Parlement aanvaar nasionale begroting

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die land se begroting is vanmiddag deur die parlement aanvaar, ondanks besware van die DA, EFF, VF Plus en ACDP.

Veertig begrotingsposte is ook elkeen afsonderlik aanvaar, hoewel sommiges net-net meer as die vereiste 200 stemme in die Nasionale Vergadering van 400 lede gekry het.

Die minste stemme is uitgebring vir die begrotingspos hoër onderwys en opleiding (201), gesondheid (208), menslike nedersettings (208), water en sanitasie (212) en kuns en kultuur (213).

Die begrotingsposte, wat vir die doel van hierdie spesifieke oefening bekend staan as skedules tot die begroting, word ook deur opposisiepartye gebruik om die mate van beswaar wat hulle teen ‘n spesifieke departement se bestuur, beleid en begroting het, aan te dui. Die enigste begrotingspos wat vanjaar deur alle partye ondersteun is, was die kantoor van die hoofregter, met wie se vertoning almal tevrede is.

Die departemente met die meeste stemme teen hul begrotings, was gesondheid (92), basiese onderwys (91), plaaslike regering (90), openbare ondernemings (89) en openbare werke (88).

Daar was ook harde woorde in debat. Oor plaaslike regering het Wouter Wessels (VF Plus) uitgewys dat R68,5 miljard vanjaar deur munisipaliteite vermors is en dat al meer munisipaliteite bankrot gaan speel, soos reeds met die Mafube-munisipaliteit in Frankfort gebeur het.

In die debat oor die tesourie het Geordin Hill-Lewis (DA) gesê die rentebetaling op staatskuld sal binnekort R277 miljard per jaar beloop, en dat dit haas ondenkbaar is dat die reddingsboei vir Eskom wat vandag aangekondig is, geen teenprestasie van die Eskom-bestuur vereis nie.

Wilfred Thring (ACDP) het oor openbare werke uitgewys dat die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (IDT) die swakste moontlike ouditmening gekry het.

Oor basiese onderwys het die ACDP uitgevaar teen seksvoorligting; die DA het groter fokus op die veiligheid van onderwysers gevra; die VF Plus se fokus was op gemeenskapsinspraak teenoor staatsinspraak; en die IVP het gevra dat graad R-onderwysers dieselfde diensvoorwaardes as ander onderwysers moet hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ja nee ·

Die anc kaders sal als aanvaar sonder om eers te weet wat hulle aanvaar!

Gert van Wierdapark ·

Daar word seker aan-vaar dat die Soustrein by meer “stasies” sal stop!!! “Next stop = Makouvlei!

fred ·

ag ja…vir hulle klink 1 miljoen dieselfde as 1 miljard….moenie worrie nie daar sal altyd geld wees om die semi staat dep. te subsideer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.