Parlement bêre hoogste rat vir laaste week

Argieffoto

Die parlement is op volle vaart in die laaste sittingsweek van die jaar, met verskeie belangrike wetsontwerpe en oorsigverslae op die agenda – wat ‘n groot invloed op die lewens van gewone Suid-Afrikaners gaan hê.

Die paneel wat die Noordwes-provinsie bestuur nadat die provinsiale regering onder oudpremier Supra Mahumapelo ineengestort het, sal Dinsdagoggend terugvoer oor hul vordering gee.

Voorts dien ‘n belangrike verslag oor die leesvermoë van Suid-Afrikaanse skoolkinders voor die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys. Die kwessie is ‘n groot kopseer in die plaaslike onderwysstelsel.

Verskeie dissiplinêre sake teen parlementslede wat in parlementêre debatte deur die voorsittende beamptes buite orde gereël is, kom ook Dinsdag aan die bod in ‘n belangwekkende vergadering van die gekose komitee oor die magte en voorregte van die parlement.

Die laaste belangrike vergadering Dinsdag is die van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), wat hul ondersoek voortsit na korrupsie en wanbestuur in die departement van water en sanitasie tydens die ampstermyn van minister Nomvula Mokonyane.

Dinsdagmiddag bring die langverwagte debat oor onteiening sonder vergoeding in sowel die Nasionale Vergadering as die Nasionale Raad van Provinsies. Verwag ‘n taamlik demoraliserende spat van vonke hieroor.

Daarna volg die Nasionale Vergadering se debat oor die Wetsontwerp op Eiendomsagente, wat poog om groter swart verteenwoordiging in die beroep te verseker.

Die Wetsontwerp op Tradisionele Besnydenis is ‘n verdere poging om hierdie gewoonte, wat jaarliks soveel lewens eis, tot groter sindelikheid en veiligheid te reguleer.

Wysigings aan die Wet op die Padongelukkefonds poog om die kopsere verwant aan hierdie fonds hok te slaan, terwyl die aanvaarding van die Wetsontwerp op Buitelandse Diens die einde van ‘n sloerdery van byna vyf jaar sal beteken.

Woensdagoggend sit Skoor hul ondersoek na die departement van water en sanitasie voort, terwyl die werkomstandighede van perdejokkies die aandag van die portefeuljekomitee oor arbeid sal geniet.

Baie belangstelling heers vir die portefeuljekomitee oor gesondheid se bespreking oor die heropening van geslote verpleegkolleges sodat meer spesialisopleiding vir verpleegsters kan plaasvind.

Skoor sal Donderdagoggend verder vorder met hul ondersoek na die departement van water en sanitasie, en sal Donderdagmiddag die omstredenhede in die openbare beleggingskorporasie takel.

Donderdagmiddag gaan ‘n belangrike wysiging in die Wet op Burgerlike Verbintenisse aanvaar word wanneer die reg van mense om te weier om burgerlike verbintenisse (amper soos huwelike) tussen mense van dieselfde geslag te behartig, verwyder sal word.

‘n Jaarlikse hoogtepunt sluit Donderdag die parlementêre program af wanneer partye se hoofswepe hul gewoonlik pittige afskeidstoesprake vir die jaar lewer en parlementslede op hul Kersreses vertrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Basjan ·

Deur die jaar geslaap en nou wil hulle alles afhandel wat hulle moes doen terwyl hulle geslaap het.

Johan H. ·

Dog hulle is heeltyd op vakansie,,, as ek die land so kyk!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.