefstal en korrupsie met die uitvoer van hierdie wetgewing nie.

Die enigste party teen die wetgewing was die EFF, wie se Simon Moletsane gesê het dit is blote oëverblindery deur die regering, want dis maar net weer die ANC wat gevestigde wit ondernemings wil bevoordeel bo swart mikro-ondernemings en informele handelaars.

Namens die VF Plus het Fanie du Toit die wetgewing verwelkom, maar gesê meer hulp vir private ondernemings is nodig sodat nie nóg ondernemings hul deure sal moet sluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ES ·

Simon Moletsane moet asb vir ons vertel watter wit ondernemings was bevoordeel want ek kan vir hom honderde wys wat nie bevoordeel was nie en hul deure moes sluit.

En wat van die Solidariteitsbeweging wat in die hof baklei het om BEE as vereiste teen te staan en toe, ongelukkig, nie die saak gewen het nie?

Ek hoop die EFF kom nooit in bewind nie want hulle gun geen mens met ‘n blas vel enigiets nie…

Persheks Adri ·

Daai rooi petters moet gaan!!! Wanneer word hulle in elk geval toe gesluit?

gatgogga ·

Ek was onder die indruk dat die Solidarity Fund daargestel is om die gevolge van Covid te mitigeer.
Nou lees ek dat die geld wat so ingesamel word, ook gebruik gaan word om die eeu-oue probleem van Geslagsgeweld te probeer bekamp.
Nou wat nou?

Hoekom ·

Die EFF kyk in hulle eie pienk ooglede vas. Hulle gin niemand anders niks nie. Hulle moet besef hierdie is die 21ste eeu en as hulle in die verlede wil bly dan gaan almal hulle daar los…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.