Parlement aanvaar wéér ‘ongrondwetlike’ Kieswet

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Die Nasionale Vergadering (NV) het Donderdag die wysigingswetsontwerp op die Kieswet vir ʼn tweede keer aanvaar. Dié omstrede wysigingswetsontwerp sal nou na verwagting aan pres. Cyril Ramaphosa gestuur word om binne dae deurgevoer te word.

Dít ten spyte van waarskuwings uit verskeie oorde dat die wysigingswetsontwerp ongrondwetlik is.

Die Nasionale Vergadering is Donderdag versoek om die wysigingswetsontwerp op die Kieswet te heroorweeg nadat die parlement se aanvanklike aanvaarding van die wysigingswetsontwerp in Oktober verlede jaar gekritiseer is.

Die Nasionale Raad van Provinsies het sedertdien wysigings aangebring. Dit sluit in ʼn wysiging aan die aantal ondersteunershandtekeninge wat ʼn onafhanklike kandidaat sal benodig voordat hy of sy vir ʼn wetgewersetel kan meeding.

Die aantal is nou in lyn met die hoeveelheid ondersteunershandtekeninge wat ʼn party benodig om aan ʼn verkiesing deel te neem.

Daar is ook nou ʼn nuwe klousule wat voorsiening maak vir die instelling van ʼn paneel kundiges om meer uitgebreide verkiesingshervorming te oorweeg as waarvoor die huidige wetsontwerp voorsiening maak.

Tshepi Finca, direkteur van die New Nation Movement, sê dié nuwe wysigings skep net nóg meer hoepels vir onafhanklike kandidate om aan die 2024 provinsiale en nasionale verkiesings deel te neem en verander nie die feit dat die wysigingswetsontwerp ongrondwetlik is nie.

Maroela Media het vroeër berig die Konstitusionele Hof het in Junie 2020 reeds bevind dat die vereiste dat volwasse burgers net tot die nasionale vergadering en provinsiale wetgewers verkies kan word deur hul lidmaatskap van politieke partye, ongrondwetlik is.

Die hof het toe die ongeldigheid vir 24 maande opgeskort, waarna ʼn vergunning weer gemaak is sodat die parlement genoeg tyd sou hê om die nodige wysigings aan te bring om die ongrondwetlikheid reg te stel.

Finca sê die wysigingswetsontwerp in sy jongste vorm is steeds gebrekkig en benadeel onafhanklike kandidate eerder as om hulle te ondersteun.

“Die parlement het doelbewus sy eie interpretasie van die uitspraak aangewend en geringe aanpassings aan die wetsontwerp gemaak, sonder om enige betekenisvolle uitwerking te gee aan die verskillende aanbevelings van ʼn meer direkte en kiesafdelinggebaseerde stelsel van verkiesing van parlementslede.

“Die parlement het in sy konstitusionele verpligting gefaal en effektief ʼn streep deur die oordeel getrek. Ons oordryf nie as ons sê dat dit die nasie in ʼn grondwetlike krisis dompel nie,” sê Finca.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

‘n Grondwet is ‘n westerse konsep. Vreemd vir Afrika!

Rooi rissie ·

Dit sal nooit n regeverdige verkiesing wees met die ANC aan bewind nie. Ek stel voor dat iemand n elektroniese kiesafdeling waar jy jou duim of vinger moet gebruik om te stem maar solank daar met n pen n kruisie getrek word vergeet maar dat n ander party n kans sal kry om in bewind te kom.

muffin ·

dit sal werk maar daar is mense wat elektroniese van duim afdrukke werk nie en dink moet toon ook afdrukke doen. om pen kruisie trek is nie moeite werd nie. tel hulle ook by om te wen vir mense wat klaar dood en die mense wat nie wil stem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.